Chris Else reik opwindende nuwe vrystelling uit

Chris Else. Foto: Verskaf

Chris Else. Foto: Verskaf

Die sanger Chris Else van “Struisbaai” en “Gee My Nog ’n Kans”-faam het onlangs ʼn nuwe vrystelling uitgereik – dié keer ʼn 5-snit-EP wat deur die bekroonde Vaughan Gardiner vervaardig is.

Die 23-jarige Chris is vanjaar op verhoë by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn te sien waar aanhangers die vrystelling van sy splinternuwe album kan verwag. Die sanger het al verhoë met bekende Afrikaanse sangers soos Adam Tas, Ray Dylan en Stef Kruger gedeel.

Chris, wat deesdae ’n inwoner van Struisbaai in die Overberg-omgewing van die Wes-Kaap is, het vertel hy het sy voorliefde vir musiek by sy pa geërf. Hoewel sy pa oorlede is, leef die klanke en invloede van sangers soos Neil Diamond, Elvis Presley en Bles Bridges nog voort in sy lewe omdat dié gesin altyd na hierdie sangers se musiek geluister het.

Sy debuutalbum, Gee My Nog ’n Kans, is twee jaar gelede uitgereik en goed ontvang. Hierdie album bestaan uit ballades en ander lekker musiek soos die snitte “Gee My Nog ’n Kans”, “Struisbaai” en Lucas Maree se “Droomvrou”.

Die bekendstelling van sy EP is net betyds vir Chris se optredes by vanjaar se KKNK.

Gehore kan verwag om sy eerste radiosnit vanaf hierdie album, Gebreekte Glas, geskryf deur Christoff Kotze, by die KKNK te hoor. Christoff is ook verantwoordelik vir die liriek van nog ’n snit op die album, naamlik “Grens van Liefde”. Roux Cloete het die liedjie “Sporespesiaal vir die album geskryf. Chris spog ook met sy weergawe van die liedjies “I Am I Said” van Neil Diamond en Bruce Springsteen se “I’m on Fire”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.