‘Kook en Geniet’ kry lewe op die kassie

Kook en Geniet saam met Lise Swart (Foto: Verskaf)

Kook en Geniet – een van Suid-Afrika se gunstelingkookboeke – kry lewe wanneer ʼn program oor dié boek vanaf 5 Julie vanjaar op die kassie te sien gaan wees.

Lise Swart keer terug na kykNET as aanbieder van die gelyknamige Kook en Geniet-reeks, onder leiding van die gesoute vervaardiger Riaan Badenhorst en Blixem Produksies, wat beloof om ʼn groot sukses te wees.

Suzaan Keyter, kykNET-mediabestuurder, sê die program fokus veral op onopgesmukte en eerlike kos.

“Lise gaan weekliks by verskillende mense aanklop om resepte en wenke uit dié boek, wat sedert 1951 elke kook-entoesias, sjef en amateurkok met meer as 700 beproefde resepte inspireer. Kykers sal ook vir Eunice en Heleen, die dogters van die bekende Kook en Geniet-skrywer, S.J.A. de Villiers, ontmoet.

“Dit is vir kykNET ʼn voorreg om dié ikoniese resepteboek se geskiedenis weer nuwe lewe te gee in ʼn reeks waar almal die storie van mev. S.J.A. de Villiers kan aanhoor. Lise sien ook uit daarna om haar kookvernuf op te skerp, aangesien sy nou self ʼn Kook en Geniet besit,” sê Keyter.

Kook en Geniet is vanaf 5 Julie op Woensdae op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

Vir meer inligting oor die reeks, besoek kykNET se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.