[WEN] Skreeusnaakse ‘Doringrosie’-pantomime

Doringrosie Charlize Berg

Charlize Berg as Doringrosie. Foto: Verskaf.

Die nuwe Afrikaanse pantomime, Doringrosie, is sedert 4 Mei op die planke by die Theatre of Marcellus by die Emperors Palace in Kempton Park te sien.

Op die vooraand van haar 18de verjaardag prik die pragtige prinses Aurora haar vinger op ʼn spinwiel, en verval in ʼn betowerde sluimerslaap. Gaan sy vir altyd slaap, of gaan die soen van ʼn hubare prins haar wakker maak?

Die meeste mense ken natuurlik die storie van “Die Slapende Skone” ofte wel “Doringrosie”, maar dié teaterproduksie is “ʼn magiese sprokiesverhaal wat voor jou oë afspeel, geskik vir oud en jonk”, sê komediant en akteur, Hannes Brummer. Hy speel die rol van die feetjie Kruidjie-Roer-My-Nie en is ook die medeteksskrywer van die produksie.

“Dis regtig iets vir almal,” sê Hannes. “Die wonderlike ding van pantomime as genre is die feit dat dit so baie ander genres omvat – daar’s aktuele volwasse humor en woordspeling, natuurlik slim weggesteek vir die kleiner oortjies, fisieke humor, musiek, sang, dans, romanse, drama en baie skouspel.”

Die onlangse Ghoema-toekenningwenner Charlize Berg vertolk die hoofrol van Doringrosie, saam met akteur Marno van der Merwe as prins Aalwyn en Bianca le Grange as die bose Belladonna. Bianca het vir Amor Vittone in dié rol vervang nadat sy vroeër vanjaar haar voet beseer het in ʼn springmat-ongeluk.

Doringrosie Fee

Tiaan Rautenbach en Hannes Brummer speel onderskeidelik die rolle van Feetjie Vygie Fynbos en Feetjie Kruidjie-Roer-My-Nie. Foto: Verskaf.

Tiaan Rautenbach, gesoute Barnyard-akteur en sanger, vertolk die rol van feetjie Vygie Fynbos. “Daar is min dinge so vervullend as om in ʼn werklik snaakse teks te speel saam met iemand wat komedie op dieselfde manier as jy benader. Dis heeltyd speeltyd,” sê hy.

“Die idee van ʼn pantomime is dat dit vir kinders sowel as grootmense ewe veel genot kan bied en ek glo ons kry dit vir seker reg,” vertel Tiaan. “Vir die jongklomp is daar die magiese sprokie wat voor hulle oë afspeel met kleurvolle karakters wat sing en dans, en vir die grootmense is daar die wêreldklas talent en skerp humor. Ek is seker daarvan dat die feetjies jou ten minste ʼn paar keer sal laat skaterlag, al is dit net oor hoe ons lyk in ons rokke. O ja, en ons het ʼn draak!” skerts hy.

Charlize vertel van ʼn oomblik op die verhoog waar sy self nie haar lag vir die stoute feetjies kon hou nie. “Daar is ʼn toneel waar ek ʼn ernstige oomblik met my feetjie-ma’s Kruidjie en Vygie moet deel, en toe ek afkyk, staar ʼn halfgekoude blokkie KitKat-sjokolade my reg in die oë. Tiaan en Hannes het intussen ook die vreemde stuk sjokolade daar sien lê. Kom ons sê net dit was baie moeilik om ons lag in te hou en die toneel deur te voer,” lag sy.

Doringrosie Belladonna

Bianca le Grange as Belladonna. Foto: Verskaf.

Die pantomime is tot 4 Junie te sien en kaartjies is beskikbaar by Computicket.

WEN: Twee lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie wen na die vertoning van Doringrosie op Vrydag 26 Mei by Emperors Palace in Kempton Park. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Wie het vir Amor Vittone vervang as die bose Belladonna? Die kompetisie sluit Maandag 22 Mei. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.