Agter die skerms van talle legendes se loopbane

Anneli-van-Rooyen

Anneli van Rooyen. Argieffoto.

Staaltjies, lesse en die loopbane van talle van Afrikaanse musieklegendes, soos Anneli van Rooyen, Gé Korsten en Cora Marie – dís waarna jy kan uitsien wanneer kykNET se dokumentêre reeks Legendes van Afrikaanse Musiek weer op 1 Maart op die kassie is.

Maryke Allers, kykNET se mediabestuurder, vertel dié kanaal het baie navrae oor die dokumentêre reeks gekry nadat drie spesiale episodes daarvan in Januarie uitgesaai is.

“Ons het daarom besluit om vir kykers nóg ʼn voorsmakie op kykNET NOU! te gee, met nog vyf episodes,” vertel sy.

Verskeie vervaardigers het die reeks van 24 episodes oor ʼn tydperk van twee jaar (tussen 2014 en 2016) in opdrag van kykNET vervaardig.

Die eerste episode, wat op 1 en 3 Maart uitgesaai word,  handel oor die lewe en loopbaan van Min Shaw. Sy het veral ligte Afrikaanse musiek gesing, maar later ook Afrikaanse en Engelse gospel. Shaw het bekendheid verwerf met die liedjie “Jy is my liefling”, wat in 1968 ook die temalied was van die gelyknamige rolprent, waarin sy teenoor Franz Marx gespeel het.

Op 8 Maart is Gé Korsten onder die vergrootglas. Die program gaan ook kyk na die opera-tenoor se lewe en loopbaan en gesels met sy gesin en kollegas. Hy is in 1999 oorlede na ʼn loopbaan van veertig jaar. Hy het as operasanger meer as 3 000 keer op die verhoog verskyn, waar hy 23 rolle in die grootste operas gesing het. Korsten het sy loopbaan in ligte musiek in 1965 begin met sy album Gé Korsten Sing Uit Die Hart, wat vinnig ʼn topverkoper geword het.

Ander kunstenaars wat onder die loep kom, is onder meer Cora Marie (15 en 17 Maart), Lucas Maree (22 en 24 Maart) en Anneli van Rooyen (29 en 31 Maart).

Legendes van Afrikaanse Musiek is Woensdagaande om 20:30 op kykNET Nou! (DStv kanaal 146) en word op Vrydagaande om 21:00 herhaal.

Vir meer inligting, besoek kykNET se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ekke ·

Wat ‘n vooruitsig! My seun het vir een van sy take vir Anneli van Rooyen gekies, hy het goeie punte gekry omdat hy nie een van die jonges gekies het nie.

Estelle ·

Ek was en is steeds n groot bewonderaar van Ge Korsten en het nog van sy eerste plate wat uitgegee is. Ek het ook al sy afrikaanse flieks gesien. As jong meisie was ek so verlief op hierdie aantreklike man met sy pragtige suiwer stem en ai tog so sjarmant!!!

Mien ·

Iets lekkers om na uit te sien. Het gisteraand se program oor Min Shaw baie geniet. Het net die familiepakket en is dankaar as van die moeite werd Kyknet programme op Kyknet Nou uitgesaai word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.