Therese Benade: ‘Ek glo vas in die ritme van die lewe’

Foto: Skermskoot uit die video.

Foto: Skermskoot uit die video.

Therese Benade (39) het in Suid-Afrikaners se harte gekruip as Katryn Bekker in Song vir Katryn, en het ook daardie einste TV-gehoor lekker warm onder die kraag gehad met haar vertolking van Astrid Wentzel in Villa Rosa.

Wanneer ʼn mens haar in lewende lywe ontmoet is sy net so pragtig soos op die kassie en amper ʼn mengsel van die twee karakters aan wie sy lewe gegee het: warm en vriendelik, soos Katryn, maar ook sterk met ʼn vat-nie-nonsens-houding, nes Astrid.

Maar gelukkig lyk die lewe vir Therese meer rooskleurig as dié van Astrid.

“Waar ek nou is, in my persoonlike en professionele lewe, is presies waar ek wil wees. Dit is die beste plek waar ek nog ooit was,” sê sy.

Sy het in Februarie 2014 begin insetsels lewer vir Kwêla en in Mei haar voltyds in die Kaapse kantoor bevind as inhoudsvervaardiger. Hoewel sy haar werk daar vreeslik geniet, mis sy dit tog om haar lyf aktrise te hou.

Foto: Facebook

Christian Bam en Therese Benade. Foto: Facebook

“Ek het nog nie uitgegaan en rolle gaan soek nie omdat ek voltyds werk, maar ek glo dit sal kom. Ek is dankbaar vir wat ek het. Ek leer so baie en soveel aspekte van myself word bevorder. Daar is ʼn tyd vir alles en ek glo vas in die ritme van die lewe.”

Hoewel sy al baie vermag het in die vermaakbedryf, het sy steeds ʼn paar goed op haar “professionele wenslysie”.

“Ek sal baie graag ʼn rolprent wil vervaardig, dit is die groot wens. En dan sal ek ook nog ʼn paar hoofrolle wil speel waarop ek kan trots wees, veral in flieks, want dit is iets wat ek nog nie baie gedoen het nie.”

Therese woon weer in die Kaap, met haar broer en suster ook in die omtrek, en sy sê dit is heerlik om hulle weer naby te hê.

“Ek en my suster is beste vriendinne, ek bespreek alles met haar. Ek het van kleins af haar opinie nodig voordat ek iets doen en dit is ʼn vreeslike groot voorreg om uiteindelik saam te woon in een stad.”

Maar dit is nie net die werk en haar gesin wat Therese in die Kaap hou nie. Die argitek Christian Bam (50) het Desember haar die jawoord gevra en dié twee gaan later vanjaar afhaak.

Christian Bam en Therese Benade (Foto: Facebook)

Christian Bam en Therese Benade (Foto: Facebook)

Therese praat openhartig oor dié spesiale dag en sy meen hoewel daar tye was wat sy gewonder het of dit ooit sal gebeur, maan sy mense wat op soek is na hul eie spesiale persoon om nie te veel daaroor te bekommer nie.

“Moenie vra wanneer trou jy nie. Maak eerder seker jy is onafhanklik en weet wie jý is en wat jý wil hê. Dit is die belangrikste. Moenie tyd mors op goed wat onbelangrik is nie, of dinge wat nie reg voel nie. Bepaal waar jou fokus moet wees.”

Therese en Christian se spesiale dag is op 21 Oktober en sy meen dit gaan ʼn groot partytjie in Tulbagh wees.

“Ek besef die kosbaarste goed wat mens het is tyd, vriendskappe en familie, en daarom wil ons graag lekker kuier op die troue. Dit is my grootste wens.”

En haar voornemens vir 2017?

“Nee wat, ek glo nie daaraan nie. Ek wil net nie stagneer in my eie lewe nie. Ek wil weet dat daar elke jaar ten minste nuwe projekte is, of iets wat ek beplan. Solank ʼn mens nie in dieselfde plek in jou lewe sit met ʼn groot gewig op jou skouers nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerrit ·

Ek was mal verlief op die vrou gewees toe ek jonger was. Alles van die beste vir julle twee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.