[Video] Bobby sê ja vir bekende sanger se ‘The Voice’-oudisie

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die Afrikaanse sanger Dawie de Jager, veral bekend as lid van die musiekgroep Klopjag, het Sondagaand tydens die laaste fase van die blinde oudisies op The Voice SA opslae gemaak met sy weergawe van U2 se liedjie “One”.

Die sanger se weergawe van dié liedjie het vir hom ʼn plek in die tweede seisoen van die reeks in Bobby van Jaarsveld se span besorg.

Klopjag het sedert sy verskyning op die Afrikaanse musiektoneel in 2002 verskeie toekennings ingepalm en is steeds ʼn gunsteling by feeste soos Aardklop op Potchefstroom en die KKNK op Oudtshoorn.

Hoewel die groep van tyd tot tyd steeds optree, fokus die lede deesdae op hul solo-loopbane.

De Jager het Sondag op sosiale media gesê sy deelname aan dié gewilde program volg nadat hy in die vorige seisoen ʼn vriend ingeskryf het.

“Omtrent ʼn jaar gelede het ek my goeie vriend, Roan van As, ingeskyf vir ʼn vertoning met die naam The Voice SA. Vanjaar het hy my ingeskryf en ek is mos maar ʼn man van my woord,” het hy gesê.

Die blinde oudisies vir die tweede seisoen is Sondagaand voltooi en al die afrigters, Karen Zoid, Bobby van Jaarsveld, Lira en Kahn Morbee, se spanne is voltallig.

Dié sangers gaan mekaar die stryd aansê om as die wenner van die tweede reeks aangewys te word.

The Voice SA word op Sondae om 17:30 op M-Net uitgesaai. ʼn Herhaling is Maandae om 18:00 ook op M-Net te sien.

Vir meer inligting besoek M-Net se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ann ·

Bobby jou vrou kan gelukkig wees om jou te he. Ek hou van jou deernis vir ander mense. Jy is net n jongmens wat ook sukkel soos ons almal om bo uit te kom. Mag God jou gebruik in alles wat jy doen.

Andre Els ·

Bobby is soos die wind waai. Hy verengels so om geld te maak. Ek luister gelukkig nie meer na jou nie!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.