Luister: ‘Ek wil net uniek wees,’ sê Irene-Louise van Wyk


Irene-Louise van Wyk. Foto: Facebook via Irene-Louise van Wyk

Irene-Louise van Wyk. Foto: Facebook via Irene-Louise van Wyk

Die sanger Irene-Louise van Wyk volg nou wel in die voetspore van haar bekende ouers, Louis en Irene van Wyk, maar sy wil haar unieke styl in haar musiek weerspieël.

Sy het laas jaar groot sukses bereik met haar liedjie “Jy speel ʼn game met my” saam met Elvis se Seun. Vanjaar is sy terug op die musiektoneel met nuwe musiek en beplan om aanhangers aan die dans te kry met haar nuwe CD, Meer as woorde.

Irene-Louise vertel hoewel dié eerste enkelsnit, “Vergeet van my”, anders is as haar vorige musiek, behou dit die dansklank wat haar kenmerk. “Dis ʼn heel nuwe klank en ek is baie opgewonde om dit met my aanhangers te deel. Die liedjie het ʼn internasionale klank en die reaksie wat ek sover van mense kry, is baie positief,” het sy gesê.

Hoewel die sanger strewe na uniekheid, vertel sy die Amerikaanse sanger Megan Trainor het ʼn groot invloed op haar styl. “Ek is mal oor haar musiek, haar handelsmerk en hoe sy op die verhoog voorkom,” het sy vertel. “ʼn Groot deel daarvan is omdat sy so anders as ander sangers is. Ek beskou myself ook as anders in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Toe ek begin skryf het aan my nuwe musiek, het ek en Bouwer Bosch, wat saam met my die liedjie geskryf het, haar musiek as verwysing gebruik.”

Irene sing ook ʼn duet saam met haar ma op die CD danksy nuwe tegnologie. Haar ma, die bekende sanger Irene van Wyk, is in 2008 in ʼn motorongeluk dood. “Ná sewe jaar kon ek die geleentheid kry om ʼn liedjie saam met my ma op te neem weens nuwe tegnologie. Dit was vir my so ’n voorreg en dit is beslis een van my gunstelingliedjies op die album. Ons het niks verander aan my ma se stem nie, en net myne oor Nádine s’n in hul destydse duet opgeneem.”

Meer as woorde is binnekort in musiekwinkels en kan op iTunes afgelaai word. Aanhangers kan ook uitsien na ʼn duet saam met Nianell.

Besoek Irene se Facebook– en Twitter-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannelie ·

Sal dit baie graag wil hoor, haar ma het so mooi gesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.