Klaasvakie – Antoinette Kellermann en Wilna Snyman

Snyman en Kellermann reg vir Fugard Teater Verhoog

Die gevierde aktrises, Wilna Snyman en Antoinette Kellermann, is saam te sien as bejaarde vroue in ‘n ouetehuis in die Vlaamse skrywer Laurens de Vos se toneelstuk Klaasvakie (De Zandman) in die Fugard-teater. Nicole Holm is ook te sien in hierdie drama as ‘n eksentrieke verpleegster.

Die toneelstuk is te sien vanaf 24 Oktober tot 5 November in die Fugard-teater in Kaapstad. Dit word opgevoer in Afrikaans met Engelse boskrifte.

In Klaasvakie verwyl die twee vroue hulle tyd in bittere en bitsige kompetisie, maar bowenal probeer hulle die spoke van hul verlede verdryf: Julienne (Kellermann) wat as kind ’n kind moes baar en die welgestelde Albertine (Snyman) se verbysterende opgang te danke aan haar vader se betrokkenheid by ’n politieke skandaal. Die jong Vlaamse dramaturg, Laurens de Vos, ontgin hoe hierdie twee lewens kruis onder die dreigende aanslag van die verlies aan geheue.

Die regie en ontwerp is hanteer deur Marthinus Basson en die produksie is vervaardig deur Hugo Theart. Klaasvakie kom Kaapstad toe na ‘n suksevolle wêreld premiere en uitverkoopte speelvlak by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn. Die produksie vier Wilna Snyman se lewensbydrae tot die Suid-Afrikaanse teater. Hierdie Afrikaanse produksie van De Vos se De Zandman (oorspronklik geskryf in Nederlands) is ontwikkel deur TEATERteater in samewerking met ABSA KKNK, die Afvaardiging van die Vlaamse regering in Suidelike-Afrika, en die Vlaams-Suid-Afrikaanse kultuurstigting.

Klaasvakie word aangebied deur TEATERteater.
Speelvlak datums: 24 Oktober – 5 November 2011
Tyd: 19:30.
(Ook middag vertonings op 29 Oktober en 5 November om 15:00.)
Geen vertonings op Sondae.

Tydsduur: 75 minute, met geen pouse.

Kaartjiepryse: R90 – R120
(Spesiale pryse beskikbaar vir studente, pensioenarisse en groepe deur die Fugard-teater lokket: 021 – 461 4554) en gewone kaartjies deur Computicket www.computicket.co.za.

Die Fugard-teater adres: Caledon Straat (draai uit Buitenkant Straat), Distrik 6, Kaapstad.
Veilige Parkering / Bespreekte sitplekke

Vir meer inligting besoek www.thefugard.com of www.teaterteater.com.

Oor die aktrises

Wilna Snyman is ‘n multi-bekroonde verhoog, TV en film aktrise wat reeds in 1984 ‘n toekenning vir lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse teater van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het. Haar loopbaan strek reeds oor 50 jaar . Gedurende die afgelope dekade het sy die rol van die matriargf, Madel Ter’Blanche in die sepie 7de Laan gespeel en sy is tans te sien in Deon Opperman se TV-drama Hartland. Sy is ook aan die begin van die jaar vereer met ‘n Kanna-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot die Kunste in Suid-Afrika.

Antoinette Kellermann se loopbaan strek reeds oor 35 jaar en sy het reeds verskeie toekennings en vererings ontvang. Sy werk in televisie (insluitend Known Gods, Song vir Katryn en Egoli) en op radio. Sy het haarself onderskei as ‘n doyenne van Suid-Afrikaanse teater en het ook reeds ‘n goue penning vir haar bydrae tot Suid-Afrikaanse teater van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Laasjaar is sy bekroon met 5 toekennings vir haar spel in die eenvrou-vertoning As die broek pas (wat sy ook in Engels as Man to Man opgevoer het), o.a. die Fleur du Cap Toekenning vir Beste speler in ‘n eenpersoonsvertoning, KKNK Kanna vir Beste Aktrise, Aardklop-toekenning vir Beste Aktrise en die kykNET Fiesta Toekenning vir Beste Aktrise. Kellermann is ook bekend vir haar terugkerende rol in Villa Rosa. Sy is ‘n lektor aan die Universiteit van Stellenbosch se dramadepartement.

Nicole Holm word beskou as die voorste aktrise van haar generasie en sy het reeds verskeie toekennings ingepalm (onder andere drie Fleur du Cap nominasie, ‘n Fleur du Cap Toekenning, vir haar rol in Jan en Jorie, en KKNK Kanna vir Beste Vroulike Kunstenaar). Sy ontvang ook ‘n paar jaar gelede die Kanna toekenning as mees inspirerende kunstenaar by KKNK. Sy het ook bekendheid verwerf vir haar rol in die TV-drama Known Gods en het verlede jaar haar verskyning in die M-Net sepie Binnelanders gemaak. Holm is by Aardklop 2010 genomineer as Beste Aktrise vir haar spel in Die Kortstondige raklewe van Anastasia W. Sy was ook genomineer as Beste Aktrise vir dieselfde rol vir die kykNET Fiesta Toekennings. Sy is deeltydse lektrise aan die Universiteit Stellenbosch Drama Departement.

Oor die skrywer

Laurens de Vos is ‘n Vlaamse politikus, akademikus en skrywer. Hy het The Fall of the House of Usher deur Steven Berkoff en A Cock and Bull Story deur Richard Crowe en Richard Zajdlic in Nederlands vertaal. De Vos het ‘n PhD in Geestewetenskap van die Universiteit van Gent. Hy het sy skripsie geskryf oor Antonin Artaud en post-oorlog Engelse drama. Hy het ook al verskeie artikels en boeke gepubliseer oor die werk van skrywers soos Samuel Beckett, Tom Stoppard en Sarah Kane. Hy werk tans as skakelbeampte vir die Vlaamse regering.

Oor die regisseur

Marthinus Basson is een van Suid-Afrika se vooraanstaande teaterregisseurs. Hy werk in alle genres, van drama tot opera. En hy is reeds deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse teater. Hy is reeds 56 keer genomineer as akteur, regisseur en ontwerper en het reeds 32 toekennings ontvang. Hy werk ook internasionaal en het al as regisseur gewerk in onder andere New York, Duitsland en België. In 2009 het hy ook die Beethoven opera, Fidelio, ontwerp en geregisseur in Australië vir Opera Queensland. Sy mees onlangse produksies sluit in die multi-bekroonde produksie As die broek pas (ook in Engels opgevoer as Man to Man) en Die Kortstondige raklewe van Anastasia W deur Marlene van Niekerk. Hy is vir beide hierdie produksie genomineer as regisseur en ontwerper en is met kykNET Fiesta Toekenning bekroon vir sy ontwerp van As die broek pas en die produksie het ook met die louere van Beste Aanbieding weggeloop. Hy is ‘n lektor aan die Universiteit Stellenbosch Drama Departement en Kreatiewe Direkteur van TEATERteater.

Oor TEATERteater

TEATERteater is ’n multi-bekroonde produksiehuis wat gestig is deur Marthinus Basson en Hugo Theart. Hulle is onlangs bekroon met ’n kykNET Fiesta Toekenning vir beste aanbieding vir die eenvrouvertoning As Die Broek Pas. (Die produksie het ook aan Antoinette Kellermann verskeie toekennings as beste aktrise besorg insluitend ’n Fleur du Cap Toekenning.) Die span was ook verantwoordelik vir die kontroversiele Marlene van Niekerk opera-kabaret Die Kortstondige Raklewe Van Anastasia W. Hierdie produksie het onder andere 12 Fiesta Toekennings nominasies ontvang onder andere beste aanbieding en is ook bekroon met die gesogte Aartvark-toekenning en die Smeltkroes-prys by die Aardklop Nasionale Kunstefees. Besoek www.teaterteater.com vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.