In my oë- Glanz

In my oëIn 2009 het die musiekbedryf vir die eerste keer kennis geneem van Arri Opperman toe hy vir Huisgenoot Tempo se liedjieskryfkompetisie ingeskryf het.
Intussen het hy Andriëtte se trefferliedjie Dink aan my geskryf en ‘n solo-album, Deurskynend, uitgereik. Nou het hy egter met Samantha Leonard saamgespan en die sangpaar Glanz (ja, dit word met ‘n Z gespel) gevorm. Hul eerste album, In my oë, is pas vrygestel.
Arri en Samantha het elke snit op die album self geskryf. Alles en meer is die eerste snit op die album, en hierop kom ‘n mens agter dat dié album op die jonger luisteraar gemik is. Dit is egter glad nie ‘n slegte komposisie nie. ‘n Hartjie vir jou sal byval vind by verliefde tieners, en ‘n mens nie wat enigiemand anders daarvan gaan dink nie. Die titelsnit is die eerste treffer, en is reeds besig om heelwat radiolugtyd te kry. Dit behoort binnekort op die meeste trefferslyste te wees. Tot dusver was daar niks anders as snitte wat daarop gemik is om die dansvloere vol te kry nie, maar Jy was daar is ‘n pragtige, rustiger snit wat ook trefferpotensiaal het. Arri en Samantha sing egter nie net in Afrikaans nie; I’m on my way sal by ‘n groter gehoor byval vind as baie ander snitte op die album. Nog ‘n moontlike treffer vanaf die album is ‘n Dag sonder jou. Toe jy omdraai is dalk een van die beste snitte vanaf die album. After all is nog ‘n goeie Engelse komposisie met trefferpotensiaal. Hou my vas sal hopelik een van die treffers vanaf die album wees. Net hier by my is nog ‘n snit wat die dansvloere sal vol kry en veral by jonger luisteraars byval sal vind. Nog ‘n snit waarvan dieselfde gesê kan word, is My liefie, die tweede laaste Afrikaanse snit. Om jou is maar net die tweede rustige snit op die album, en ‘n mens wonder of dit oor die radio gehoor sal word. Die laaste snit op die album Give me forever, is nog ‘n goeie oorspronklike Engelse komposisie.
Dit is goed dat Arri en Samantha die versoeking weerstaan het om ‘n album te maak waarop enige bekende snitte ingesluit is, en met niks anders as oorspronklike komposisies vorendag gekom het nie. Dit beteken dat hulle hul musiek ernstig opneem en bereid is om oorspronklikheid voorop te stel. Die vraag is egter net hoe groot die gehoor is by wie hul musiek byval sal vind. Die meeste snitte is daarop gemik om ‘n partytjie aan die gang te hou, en dalk sal ‘n mens dit ontgoei namate jy ouer word. Hoe ook al, dit is een van die beter kommersiële albums wat die laaste tyd verskyn het, en dit behoort meer as twee of drie treffers op te lewer.

https://www.youtube.com/watch?v=ZIjVQjNCX9o

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.