Ou gunstelinge en nuwe trefferreekse in Oktober

Hierdie Oktober is daar elke week kraakvars nuwe programme op Showmax – van nuwe episodes van ou gunstelinge soos Boer soek ’n vrou en Edik van Nantes tot splinternuwe reekse waarvoor jy sommer vinnig lief gaan raak.

Die eerste nuwe kykNET-reeks skop op 5 Oktober af. Op die skouers van reuse bied ’n blik op die lewe van ons land se grootste sportsterre, en plaas die fokus op die liefdadigheidsorganisasies wat hulle ondersteun. Hierdie is ’n sportprogram met ’n groot hart, waar jy ’n ander kant sal leer ken van mense wat op die sportveld uitblink, van die swemmer Roland Schoeman, langafstandatleet Elana Meyer, sewes-rugbyster Branco du Preez en die bokser Pierre Coetzer.

Die derde seisoen van Edik van Nantes is ook van 5 Oktober af op Showmax te sien, en hierdie seisoen is die broers weer besig om heerlike geregte voor te berei. Erik en Nataniël ondersoek elke hoekie van hul historiese tuiste en deel hul avonture met kykers. Die kokery gebeur dié maal in die stad Nantes, in gewillige inwoners se huise, en bied so ’n meer moderne blik op die lewe in Frankryk.

 

Aanhangers van die mokumentêre reeks Hotel kan regskuif vir die tweede seisoen wat vanaf 10 Oktober op Showmax beskikbaar sal wees, met ʼn nuwe episode wat elke week vrygestel word. Die personeel van die Franzen-hotel is terug en weereens op hulle stukke. Die stryd om die sub-standaard hotel aan die gang te hou duur voort, en die intrige raak al hoe meer verwikkeld, met nuwe karakters en liefdesdriehoeke wat sake kompliseer.

As jy ná jou eerste episode van Hotel nog nie genoeg gelag het nie, maak gereed vir ’n dubbeldosis vreugde, want twee ou gunstelinge het saamgesmelt om ’n lekker nuwe komedie te vorm. Ouboet en Wors bring vir Ouboet van Orkney Snork Nie-faam, en Wors uit die Mollie en Wors-franchise bymekaar vir eg Suid-Afrikaanse pret. Frank Opperman en Willie Esterhuizen gee lewe aan dié twee ikoniese karakters, en met Showmax kan jy van 10 Oktober af vir hulle lag net waar en wanneer jy wil.

 

Dramaliefhebbers kan solank opgewonde raak oor Waterfront, die nuwe reeks waarin die talente van uitstekende akteurs soos Rolanda Marais, Dawid Minnaar, Stian Bam, Milan Murray, Albert Pretorius en Edwin van der Walt verskyn. Die verhaal gaan oor drie susters wat in Kaapstad se Waterfront grootword, omring deur die swier van hul pa se bootbou-onderneming. ʼn Familie-tragedie bring die susters weer bymekaar nadat hulle paaie geskei het, en kykers kan uitsien na ’n boeiende kyk-ervaring in die hande van bekroonde regisseur Jaco Bouwer.

 

Kom kyk hoe Petri de Wet en sy gas hengelaars Suid-Afrika en Afrika plat toer, opsoek na trofee vis en avontuur in die reeks Hier gaan ons alweer.

 

Laastens is dit natuurlik nie Suid-Afrikaanse vermaak as daar nie êrens ’n plaas betrokke is nie. Om te sorg dat die boerdery en die liefde in Oktober aandag geniet, is daar nuwe seisoene van Megaboere en die gewilde realiteitsreeks Boer soek ʼn vrou. Megaboere se nuwe aanbieder is die tydskrifredakteur en skrywer Jaco Kirsten, terwyl Minki van der Westhuizen weer die boere help met sake van die hart in die tiende seisoen van Boer soek ʼn vrou.

 

*Let wel: Hierdie programme is aanvanklik net vir kykers in die buiteland beskikbaar. Klik hier om te sien watter nuwe opwindende programme vir kykers in Suid-Afrika wag.

Al hierdie vermaak is op jou gunstelingtoestel beskikbaar met Showmax, so teken in of maak gebruik van die gratis proeflopie. Showmax is nou gratis beskikbaar as deel van jou DStv Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.