Resensie: Mooi Maria is nog net so mooi

Deur Susan Lombaard

Neels van Jaarsveld is ook in Mooi Maria te sien.

Mooi Maria is die ontroerende verhaal van Maria wat eens mooi was, tot die noodlot toegeslaan het. Of was dit die gevolg van ‘n vloek wat haar pa, ‘n Hanskakie, oor haar uitgespreek het die dag toe sy nie die bossie veldblommetjies by hom wou vat nie? Hoe ook al – vir vyftien jaar lank daarna dra Mooi Maria– wat nou “ou Mooi Maria” geword het – swaar aan haar geheim.

Die verhaal speel af in die jare twintig, in ‘n Afrikanergesin tipies van dié tyd – brandarm ná die Anglo-Boereoorlog, maar nie bang om van voor af te begin en hard te werk nie.

Mooi Maria word uitgebeeld deur twee karakters: Die uiterlike een, ou Mooi Maria van ná die ongeluk, en die innerlike een, wat ná vyftien jaar steeds dieselfde Mooi Maria is. Anthea Thompson en Roeline Daneel, wat die twee karakters van Mooi Maria vertolk, is voortdurend saam op die verhoog, maar kwyt hulle só goed van hul taak dat ‘n mens werklik nie besef die karakter word gelyk deur twee aktrises uitgebeeld nie.

Waldemar Schultz, in die toneelstuk Gert Koei en Mooi Maria se oom, oortuig as ‘n veel ouer karakter uit ‘n ander generasie. Hy maak hom pens en pootjies in sy karakter tuis. Tien uit tien vir hom.

Ma Let word vertolk deur Isadora Verwey wat, soos altyd, die gehoor aan haar lippe laat hang. ‘n Pluimpie aan haar en André Roothman, wat die rol van Dominee vertolk; maar ook aan hul jonger mede-akteurs wat nie ‘n tree vir hulle hoef terug te staan nie.

Mooi Maria laat jou lag en huil en met ‘n warm hart uitstap, al werk alles nie heeltemal uit soos jy gehoop het nie.

Mooi Maria is ‘n drama deur Pieter Fourie uit die jare sewentig wat nou weer herleef met sy debuut op die Clover Aardklop Kunstefees. Regie deur Albert Maritz.