[Luister] Beste nóg, sê ADAM oor nuwe album


ADAM (Foto: Facebook)

ADAM (Foto: Facebook)

Die gewilde sanggroep ADAM het pas hul jongste album, Hoogtevrees, bekendgestel en meen dié album is die groep se beste musiek nóg.

Hugo Ludik, een van die drie lede, het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel die groep het ná vier suksesvolle albums alles wat hulle geleer het in Hoogtevrees ingeploeg.

Die titelsnit van die album is vroeër vanjaar uitgereik en pronk reeds op verskeie trefferparades. Die musiekvideo vir dié liedjie is ook in Augustus bekendgestel.

“Ons uitgangspunt is dat elke album die vorige een moet klop. As die volgende album swakker is, het ons ooreengekom ons sal ophou sing. Ons is besig om as kunstenaars te groei en raak voortdurend beter. Ons skryfstyl raak ook meer volwasse, hoewel daar steeds lekker popliedjies in dié album is.

“Die Engelse kortspeler wat ons einde verlede jaar saam met Daniel Barron uitgereik het, het ons die geleentheid gegee om te eksperimenteer. Afrikaans hoef nie eng te wees nie, ons kan kompeteer met internasionale albums,” vertel Hugo.

Hugo Ludik, Kyle Grant en Reynhardt Hugo (Foto: Facebook)

Hugo Ludik, Kyle Grant en Reynhardt Hugo (Foto: Facebook)

Die groep, waarvan Reynhardt Hugo en Kyle Grant die ander twee lede is, se sterkpunte verskil van mekaar. Hugo meen dit is juis daarom dat die groep suksesvol saamwerk. “Enige groep moet ʼn leier hê. Kyle is die leier wanneer dit by die estetiese goed kom. Ek is in beheer wanneer dit kom die klankaspekte. Ons vul mekaar op dié manier aan.”

Die groep het nie ʼn vaste skryfproses nie, maar pen gewoonlik liedjies neer wanneer die inspirasie oorweldigend is. “Reynhardt het my een aand gebel en gesê hy dink hy het ʼn trefferliedjie, en ek het half twaalf die aand na hom gery en ons het “Kasteel” geskryf. ʼn Mens is nie altyd in die bui vir skryf nie, maar wanneer die inspirasie daar is, dan skryf ons baie.”

Die liedjies in die album vertel van die groep se persoonlike ervarings. “Elke liedjie in die album kom uit ʼn persoonlike ervaring. Daar is egter een liedjie wat Hunter Kennedy geskryf het wat ons saam met Die Heuwels Fantasties sing, wat nie ons ervaring is nie. In die meeste liedjies skryf ons oor goed wat op ons hart is, iets wat ons sien of ʼn melodie wat in die kop opkom,” voeg hy by.

Hugo meen ook dié album maak voorsiening vir ʼn breë gehoor. “Ons album het iets vir almal. Ons het nou die dag sit en dink en besluit selfs al was ons nie in die groep gewees nie, sou ons hierdie soort musiek luister. Ons almal se unieke smake word vermeng en dan maak ons musiek vir ADAM.”

Hoogtevrees is landwyd in musiekwinkels en op iTunes beskikbaar.

Besoek die groep se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Ag en dan is hulle nog manne ook!! Hou van hulle musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.