Vermiste diamant toe nie die ware Jakob

Die diamant wat Ria Bester by Witsand in die Wes-Kaap opgetel het (Foto: Thea Bester)

Die internet het vroeër vanjaar behoorlik gegons oor ʼn “baie unieke en besonderse” diamant wat ʼn Pretoriase vrou by die kusdorpie Witsand in die Wes-Kaap in die badkamer van ʼn kampeerterrein opgetel het.

Thea Bester-Swanepoel het voorheen aan Maroela Media vertel haar ma, Ria Bester, het dié diamant gewaar waar dit op die munisipale kampeerterrein se badkamervloer gelê het.

Hoewel sy met dié oënskynlik waardevolle steentjie na al die kampeerders is, kon sy nie daarin slaag om die eienaar op te spoor nie.

Sy het gesê hoewel haar ma nie die steen laat waardeer het nie, was sy oortuig dat dit die ware Jakob is. Bester het glo die egtheid van die diamant aan ʼn paar kriteria gemeet wat sy sommer op die internet opgespoor het.

Intussen het die gesin egter vasgestel dié diamant is inderdaad nié eg nie.

“Toe my ouers van die Kaap af terugkom, het ek en my sussie die diamant so bekyk en dadelik vermoed dat dit nie eg is nie. Ons het gesê ons gaan hom met ʼn steen kap, want as hy breek, is dit nie eg nie. My ma wou niks weet nie, en sy het hom na ʼn kenner toe gevat. Hy het my vermoede bevestig – dis sommer ʼn vals ou diamant met geen waarde nie,” vertel Thea.

Sy sê die gesin het talle oproepe van mense ontvang wat gehoop het dit is hulle verlore steen wat opgetel is.

“Mense van heinde en ver het ons genader – party se ringe was gesteel in ʼn rooftog, ander het hulle sʼn verloor en sommige mense het sommer wilde stories opgemaak. Al hierdie mense was baie teleurgesteld dat die diamant nie aan hulle behoort nie.”

Thea sê hoewel die gesin die humor in die petalje raaksien, is dit hartseer hoeveel mense na hulle waardevolle en sentimentele besittings soek. “Soveel mense heg waarde aan iets soos ʼn ring, en daar is duisende mense daarbuite wat al per ongeluk so iets verloor het. Ons het dit nou weer gesien met die steen, en dis jammer dat ons niemand kon help nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HFC ·

Diamante kan ook breek as dit gekap of gestamp word teen harde oppervlaktes.

Paul ·

Ja nee. Mense verstaan nie die verskil tussen “hardheid” en “brosheid” nie.

Jy kan ‘n diamant maklik stukkend kap met ‘n hamer, selfs al is dit die hardste stof wat bekend is. Dit bly steeds ‘n bros materiaal.

Dink so daaraan: ‘n stuk droë spaghetti is harder as ‘n stuk tou, maar watter een gaan breek as jy die spaghetti in die lug hou en dit met die tou slaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.