Die wêreld se grootste vliegtuig bekend gestel

Die Stratolaunch (Foto: Stratolaunch)

Die wêreld se grootste vliegtuig is vir die eerste keer deur Microsoft-medestigter Paul Allen bekend gestel.

Die “Stratolaunch” se vlerkspan is 117 m, dit weeg 580 ton en het ses straler-enjins, maar sal nie enige passasiers vervoer nie. Die vliegtuig is 15 meter hoog, het 28 wiele en sal ongeveer 2 000 seemyl ver kan vlieg teen ʼn hoogte van 35 000 voet, ongeveer dieselfde hoogte as kommersiële vliegtuie.

Die Stratolaunch is ontwerp om vuurpyle uit die lug te lanseer om vliegtuigbrandstof te bespaar indien dit vergelyk word met die proses om vuurpyle van die grond te lanseer. Dit maak dit dus baie goedkoper om vrag na die ruimte te stuur.

Dit is vir die eerste keer vandeesmaand uit sy vliegtuigskuur in Mojave, Kalifornië in Amerika geskuif vir “brandstoftoetse”, het Stratolaunch Systems gesê. Die eerste vlug sal waarskynlik in 2019 plaasvind.

Die vlerkspan maak dit die grootste vliegtuig in die wêreld, selfs groter as Howard Hughes se “Spruce Goose”, die enorme houtvliegtuig wat in 1947 vir die eerste keer gevlieg het.

Die Stratolaunch is 72,5 meter lank, korter as die Antonov An-225 Mriya wat 84 meter lank is.

Allen, wat as ʼn kind dol was oor vuurpyle, het in 1975 saam met Bill Gates Microsoft gestig. Hy is in 1982 weg by die maatskappy as gevolg van gesondheidsredes, maar behou steeds ʼn groot aandeel in die maatskappy. Volgens Bloomberg het hy ʼn netto waarde van $21,4 miljard, wat hom die 35ste rykste persoon ter wêreld maak.

Sir Richard Branson se Virgin Orbit het in 2015 ook aangekondig dat hulle van plan is om vuurpyle van vliegtuie te lanseer.

Ander tegnologie-entrepreneurs, insluitend Elon Musk se SpaceX en Jeff Bezos se Blue Origin wil ook die koste van ruimtereise verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Terwyl ·

Dit is wat ander lande se mense doen terwyl ons mense net leer van steel en afbreek.

Nico ·

So, al die turbulensie en “metal fatigue” word gedra deur die middeldeel van die hoofvlerk? Sal BAIE graag ingenieurs se opinie hieroor wil hoor. Klink vir my effe oordrewe..

Jo ·

dit bekommer my ook, maar hulle sou dit darem seker nie deurgevoer het as dit ‘n probleem is nie.

t ·

Any sufficiently advanced technology is indistinguishable from magic. – Arthur C. Clarke

Daar is nog mense in die wêreld wat weet wat hulle doen.

Vissie ·

Onse Namba Whan sal seker die eerste een wil koop vir sy buitelandse reise, veral vir dié Dubai toe, want hy sal mos ‘n groot vrag saamneem. Vyf of ses vrouens se skoene sal al ‘n hele klompie weeg!

Groot vliegtuig​ ·

Vissie, ek wou ook daai ding sê, die man sal ‘n paar van daai groot vliegtuie nodig hê, een is te min!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.