Tuisfliek van die maand: Klein Karoo

Klein Karoo ***

Met Tim Theron, DonnaLee Roberts en Hykie Berg
Regisseur: Regardt van den Bergh
Romantiese komedie

Die Afrikaanse rolprentstal is al dikwels daarvoor gekritiseer dat daar deesdae ʼn oormaat romantiese komedies is. Onlangs het hierdie genre ook in die stof gebyt omdat dit nie so baie geld by die loket verdien het as gewoonlik nie. Dit wil dus voorkom asof fliekgangers oorversadig aan soetsappige romanse begin raak. Daarom dat hierdie fliek amper as ʼn soort voorganger in die genre gesien moet word, en nie noodwendig ʼn nabootser of baster vervolg van ander soortgelyke stories nie, al wemel dit van clichés: Man ontmoet meisie, man verloor meisie, en sal man meisie weer vind? is ʼn tema so oud soos die genre self. Die gegewe word nou bloot na die Karoo oorgeplaas.

Die Karoo dien ook as een van die hoofkarakters in die storie. Let wel, nie Die Moordenaarskaroo van die onlangse Jagveld nie, maar die idilliese prentjiemooi Karoo rondom Oudtshoorn daar na Prins Albert se kant toe, en dit verfraai die romanse en onwaarskynlike liefde nog verder.

Die rolprent gaan oor ʼn fraai onderwyseres (DonnaLee Roberts) wat ʼn projek vir minderbevoorregte kinders van stapel stuur. Wanneer die plaas waarop sy haar projek vestig in die mark is, wil niemand haar help wanneer sy haar skooltjie gaan verloor nie, nie eens haar selfsugtige verloofde nie. Tot ʼn rolprentmaker opdaag en haar potensiaal, en dié van die skooltjie en die projek, raaksien.

Komedie speel natuurlik ʼn belangrike rol. ʼn Held en heldin wat dit haat om van mekaar te hou is aan die orde van die dag, en dan die cliché, wat deesdae al holrug gery is: ʼn motor wat op ʼn verlate pad gaan staan en iemand wat moet help, maar tog onwillig bly. Daardie storie dra al baard, maar dien as afspringplek vir die romantiese intrige wat ontstaan.

Liggewig en oulik genoeg vir ʼn leë Sondagmiddag.

Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.