Luister: Aardklop: ‘Los asseblief ʼn boodskap’, vra Simoné Nortmann

Los-asseblief-n-boodskap

Foto: Verskaf

Simoné Nortmann, bekend vir haar rol as Irma Humpel in die fliek Vir die voëls, debuteer vanjaar met haar eerste solostuk, Los asseblief ʼn boodskap, by die Aardklop Nasionale Kunstefees.

Die teks handel oor Nina van Zyl, ʼn platsak popster in die laat 90’s. Dit gaan nie baie goed met haar nie. Haar loopbaan het albei voete in die graf en sy sukkel al vir ses jaar om te skryf.

Nina kry ʼn onverwagse oproep van haar eks-kêrel wat sê hy het kanker. Hy nooi haar na ʼn afskeidspartytjie in die Kaap, maar sy is brandarm. Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp. Miskien kan sy Dirk een laaste keer sien, en miskien kan sy ʼn paar konserte hou.

Op elke dorp van haar toer beland Nina in situasies wat haar vooropgestelde idees oor haarself oopkraak. Die karakters wat sy ontmoet, nuut en oud, help haar om te laat gaan van haar verlede van vernedering en selfsugtigheid. In elke toneel word ʼn muur afgebreek: haar narsisme, haar vrees en haar spyt. Aan die einde “maak” sy dit deur die plattelandse Suid-Afrika as ʼn beter persoon. Soort van.

“Dis ʼn baie mooi identiteitsreis vir Nina,” sê Simoné oor haar karakter. “Nina besef die lugkastele wat sy gebou het – die drome, die geld, die aandag en tydskrifvoorblaaie – was alles om ander mense tevrede te stel en nie noodwendig haarself nie. Sy het op geleenthede om liefde te ervaar uitgemis om ʼn droom na te jaag wat haar nie gelukkig maak nie.”

Simoné vertel dit is ʼn ongelooflike ervaring om aan ʼn solostuk te werk. “Dit is ook absoluut vreesaanjaend, maar ek leer soveel van myself in die proses. ʼn Solostuk verg soveel van jou as kunstenaar. Dit is so ʼn groot taak om ʼn wêreld op jou eie vir ʼn gehoor in te kleur, én dan is dit ʼn wêreld waar alles surrealisties en absurd is. Daar is ook soveel tegniese aspekte om te onthou en dis so belangrik om al die elemente saam te bemeester.

“Ek voel nogal die druk,” lag sy.

Los-asseblief-n-boodskap

Simoné Nortmann as Nina van Zyl in ‘Los asseblief ‘n boodskap’. Foto: Verskaf

Die teks is geskryf deur Louis Roux en Ernst Cilliers. “Louis het saam met my drama studeer op Stellenbosch. Ons het kontak verloor totdat hy my genader het vir die rol,” vertel Simoné oor die span wat saam met haar aan die produksie werk. “Maude Sandham is ons regisseuse, en ek kan nie uitgepraat raak oor haar nie. Ek kan nie wag tot die wêreld kan sien waartoe sy in staat is nie.”

Stefan Benade behartig die stelbeligting en ontwerp. “Hy het so ʼn goeie oog vir kitsch uit die 90’s,” skerts Simoné. “En Marius van Wyk het die musiek verwerk. Musiek van groepe soos Pearl Jam en Smashing Pumpkins se woorde word direk vertaal in Afrikaans en die klank is meer soos popmusiek. Die manier hoe Marius die musiek verwerk het sodat dit amper onherkenbaar is, is ongelooflik,” sê sy.

“ʼn Mens wil altyd sê ‘n hele breë spektrum van mense gaan die verhoogstuk geniet, maar ek dink regtig ʼn groot gehoor sal van die stuk hou. Die jongmense sal kan lag vir die absurditeit van hoe hierdie meisie ʼn glansryke lewe probeer lei en die droë komedie is ook iets om na uit te sien,” vertel Simoné. “Die humor is baie skerp en fyn. Omdat dit in die 90’s afspeel, sal mense uit daardie era hulle ook daarmee kan identifiseer.”

Simoné som die stuk op: “Mense sal kan kyk na hoe ons as samelewing popsterre ophemel, maar sodra hulle iets in die openbare oog verkeerd doen, los ons hulle net en maak ʼn bespotting van hulle. Ons laat hulle oor aan hulle eie genade. Mense sal ʼn kykie kan kry van wat dit behels om jouself as kunstenaar so bloot te stel aan die publiek, en wat die uiteindelike koste daarvan is,” sê sy.

“Die stuk is diep, treffend en baie vermaaklik.”

Los asseblief ʼn boodskap het ʼn ouderdomsbeperking van 13. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Computicket. Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet ·

Ek sal die show gaan kyk net om hierdie pragtige dame te kan sien, beautiful mens, binne en buite

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.