‘Pieter en die Wolf’ eersdaags op die planke

Gauteng Filharmoniese Orkes

Foto: Verskaf

Die Gautengse Filharmoniese Orkes fokus met sy nuwe aanbieding by die Brooklyn Teater in Pretoria op klassieke vermaak vir die hele gesin.

Die bekende skrywer Philip De Vos se pittige versies vir Pieter en die Wolf asook Karnaval van die Diere word deur akteur Schalk Bezuidenhout voorgedra. Die verhaal van Pieter en die Wolf, toegelig deur komponis Sergei Prokofiev se uitnemende musiek, funksioneer op grondvlak vir die jongspan terwyl dit ook eintlik ’n voorstelling is rondom die Russiese politiek in die 1930’s.

Saint-Saëns se musikale komiese uitbeelding van die diereryk is ’n werk vir twee klaviere en orkes, geskryf in 1886. In hierdie bekende suite gebruik die komponis briljante instrumentale effekte om die musikale prentjies te skets.

Die wolf, uitgebeeld deur drie Franse horings, se bose planne met Pieter, uitgebeeld deur die strykers, word gefnuik. Almal sit skouer aan die wiel om vir Pieter uit die moeilikheid te help. Kan jy die Kat, uitgebeeld deur die klarinet, die Eend, uitgebeeld deur die Hobo, die Voëltjie, uitgebeeld deur die dwarsfluit, die Oupa, uitgebeeld deur die fagot, en die Jagters, uitgebeeld deur die perkussie, uitken?

Vertonings vind plaas op Donderdag 30 Maart 09:00 en 12:00, Vrydag 31 Maart 09:00, Saterdag 1 April 16:00 en Sondag 2 April 11:00.

Bel die teater by 012 460 6033 of klik hier om ʼn bespreking te maak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.