Pendoring kry groot oes inskrywings

Pendoring (Foto: Facebook)

Pendoring (Foto: Facebook)

Dit is vanjaar die derde keer in Pendoring se 21-jarige bestaan dat meer as 400 reklameskeppers hul advertensie vir dié gesogte beeldjie ingeskryf het.

Wilma de Bruin, mediabestuurder, het in ʼn verklaring gesê 444 inskrywings is vanjaar ontvang.

“Veral verblydend is die aantal inskrywings in inheemse Afrika-tale, met Zoeloe-inskrywings wat die septer swaai, gevolg deur Xhosa- en Sotho-inskrywings,” het sy gesê.

Dit was juis om die skepping en bekroning van reklame in inheemse Afrika-tale aan te moedig dat Pendoring besluit het om vanjaar sy deure vir al dié tale oop te gooi om op gelyke voet mee te ding.

Om die kroon te span, het die Afrikaanse inskrywings ʼn rekordjaar beleef. Die groot aantal studente-inskrywings, wat amper verdubbel het, het ook verras.

Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder, het ook gesê sy is verheug oor die groot aantal inskrywings.

Richardt Strydom (Foto: Verskaf)

Richardt Strydom (Foto: Verskaf)

“Dit het alle verwagtinge oortref! Ek glo die oopstel van die toekennings vir al die inheemse tale om op gelyke grondslag mee te ding, het beslis ’n rol gespeel. Bedryfspelers het baie positief op dié stap gereageer, want hulle verstaan die belangrikheid van moedertaalreklame om ʼn bemarkingsboodskap by ʼn bepaalde teikenmark tuis te bring.

“Die reuse-verbruikersmark wat ʼn ander taal as Engels as huistaal praat, sal bemarkers hopelik aanspoor om voortaan sterker op al dié tale in alle bemarkingskommunikasie te fokus,” het sy gesê.

Pendoring se hoogste eerbewyse, die Prestige- en Umpetha-toekenning, wat vanjaar albei ʼn oorsese studiereis van R100 000 behels en die algehele wenners die geleentheid gee om oorsee te gaan leer, was uiteraard veral ook ʼn groot motivering vir skeppendes om in te skryf.

Molefi Thulo, skeppende hoof van Ogilvy Johannesburg, wat vanjaar hoof is van die beoordelaarspaneel, sê die versoek om hoof van die jurie vir Pendoring 2016 te wees, is ʼn ongelooflike eer; nie net omdat Pendoring vasbeslote is om eg Suid-Afrikaanse kreatiwiteit te bevorder nie, maar ook omdat ʼn besondere groot oes inskrywings vanjaar ontvang is – op 444 is dit die meeste inskrywings nóg sedert 2012.

“Die boodskap is dus duidelik: daar is ʼn liefde en blink toekoms vir ons inheemse tale. Wanneer dit kom by die beoordeling van die inskrywings, sal ek op die uitkyk wees na innoverende, inspirerende werk wat werklik die taal verteenwoordig waarin dit geskep is en ook aan die allerhoogste standaarde voldoen,” het hy laat hoor.

Molefi Thulon (Foto: Verskaf)

Molefi Thulon (Foto: Verskaf)

Richardt Strydom, inhoudshoof by Breinstorm Brand Architects, voormalige dosent in grafiese kuns aan Noordwes-Universiteit en spesialisbeoordelaar in die studente-afdeling, sê dit is verblydend om te sien dat studente in groot getalle die geleentheid en uitdaging van veeltaligheid so gretig aangryp.

“Die toekoms van Suid-Afrikaanse reklame lê myns insiens in sy diversiteit en unieke spesialisgehore. Dit is dan ook lekker om te weet dat ons jong skeppendes ons eg Suid-Afrikaanse stories en brand-ervarings in ryke veeltaligheid en eiesoortige beeldmateriaal kan uitdruk. Ek sien baie uit daarna om vanjaar se inskrywings onder oë te kry.”

Die beoordeling vind van 7 tot 9 September by Mediapark in Aucklandpark plaas. Die finaliste word op Vrydag 16 September aangekondig en die wenners op 28 Oktober by die glansryke gala-aand by Vodacom World in Midrand.

Besoek Pendoring se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.