Resensie: Opge-rhaap – Jan Rhaap

Jan-Rhaap

Jan Rhaap gesels oor sy jongste album. Foto: Verskaf.

Met sy eerste album, Laaste kans, het Werner Burger, wat onder die naam Jan Rhaap sing, hom as ’n talentvolle sanger en liedjieskrywer gevestig. “Grootword in die onderdorp”, ʼn snit waarin hy sing van die omgewing waarin hy sy kinderjare deurgebring het, het heelwat radiolugtyd gekry.

Nou is hy terug met sy nuwe album, opge-rhaap (’n slim woordspeling op sy verhoognaam), en die vraag is nou of hy dalk nog meer sukses kan behaal. Met die eerste snit, “Jesus se tuin”, bewys hy dat hy uitstaan bo die gemiddelde Afrikaanse kunstenaar. Hierin sing hy van die heel belangrikste ding wat ’n kind in sy ouerhuis kan kry, naamlik liefde.

“Kaalvoet-serenade” is ’n komposisie van Gerhard Steyn, en dit is ’n snit met trefferpotensiaal.

Tussen musiekmaak deur boer Jan op hul familieplaas in die Noord-Kaap, en in sy eie komposisie “Kom saam met my” sing hy hiervan. Dit gaan as die eerste enkelsnit op die album bemark word en ’n musiekvideo daarvan word binnekort uitgereik.

“Ou plaaspad” is nog ’n komposisie van Gerhard Steyn, en soos wat jy Jan leer ken, besef jy dat hy dit net so wel self kon geskryf het. Roux Cloete het homself die laaste tyd as sanger en liedjieskrywer gevestig. Hy en sy vrou Christi het verlede jaar ’n groot treffer met “Alles naby my” gehad, en nou het Roux die volgende snit, “Nog ’n uur” geskryf. Een besondere kenmerk van hierdie snit is die saxofoon, wat deur Karin Groenewald bespeel word. Gerhard Steyn het “Hart se mure” tien jaar gelede op sy album Sestien songs opgeneem en nou het Jan dit ook ingesluit. Miskien word dit weer ’n treffer.

Jan beskou Koos Kombuis as een van sy rolmodelle en hy het ’n keurspel van sy treffers ingesluit. Hierdie keurspel bestaan uit “Lisa se klavier”, “Bicycle sonder slot”, “Lalie” en “Huisie by die see”.

“As jy inval” is ’n komposisie van Dewald Wasserfall, en hoewel Dewald dit al voorheen opgeneem het, behoort Jan ’n treffer met sy weergawe te hê. In “Oogknip uit die hemel” sing hy van ’n vriend wat op ’n jong ouderdom oorlede is.

Stef Kruger het “Tussen die lyne” geskryf en Dozi het ’n treffer daarmee gehad. Nog een van Jan se oorspronklike komposisies is “Lappop” waarin hy sing van ’n verhouding wat nie uitgewerk het nie. “Amsterdam se strate” is nog een van Stef Kruger se komposisies wat ’n treffer kan word. Die laaste snit op die album, “Suzie”, is ook ’n komposisie van Gerhard Steyn; dit is weer eens ’n lekker snit wat ’n treffer kan word.

Dit gebeur deesdae baie selde dat ’n mens ’n CD van voor tot agter kan deur luister sonder om ’n snit oor te slaan. Hier is egter een CD van wie ’n mens dit kan sê. Jan se eie komposisies is deur werklike gebeure geïnspireer en in daardie opsig is Jan seker een van die eerlikste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf. Daarby word hy geïnspireer deur ’n aantal goeie kunstenaars wat al diep spore in die mark getrap het. Jy kan gerus hierdie CD by jou versameling voeg as jy hou van musiek met integriteit; daar is ongelukkig deesdae te min daarvan!

  • Luister gerus ook ‘n Maroela Media se onderhoud met Jan Rhaap oor sy jongste album.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.