Luister: Polisiekar terug met vollengte album

Selfmedikasie_final-cover

Selfmedikasie.

Die lang gewag vir ʼn nuwe vollengte album van die Afrikaanse rockgroep F*k*fpolisiekar is uiteindelik verby. Selfmedikasie, die groep se derde album, is vroeër dié maand uitgereik.

Hoewel dit die groep se eerste vollengte album in 11 jaar is wat die klankgolwe tref, het die groep nooit regtig ophou musiek maak nie, vertel Wynand Myburgh, baskitaarspeler en bestuurder van die groep.

“In 2008 het ons ʼn kort album uitgereik met die naam Antibiotika, en van toe af tot nou het ons ook twee enkelsnitte opgeneem – “Paranoia” en “Dagdronk”. Baie mense is nie bewus daarvan nie, maar al speel ons baie min, speel ons nog steeds 20 tot 24 vertonings per jaar,” vertel hy.

“Dis nie asof ons vir 11 jaar nie regtig met mekaar gepraat het nie, of nie as Polisiekar saam was nie, maar om ʼn vollengte album te skryf moes ons weer ʼn bietjie meer as gewoonlik kommunikeer met mekaar en gesels oor hoe ons dink oor goed. Ons moes so ʼn bietjie dieper krap.”

Hy sê die groep het in 2006 besluit om ʼn breuk te neem. “In daai stadium het ons reeds van 2003 af baie gespeel en getoer. Ons hele lewe het gesentreer rondom die projek. In 2006 het alles maar net met ons opgevang – ons was moeg en ons het ons toekoms in die groep begin bevraagteken, want niemand het geld gehad nie.”

Dit was ook die jaar waarin die tromspeler, Jaco S. Venter, uit ʼn bewegende voertuig gespring en onder meer sy arm gebreek het. “Dit was ʼn week voor ons begin opneem het aan Swanesang. Dit het baie druk op ons geplaas.”

Skarebefondsingsveldtog

Myburgh sê die idee vir die nuwe album het redelik spontaan onstaan. “Ek dink die feit dat ons ʼn skarebefondsingsveldtog van stapel gestuur het, het baie gehelp om die momentum te behou.”

Die groep het in Mei vanjaar geskiedenis gemaak toe hulle deur die Thundafund-skarebefondsingsveldtog binne slegs nege dae R1 miljoen ingesamel het. “Toe weet ons, oukei, ons het nou die geld, nou moet ons werk. Dit is iets wat ons deur die proses aan die gang gehou het.”

Hy sê daar is verskeie redes waarom hulle die skarebefondsingsveldtog op die been gebring het om Selfmedikasie uit te bring. “Ons het in 2016 ʼn klubtoer gedoen en dit was uitverkoop vir die eerste keer in ons lewens. Daar het ons agtergekom daar is ernstige belangstelling vir ʼn nuwe album.

“Buiten vir die feit dat ons graag musiek wil maak en dat ons glo daar is mense daar buite wat graag ons musiek wil hoor, was ons bekommerd oor hoe moeilik dit is om ʼn vollengte album te skryf én om almal bymekaar te kry. Ons was ook onseker oor die kondisie van die musiekbedryf – hoe maak ons die geld terug wat ons bestee om die album aanmekaar te sit?”

Wynand sê dat negatiewe kommentaar oor die veldtog hulle nie gepla het nie. “Dit is goed as daar liefde en haat is oor ʼn ding – dit hou die gesprek aan die gang,” lag hy.

“Ek dink nie mense verstaan presies hoe dit werk nie. Mense wat negatiewe kommentaar lewer, raak natuurlik nie deel van die veldtog nie. Ons veldtog was gebaseer op die konsep van ʼn aanlynwinkel, met die aansporingsbonus dat daar ʼn album gaan kom,” verduidelik hy.

“Almal wat geld gegee het, het dus iets in ruil daarvoor gekry. Een ou het selfs ʼn hotelkamer-vertoning gekoop vir R50 000. Ons het goed aangebied wat nooit voorheen beskikbaar was nie en ook nooit weer sal wees nie. Mense het gevoel hulle wil deel raak daarvan en hulle wil die album hê, maar dit is nie asof hulle vir ons geld gee nie, hulle koop iets.”

Fokofpolisiekar.

Foto: André Badenhorst

Oorweldigende reaksie

Sedert die album op 3 Oktober uitgereik is, gons die sosiale netwerke behoorlik. “Ons het die album ʼn maand gelede al digitaal uitgestuur vir die 1 500 mense wat die album deur die skarebefondsingsveldtog aangekoop het, en die reaksie is ongelooflik positief,” vertel Francois van Coke, hoofsanger vir die groep.

“Daar is mense wat gesê het hulle was bang dit gaan klink soos ons ander projekte, maar ek dink ons het iets gemaak wat eg is aan Polisiekar vir 2017,” sê hy. Van Coke het sedert 2010 vir die groep Van Coke Kartel gespeel, terwyl ander lede van die groep ook ander groepe gevorm het. Hunter Kennedy, kitaarspeler, het deel gevorm van Die Heuwels Fantasties terwyl Venter saam met Aking gespeel het.

“Ons aanhangers is mal daaroor en dit is vir ons die belangrikste. Dit is hoe ons nog altyd Polisiekar benader het deur die jare. In die eerste plek was dit vir ons belangrik om iets te maak waarvan ons gaan hou, en wat eerlik en opreg is met wie ons is nou en ek dink ons het dit reggekry. Van die begin af is die liedjies vir ons en ons naaste vriende geskryf en dan het ander mense gelukkig aanklank gevind daarby,” sê Van Coke.

Polisiekar-klank

Kennedy, wat hoofsaaklik die lirieke vir die album geskryf het, sê die groep het lank gesels oor hoe hulle wou hê die album moet klink. “Ons het besef die enigste manier hoe ons self van die musiek sal hou, is as ons teruggaan na die tyd toe ons dieselfde musiek geluister het. Ek persoonlik hou van die grunge alternative-klank, so dit was vir my ʼn logiese stap. Ek het gehoor iemand sê die nuwe album is nostalgies, maar ek dink dit was nog altyd nostalgies.”

Van Coke beaam dit. “Ons het definitief gedink aan hoe ons geklink het in die verlede, so die punk-rock-invloed is definitief nog daar. Mense sê dit klink soos ʼn mengsel van alles wat ons voorheen en tussenin gedoen het.”

Volg die manne se Facebook-blad of besoek die webwerf vir meer inligting oor opkomende optredes en die aanlynwinkel.

Selfmedikasie is aanlyn beskikbaar en by alle goeie musiekhandelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jon ·

Dan hoef jy gelukkig nie te luister nie, die backers en fans wat die album laat gebeur het, is meer as genoeg. Gaan luister maar jou Steve en Juanita. Regte muso fans sal hul gaan support.FPK for ever!

Reinhardt ·

Jong, as ek nie van sekere musiek hou nie het ek hierdie asemrowende tegniek ontdek wat my help met my ellende. Dit werk so: jy luister eenvoudig nie na dit nie. Werk elke liewe keer! Jy moet dit beslis probeer!

Jon ·

KAN NIE WAG vir die CD launch Sondagaand nie!!! Keep it up boys!

Aanhanger ·

Al hou mense nie van FPK nie vorm hul n belangrike deel van alternatiewe Afrikaanse kuktuur, en die lirieke spreek kwessies aan wat jonger generasies elke dag ervaar. So tussen die vloekwoorde deur slaan hul telke male die spyker op die kop, en die feit dat hul binne so kort tydjie daardie hoeveelheid geld gemaak het wys net hoe akkuraat hul daardie spyker slaan.

Hul is verseker nie almal se koppie tee nie, maar ek daag almal uit om bietjie te luister na die woorde van liedjies soos Ek Skyn, Antibiotika, Brand Suid Afrika en Die illusie van veiligheid en nou Parkie Bank op die Selfmedikasie album.

Eish ·

Wat is die alternatiewe Afrikaanse kultuur waarna jy verwys? Wikipedia omskryf die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging as: “n Beweging wat in die 1980’s in SA ontstaan het. Dit het weggebreek van die bestaande Afrikaanse musiekstyle wat dit vooraf gegaan het, met skerp maatskaplike kommentaar op die apartheidsregering.

Die beweging het n hoogtepunt bereik met die landswye voëlvry veldtog en het bygedra tot n ontploffing in Afrikaanse populêre musiek in die 1990’s en sou die weg baan vir hoofstroom Afrikaanse rock.

Van die belangrikste kunstenaars in die beweging was Bernoldus Niemand, Johannes Kerkorrel en die gereformeerde blues band asook Koos Kombuis.”

Dus, is my vrae as volg:
Wat is alternatiewe Afrikaans vandag, aangesien die ontstaansmotivering van die beweging nie meer bestaan nie. (Apartheidsregering)
Die liedjie se woorde wat aangehaal word in een van die kommentare klink na heimwee na n situasie tydens apartheid en nie blydskap oor die huidige bestel nie.
Is die alternatiewe Afrikaanse kultuur waarna u verwys, liefhebbers van n genre, Afrikaanse Rock,
wat deur die gemelde kunstenaars in definisie genoem, tot stand gebring is, of verwys u na n nuwe alternatief teen die huidige politieke bestel?
Het die groep, FPK, n nuwe musiekstyl, soos die beweging wat in die 80′ s tot stand gekom het gedoen het, tot stand gebring en wat word dit genoem?

Boerseun ·

Geld is nie meer so maklik bekombaar nie, vra die average Joe

ertjie ·

“…wat maak ons nog hier? Hierdie plek is nie ons sin nie…. Huis is waar jou mense is, my mense het nie tuisland nie…” – FPK

Riaan ·

Super happy Polisiekar is terug!! Die nuwe album is regtig goed. Die lirieke is briljant, soos gewoonlik. Kan nie wag vir die show by Dozi se plaas nie, het klaar tickets. Ek sal definitef die band back as hul weer ‘n nuwe album met crowdfunding wil doen. Lank lewe FKP!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.