Groot gegiggel toe polisie na ‘zombie-misdaadtoneel’ geroep word

Steve Lowe en Diane Holden (Foto: Daily Mail)

Steve Lowe en Diane Holden (Foto: Daily Mail)

Die polisie in Cheshire, Engeland, het hulle vandeesweek ná ʼn wenk van ʼn motoris gehaas na ʼn “misdaadtoneel” op die M62-snelweg waar ʼn zombie glo besig was om ʼn vrou te byt en aan te rand.

Lede van die polisie moes egter keer om nie uit te bars van die lag nie toe hulle twee akteurs, Steve Lowe en Diane Holden, op dié snelweg afgetrek het.

Lowe en Holden was besig met die verfilming van ʼn produksie waarin hulle die rolle van zombies vertolk, en het sonder om te verklee ná ʼn lang dag in dieselfde kostuums huis toe gery.

Lowe het aan Daily Mail vertel dié nuus, wat intussen soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, is sy tien sekondes van roem.

“Ek speel al vir meer as 40 jaar trom en het nog nie een keer my naam in ʼn enkele koerant gehad nie. Nou dra ek ʼn zombie-kostuum en my naam is op elke tweede webwerf,” het hy geskerts.

Hy sê hulle het sommer in volle gewaad terug gery huis toe omdat dit ʼn lang dag op stel was. “Daar was ook nie enige ander plek waar ons kon verklee nie, so ons het sommer net in die kar geklim en niks daarvan gemaak nie. Toe die polisielid ons aftrek en uitbars van die lag het hy gevra of hy asseblief net ʼn foto kan neem omdat niemand by die polisiestasie hom gaan glo nie.”

Die produksie, Dead Town, is geskoei op Peter McKerinon se boeke. Dié produksie sal eers oor ʼn paar maande oorsee te sien wees.

Bron: Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.