Speel speurder met kykNET en ShowMax reeks ‘Die Byl’

Lika Berning, Marvin Lee Beukes, Waldemar Schultz en Erica Nobbs. Foto: Verskaf

Lika Berning, Marvin Lee Beukes, Waldemar Schultz en Eric Nobbs. Foto: Verskaf

As jy bang is in die donker moet jy liefs ver van kykNET en ShowMax se nuwe reeks bly. Die Byl vertel die storie van ʼn kerngroep hoogs gespesialiseerde polisiemanne wat saam probeer om reeks-moorde te ondersoek en op te los.

Hoewel die storielyn fiktief is, is die hoofkarakter, ene kol. Piet van der Bijl, ook bekend as Die Byl, losweg geskoei op die bekende speurder Piet Byleveld.

Dié misdraadreeks van 13 episodes speel in die Wes-Kaap af en handel oor ’n fiktiewe elite eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se afdeling vir geweldsmisdaad. Dié eenheid spesialiseer in die ondersoek van reeksmoorde en word aangevoer deur Van der Bijl, ʼn oud-moord-en-roof-speurder wat roem verwerf het vir sy hantering van verskeie hoëprofielsake.

Hy word bygestaan deur  ʼn gedugte span spesialiste wat elkeen ʼn onmisbare bydrae lewer om die eenheid die vlagskip van die polisiediens te maak.

Behalwe vir die interessante en ingewikkelde sake wat na hulle verwys word, handel die reeks ook oor die interpersoonlike verhoudings van die groep toegewyde individue. Hulle wel en wee word uiteraard deur elke grusame reeksmoord geraak.

Die rolverdeling bestaan uit Tertius Meintjes as genl. Neels van As wat aan die hoof van die plaaslike geweldsmisdaadeenheid staan. Waldemar Schultz vertolk die rol van Die Byl. Milan Murray is adv. Nicholene ‘Nicky’ Malan, staatsaanklaer en Van As se eksvrou.

Lika Berning speel die rol van kapt. Lena Maree wat as ʼn forensiese sielkundige (profileerder) deel van Die Byl se span vorm – ʼn aanvallige vrou met ʼn vlymskerp intellek en sielkundige insig. Eric Nobbs is dr. Fritz Barnard, wêreldbekende forensiese patoloog, en Marvin Lee Beukes is sers. Juan Stuurman, die eenheid se rekenaarspesialis en Die Byl se regterhand.

Akteurs soos Barbara-Marie Immelman, Deon Lotz, Nicola Hanekom, Stian Bam, June van Merch, Diaan Lawrenson, Antoinette Kellermann en Jacques Bessenger is ook in die reeks te sien.

Die reeks is geskryf deur Henriëtta Gryffenberg (draaiboekredakteur), Hein Eksteen, Leon Kruger en Anton Treurnicht. Herman Binge en Elmarie Botha van Lion’s Head Productions het dit vervaardig en Regardt van den Bergh is die regisseur.

Baasspeurder Piet Byleveld het die produksiespan, teksskrywers en van die akteurs as tegniese adviseur bygestaan om dié fiktiewe eenheid meer geloofwaardig te maak.

Die Byl begin op Dinsdag 12 Julie om 20:00 op kykNET, DStv Kanaal 144. Die volledige reeks is reeds op ShowMax beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jaco ·

Die akteurs in die foto van die “cast” lyk baie wit. Daar is dus nie affirmative action in die storie nie. G’n wonder dan dat hulle al die moorde oplos nie. In die werklike SA is dinge veel veel anders…

Akram ·

Genugtig, klink n 4e kabinet storie, dalk moet die SAPS intrukteurs stuur om tips te vang van die akteurs en die speurders oplei.

Zbc ·

Sien vreeslik uit hierna. Wonderlike akteurs!!! Kan nie wag nie. Dankie Kyknet vir heerlike vermaak in Afrikaans!!!!! :)

Johann ·

Sien ook uit na reeks. Hoop net kykers kry die kans om te sien dat speurwerk spanwerk is. Selfs in die goeie ou dae het die ou wie eintlik die saak opgelos het nooit die nodige erkenning gekry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.