[Resensie] Jackson het wenresep met ‘In duet met ons legendes’

manie-jackson-in-duet-met-ons-legendes

Manie Jackson se nuwe album “In duet met ons legendes”. Foto: Pietercloete.com

Sedert sy gelyknamige album in 2010 verskyn het, het Manie Jackson een van ons land se gewildste kunstenaars geword.

Nadat hy aanvanklik hoofsaaklik op kommersiële Afrikaanse musiek gekonsentreer het, het hy die afgelope paar jaar besluit om ook iets anders te doen. Hy het groot sukses met sy albums Tydlose treffers en Dankie Heer behaal wat spog met onderskeidelik groot treffers van weleer en Christelike musiek. Nou is hy terug met nog ’n album wat as’t ware as ’n konsep beskou kan word; dit bevat hoofsaaklik duette saam met ’n aantal van ons land se gewildste kunstenaars.

Hoewel die titel van die album In duet met ons legendes is, het Manie ook vier solo-snitte ingesluit, en minstens drie daarvan is van die beste liedjies wat hy tot dusver opgeneem het. ’n Mens kom dadelik agter dat Manie met die musiek van plaaslike kunstenaars grootgeword het as jy na die liriek van die eerste snit, “Legendevure”, luister. Die tweede snit is een van die hoogtepunte van die album, en dit móét ’n enkelsnit word.

Pieter Krugel het “Laat dit reën” geskryf, en dit het die eerste 26 in die eerste Afri-Visie-kompetisie op kykNET gehaal. Louis Fivaz het dit vir dié kompetisie opgeneem en dis jammer dat dit nie die eerste tien gehaal het nie. Nogtans het Manie die potensiaal van dié liedjie raakgesien en dit op die album ingesluit. Indien dit genoeg radiolugtyd kry, gaan dit die treffer word wat dit behoort te wees.

Die eerste duet op die album is nog ’n moontlike treffer. “Trein na Pretoria” is ’n liedjie waaroor jy mal is of waarvan jy niks hou nie. Nogtans het dit ’n tydlose treffer geword, en dit is in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit. Manie sing dit saam met Frans en Anita Briel, die kinders van oom Frans en tant Sannie Briel wat dit oorspronklik gesing het.

Bles Bridges was die een kunstenaar wat die grootste invloed op Manie gehad het, en hy het nou nog kontak met Bles se familie. Daarom is dit nie ’n verrassing om een van Bles se liedjies op hierdie album te sien nie. Manie se keuse was Bles se eerste groot Engelse treffer, “I’m the eagle, you’re the wind”, en Bles en Manie se stemme is deur middel van tegnologie saamgevoeg.

Dit was seker nie maklik om ’n liedjie te kies wat hy en Tommy Dell saam kon sing nie, omdat Tommy op sy grootste treffers gepraat eerder as gesing het. Die een wat egter op dié album voorkom, is Don Gibson se bekende treffer “I can’t stop loving you”, wat ook ’n treffer vir Ray Charles was.

Joanna Field het hoofsaaklik sukses met Afrikaanse musiek behaal, maar sy het ’n baie groot treffer met “Don’t fly too high” gehad. Baie mense sal bly wees om te hoor dat Manie dit saam met haar sing.

Die volgende snit is nog ’n hoogtepunt. Kupido is vroeër vanjaar oorlede en Manie het hulde aan hom gebring deur sy pragtige maar baie hartseer komposisie “Speelgoed” op te neem. Thys die Bosveldklong het dit ook op sy album Op n ernstige noot ingesluit. Hopelik sal Manie se weergawe ’n treffer word; nie dat dit beter as dié van Thys is nie, maar omdat Thys se weergawe nog nie eintlik radiolugtyd gekry het nie.

Dennis East is een van daardie kunstenaars vir wie jy niks van die musiekbedryf kan vertel nie omdat hy al byna alles gedoen het. “A million drums” was een van sy groot treffers en ’n goeie keuse vir hierdie album. Die titelsnit van Manuel Escorcio se album Vrygesel is nog ’n hoogtepunt; dit was nog altyd een van die beste liedjies wat Manuel opgeneem het, en dis goed om dit weer te hoor. Bobby Angel het eers laat in sy lewe sukses as country-sanger behaal, maar “Green-eyed angel” is spesifiek vir hom uit Nashville geskryf en weer eens was dit ’n goeie keuse.

Min Shaw het seker die afgelope 40 jaar byna niks anders as Christelike musiek gesing nie; daarom is dit lekker om te hoor dat Manie een van haar kommersiële treffers, “Ek is baie lief vir jou”, saam met haar sing. Gé Korsten is die tweede en laaste kunstenaar wat reeds oorlede is, maar wie se stem deur middel van tegnologie by dié van Manie gevoeg is. “God sy met u”, waarop hul stemme saam gehoor kan word, is een van die hoogtepunte op die album.

Manie behaal reeds groot sukses met hierdie album, en dis maklik om te verstaan hoekom. Dit was natuurlik onmoontlik om iets oor elke snit te sê, maar dit is genoeg om te sê dat elke duetsnit vir baie mense herinneringe sal terugbring en dat die solo-snitte treffers behoort te word. Dit is een van Manie se beste albums tot dusver en kan baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Baie geluk Manier – ‘n mooi man wat ‘n mooi kombinasie CD uitreik. Ek hoop Hy gaan baie suksesvol wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.