Resensie: ‘My grootwordliedjies (Ons volksbesit)’ – Anton Botha

Anton-Botha-My-Grootword-Liedjies

My Grootword-Liedjies van Anton Botha. Foto: Facebook.

Net voordat die oplewing in die gewildheid van Afrikaanse musiek omtrent tien jaar gelede plaasgevind het, het Jacques de Coning die album Afrikaans my trots vrygestel. Op hierdie album het hy verskeie keurspele van bekende Afrikaanse liedjies, asook sy eie komposisies, opgeneem en groot sukses daarmee behaal.

Nou het Anton Botha dieselfde ding gedoen met sy album My grootwordliedjies (Ons volksbesit). Anton is ’n ervare musikant en sanger en het al vier albums vrygstel. Met sy vyfde album keer hy terug na wat hy as die fondament van sy musiek beskou; liedjies waarmee hy grootgeword het en  vandag nog gewild is.

Met die eerste keurspel, Verkenners-medley, kom jy al agter dat Anton moeite gedoen het met hierdie album. Dié keurspel bestaan uit volksliedjies soos “Aanstap rooies”, “Hier’s ek weer”, “Tannie met die rooi rokkie”, “Ver in die wêreld Kitty” en “Dis julle wat die wind”. As dit jou nie laat saamsing nie, weet ’n mens darem nie.

Plaas-medley sluit hierby aan. Hierop is liedjies soos “Hansie Slim”, “Bosveldbul”, “Hoe ry die boere”, “Vanaand gaan die volkies koring sny”, “Hoe ry die trein” en “Oom Jan sny koring”; eintlik natuurlik bekend as “Dorstyd”.

Anton bring op hierdie album ook hulde aan vyf legendes van Afrikaanse musiek. Die eerste een is Laurika Rauch, en die liedjies wat op hierdie keurspel voorkom, is onder meer “Ek het ’n huisie by die see”, “Op Blouberg se strand”, “Die gang” en “Stuur groete aan Mannetjies Roux”. Op “Die perd-medley” sing hy ’n aantal liedjies oor perde, soos “Tant Hessie se wit perd”, “My oupa het ’n perd”, “Ou ryperd” en “Blink vosperd”.

Die tweede kunstenaar aan wie Anton hulde bring, is Worsie Visser. Ongelukkig is “Boesmanland” die enigste van die drie liedjies in hierdie keurspel wat ’n oorspronklike Afrikaanse komposisie is. Die ander twee is “Gee die hond wind” en “Gee hom gas”, die Afrikaanse weergawes van onderskeidelik “Going back west” van Boney M en “Gimme hope Joanna” van Eddy Grant.

Hartsnaar-medley bestaan uit twee liedjies, naamlik “Kinders van die wind” en “Jantjie”, wat onderskeidelik treffers vir Laurika Rauch en Sonja Herholdt was. Daar is drie liedjies wat Anton in hul geheel op die album sing. Die eerste een is die lekker saamsingliedjie “Gat in die grond”. Anton is die eerste kunstenaar sedert Francois Hayes in die 1980’s wat dit opneem. Miskien word dit die treffer van dié album. Die volgende snit is “Ek sou kon doen met ’n miljoen”, wat met twee ritmes gesing word. Dit is nie so deurmekaar soos wat dit klink nie; veral die reggae-agtige versgedeelte klink baie goed. Die rock-kitaar op “Diere en hul maniere” klink baie goed. Hierdie keurspel bestaan onder meer uit “Dapper muis”, “Eendjies eendjies”, “Die padda wou gaan opsit” en “Die gezoem van die bye”.

Die volgende kunstenaar aan wie Anton hulde bring, is Anton Goosen. Op hiedie keurspel kan liedjies soos “Geelperskereën”, “Klein bietjie wyn”, “Hanoverstraat” en “My Stellenbosse nonnatjie” gehoor word.  Met Trots SA-medley keer hy terug na bekende volksliedjies soos “Vat jou goed en trek Ferreira”, “Solank as die rietjie”, “Daar kom die Alibama”, “Saai die waatlemoen” en “Môre Oompie môre Tannie”.

Die laaste liedjie wat in sy geheel op die album voorkom, is Anton Goosen se “Blommetjie gedenk aan my”, en weer eens het Anton ’n goeie opname daarvan gemaak. Die Steve Hofmeyr-huldeblyk bestaan uit twee van Steve se grootste treffers, naamlik “Agter elke man” en “Laaste lag”. Op “’n Lekker wals” speel Ricus Nel konsertina; nie net gaan dit jou aan die saamsing kry nie, die dansvloere sal ook gou vol word as hierdie een gespeel word.

Die laaste kunstenaar van wie Anton ’n keurspel opgeneem het, is Koos Kombuis; die liedjies wat hierop voorkom, is “Huisie by die see”, “Kytie”, “Johnny is nie dood nie”, “Lente in die Boland” (op die wysie van Scaffold se treffer “Lily the pink”) en “Lisa se klavier”. Die refrein van “Johnny is nie dood nie” bevat ’n vloekwoord, maar gelukkig sing Anton iets anders in die plek daarvan. Die deel genoem Langpad-wandelaar is rustiger as die res van die album; dit bevat liedjies soos “Al lê die berge nog so blou”, “Skipskop”, “Tussen treine” en “Voshaarnooi”.

Ek moet eerlik wees; ek was aanvanklik nie seker wat ek van hiedie album sou dink nie. Gewoonlik is albums wat hoofsaaklik of uitsluitlik uit keurspele bestaan, nie juis die moeite werd nie; dit is asof die betrokke kunstenaar(s) se idees opgeraak het en hulle niks beters gehad het om te doen nie.  Hierdie album het my egter aangenaam verras. Die musiekverwerkings is besonder goed en Anton bewys hierop dat hy ’n uiters talentvolle musikant is. Hierdie album gaan jou beslis laat saamsing!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rochelle Nieuwenhuizen ·

Ek bied ASG ( Afrikaans Sonder Grense ) aan hier in Bundaberg, Qld, Australie. Dit sal fantasties wees as julle met my die musiek van Anton Botha kan deel. ASG is ‘n volunteer werkie om Afrikaanse Musiek Lewendig te hou hier in die Buiteland (Australie) Hoop om van julle te hoor. Dankie by voorbaat. Groete uit Bundaberg Rochelle N.S. Maroela Media se Nuusberigte kom handig te pas vir ASG. Ons se terwyl ons Afrikaans Praat sal ons Afrikaans Lees en Luister!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.