[Foto’s en video] Gevaarlikste huweliksaanbod ooit?

Marta Sibielak (Foto: Marta Sibielak, Facebook)

Marta Sibielak (Foto: Marta Sibielak, Facebook)

Waar jy ʼn meisie vra om met jou te trou is soms net so belangrik soos die vraag self, en dié waaghals het dit een stappie verder gevat…

Keow Wee Loong (28) van Maleisië het die wêreld se hoogste brug in China gekies vir dié belangrike oomblik. Die Beipanjiang-brug, wat vanjaar oopgemaak het, is 565 meter hoog.

Keow het foto’s van die oomblik geneem waar hy ʼn bord vashou met die belangrike vraag daarop, en dit op 27 November op sy droomvrou, Marta Sibielak (24) van Pole, se Facebook-blad geplak.

Die twee het boonop ʼn interessante ontmoeting: Keow, ʼn fotograaf, het vanjaar in Mei in Japan gewerk om foto’s te neem van die Fukushima-sone, toe hy sy beursie verloor het. Uit radeloosheid, sonder kontant, is hy na die plaaslike winkel, Family Mart, om te besluit wat sy volgende stap sal wees. Hier het hy Marta ontmoet.

“Dit was vreemd om ʼn Westerse vrou te sien werk in die Family Mart,” het hy aan MailOnline gesê. “Maar ek was verlore en wou die WiFi in die winkel gebruik. Só het ek met haar begin gesels.”

Keow het gereeld by Marta begin kuier nadat hy sy reeks foto’s van Fukushima afgehandel het.

Hulle het al saam na Thailand gereis.

Keow wou iets baie spesiaal doen wanneer hy Marta uiteindelik die groot vraag vra. Die aanvanklike plan was om ʼn video van homself te neem nadat hy die Goldin-gebou in Tianjin, die 16de hoogste gebou in die wêreld, uitgeklim het. Sy videograaf was egter onervare en die twee is uitgevang. Keow en sy videograaf het nog ʼn paar plekke besoek, en uiteindelik op die Beipanjiang-brug besluit.

Hulle het meer as twee ure lank teen die berg uitgeklim na die brug toe, voor dit hulle nog ʼn verder 40 minute geneem het om teen die brug uit te klim.

“Dit was koud en ʼn sterk wind het die hyskraan geskud. Ons het baie min tyd gehad om die beeldmateriaal te kry en die sekuriteitsbeamptes sou my baie maklik kon sien waar ek staan.”

Keow is daarna saam met Marta na Bali vir ʼn vakansie. “Ek het haar gevra om in ʼn restaurant vir my te wag, want ek weet sy speel op Facebook rond wanneer sy vir iemand wag. Ek het die vraag op Facebook gelaai.” Toe Keow by Marta aankom, het sy gehuil. “Sy was baie emosioneel. Ek het ná ete vir haar die ring op Kuta-strand in Bali gegee.”

Die paartjie beplan hul troue vir volgende jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie Koch ·

As mens verlief is vang mens soms die snaakste dinge aan. Baie geluk julle twee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.