Video: Oom Ollie kom groet sommer lekker naby

Eswe Ras van Sausage Tree Safari Camp by die Balule-privaat natuurreservaat in Hoedspruit, Limpopo saam met Ezulwini (Skermskoot uit die video)

Eswe Ras van Sausage Tree Safari Camp by die Balule-privaat natuurreservaat in Hoedspruit, Limpopo saam met Ezulwini (Skermskoot uit die video)

Eswe Ras, een van die bestuurders van Sausage Tree Safari Camp by die Balule-privaat natuurreservaat in Hoedspruit, Limpopo, het ʼn nabye ontmoeting met ʼn olifant gehad.

Eswe is ʼn gekwalifiseerde gids en is soms verantwoordelik vir die spoorwerk op wildsritte, soos tydens die betrokke geleentheid waartydens die video verfilm is, verduidelik die gebruiker Kruger Sightings op YouTube.

“Dit was ʼn unieke ervaring, maar gewoonlik kom stel verskeie diere uit nuuskierigheid ondersoek in,” het Eswe gesê.

Die video is in Februarie 2016 verfilm. “Dit het gebeur net nadat ons uit die kamp vertrek het op die wildsrit,” het Eswe bygevoeg. “Ons het ʼn klein groepie olifantbulle genader en het ongeveer 30 m van hulle af stilgehou, en hulle ruimte gerespekteer. Hulle het geleidelik al hoe nader aan ons beweeg, toe Ezulwini (die olifantbul) die voertuig genader het. Soos in die video gesien kan word, het hy na my toe gekom en voor my kom staan. Wat nie in die video gesien kan word nie, is dat hy vir ʼn paar sekondes lank sy slurp om my een enkel geplaas het om my te ruik. Ons gids, Kevin van der Linde, het die voorval verfilm.”

Eswe sê dit was definitief intimiderend om só groot dier naby mens te hê en aan jou te raak, “maar ek het nooit gevoel ek is in gevaar nie. Die gidse en spoorders van Balule ken Ezulwini baie goed, en hy is ʼn saggeaarde dier. Ek dink die gevoel kan die beste beskryf word as algehele eerbiedigheid en definitief ʼn adrenalieninspuiting.”

Nadat Ezulwini sy nuuskierigheid bevredig het, het hy wegbeweeg en saam met die ander bulle begin wei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Erich ·

Jo – Jo – dink ek sou skoon broek nodig gehad het.
Wat n pragtige olifant.

Jonathan ·

Jy oortree die goue reel om n veilige afstand te handhaaf , mak of wilde diere kan enige oomblik van plan verander Sal jou nie as toergids aan beveel nie Die veiligheid van die groep is in gevaar gestel groete

J ·

Ag Jonathan die 1ste ding wat hulle jou leer is om nie te beweeg nie stil te sit en nie n geluid te maak nie. N olifant kan jy lees deur sy optrede. Het jy n big five plaas dat jy veldgidse aanstel?

Chris ·

Ek het al die “ervarings ” gehad dat ‘n ho ho holifant en ‘n leeuwyfie my gestorm het. Ek glo net hulle op die betrokke dag nie te ernstig nie was nie. Wat my die grootste skrik gegee het was ‘n seekoei. Daardie geleentheid het ek geskrik en is nou lugtig vir die diere. Dit was ook nie dat ek te naby aan hulle gekom het nie. Ek was nogal ver maar nie ver genoeg nie.

Danie ·

Jonathan ek stem saam met jou dis gevaarlik eerlik,kom ons stel nou daar het iets gebeur dan sou die dier weer van kant moes gemaak word of is ek verkeerd…..daar is ń gesegde moet nie met moeder natuur mors nie want jy kan net sleg 2de kom…

Niccy ·

Awesome! wat ‘n voorreg om so naby aan die pragdier te kon wees en in daar die oê te kon kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.