Hieroor het FB-gebruikers vanjaar die meeste gepraat

Grafika: pixabay.com

Grafika: pixabay.com

Met meer as 1.79 miljard gebruikers op Facebook, word miljoene onderwerpe maandeliks op dié sosialemediaplatform bespreek. Maar watter onderwerpe het gebruikers in 2016 die meeste aan die gons gehad?

Facebook het Donderdag, as ʼn terugblik op 2016, die jaar se gewildste onderwerpe wêreldwyd op die platform bekendgemaak. Die onderstaande onderwerpe is vanjaar die heel meeste in inskrywings en kommentare op Facebook genoem:

  • Die VSA se presidensiële verkiesing
  • Die Brasiliaanse politiek
  • Pokemon Go
  • Die Black Lives Matter-beweging
  • Rodrigo Duterte en die Filippynse presidensiële verkiesing
  • Die Olimpiese Spele
  • Brexit
  • Die Super Bowl
  • David Bowie
  • Muhammad Ali

In pas met die res van die wêreld, het Suid-Afrikaanse Facebook-gebruikers ook baie op politieke onderwerpe in hul aanlyn-besprekings en kommentaar gefokus. Memeburn berig die onderwerpe wat die meeste SA-gebruikers op Facebook bespreek het, is die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesing, die VSA se presidensiële verkiesing, pres. Jacob Zuma, die FeesMustFall-beweging en die Olimpiese Spele.

Baie van dieselfde onderwerpe het ook onder die 317 miljoen gebruikers op Twitter opgeduik. Die gewildste hutsmerke op Twitter vir 2016 is:

#Rio2016
#Euro2016
#Election2016
#Brexit
#Trump
#RIP
#BlackLivesMatter
#Oscars
#GameofThrones
#PokemonGo

Facebook het ook die jaar se tien gewildste regstreekse video’s op die platform bekend gemaak. In die eerste plek was ʼn regstreekse video wat Candace Payne, ʼn ma van Grand Prairie, Texas in die VSA, in Mei gemaak het. Die video, wat tot dusver al meer as 163 miljoen keer gekyk is, het van Payne ʼn oornag-sensasie gemaak en sy is nou wêreldwyd bekend as “chewbacca mom”.

Payne deel op die video haar opgewondenheid oor ʼn aankoop van $30, maar het sekerlik nooit gedink hoe gewild die video sou word nie. Volgens Time het Payne sedertdien al meer as $420 000 se geskenke ontvang, onder meer ʼn vakansie vir haar gesin na Disney World, winkelgeskenkbewyse en selfs volle universiteitsbeurse vir haar hele gesin.

Indien jy nog nie Payne se video gesien het nie, kyk dit gerus hier:

It's the simple joys in life….

Posted by Candace Payne on Thursday, May 19, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Valerie ·

Facebook, is daar iets op die planeet wat vlakker en meer common is? Het mense regtig niks beter om te doen as om hul tyd op sosiale media te mors nie? Dit grens aan voorskoolse twak en is totaal onbelangrik, tensy, natuurlik, die gebruiker aandag soek wat sy of hy nie in die regte lewe kry nie.
Genugtig, mense kan nie eers meer ordentlik met mekaar praat sonder dat die vingertjies op Facebook vroetel nie. Ietwat verby pateties. Alles “trend” kamtig of is ‘n “oornag sensasie.” Word groot, Facebook mense, die heelal draai nie om julle nie, al word dit aan julle vertel.

Susan ·

Valerie, Facebook is vir my weer ‘n baie positiewe ervaring. Die verskeie FB-blaaie wat ek bedryf is positief en het baie mense bymekaar gebring wat in dieselfde belangstellings deel. Ek bedryf onder meer blaaie vir kuns, musiek, ‘n nuusblad vir my gemeenskap, ‘n Christelike blad met inspirerende inskrywings, en ander (sonder om common of soetsappie te wees. Ek woon in een van die mooiste streke van SA en van ons beste fotograwe deel hullle foto’s op my FB-blaaie – en so is FB ook estetiese inspirasie wat jou telkens herinner aan ons Skepper se almag en kreatiwiteit. Nadat blaaie deur verskeie mense begin is van my ou skool en dorp en reünies wat gehou is, het dit talle bekendes na jare weer bymekaar uitgebring. Hulle het weer gereelde kontak en ondersteun mekaar. Soos ‘n groot familie. Ek vind dat Facebook as ‘n positiewe bron gebruik kan word om mense oor nuus en baie ander onderwerpe in te lig. Daar is die wonderlikste profiele vir Christene met daaglikse inspirasie, wyshede en vele meer. Ek dink FB het een van die sterkste instrumenteen kragte geword vir wêreldwye Evangelisasie. Waarvan ek hou, is dat ek my blaaie kan bestuur en dat ek grotendeels die gehalte en inhoud kan bepaal. Iemand wat nie inpas nie en negatief is, word eenvoudig weggewys. FB is ‘n verrykende ervaring – maar dit hang van jouself af. Jy mis iets groot, Valerie, omdat jy met ‘n negatiewe bril na FB kyk!

Jan ·

Vingertjies vroetel? Penny Sparow het ook in daardie lyne kommentaar gelewer en kyk in watter gemors het sy beland, die waarheid vrywaar jou nie aldag van vervolging en verguising nie.

Kobus ·

Hahaha, uitstekend! Haar lag is so aansteeklik en elke Star Wars-aanhanger sal dit geniet. Soos sy sê: “It’s the simple joys…”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.