Flou, maar belangrike verkiesing in Kanada

Justin Trudeau tydens ‘n verkiesingsbyeenkoms in Nova Scotia. Foto: (Sean Kilpatrick/The Canadian Press via AP)

Die verkiesingsveldtog vir Kanada se federale verkiesing op 21 Oktober kan as vervelig en oninspirerend bestempel word.

Tog is die uitslag heeltemal onseker met die eerste minister, Justin Trudeau, wat ná heelwat uitdagings tydens sy eerste termyn herkies kan word of deur die nuwe leier van die Konserwatiewe Party van Kanada, Andrew Scheer, vervang kan word.

Vanjaar se verkiesing is grootliks ʼn referendum oor die persoonlikheid en vermoë van Trudeau. Hy is in 2015 met ʼn verrassende sterk meerderheid verkies, toe sy Liberale Party beter as verwag in die Federale verkiesing presteer het. Die 2015-verkiesing in Kanada was egter ook grootliks ʼn referendum oor die vorige eerste minister Stephan Harper se prestasie, en die Liberale Party se oorwinning is grootliks bestempel as ʼn afkeur deur kiesers in die leierskap van Harper.

Trudeau het in 2015 ʼn sterk liberale stel verkiesingsbeloftes gemaak en is sedertdien daaraan getoets. Hy het die afgelope vier jaar gefokus op beleidsuksesse soos die wettiging van die gebruik van dagga, die instelling van meer regte vir Kanada se inheemse volkere, die liberalisering van geslagsgelykheid en die instelling van talle nuwe wette, reëls en regulasies om sogenaamde mensgemaakte klimaatsverandering teen te werk.

Die premier het egter ook in teenstelling met veertien vorige Kanadese federale regerings, van beide die Liberale en Konserwatiewe partye, begrotingstekorte begin behaal. Hy het aangevoer dat begrotingstekorte geregverdig is, omdat grootskaalse investering in die infrastruktuur van Kanada noodsaaklik is vir langtermyn- ekonomiese groei.

Justin Trudeau en sy vrou Sophie. Foto: (Frank Gunn/The Canadian Press via AP)

Tog is Kanada sterk federalisties gestruktureer en vind die werklike politieke beleidsdebatte baie keer eerder in die provinsies plaas, terwyl federale verkiesings op nasionale vlak soms meer oor persoonlikhede as beleid gaan. Terwyl Trudeau ʼn charismatiese en ekstroverte persoonlikheid het, is die nuwe leier van die Konserwatiewe Party meer gereserveerd en kom hy voor as meer van ʼn denker en ernstige persoon. Die vraag is watter een van die hierdie pakkette op 21 Oktober die meeste tot kiesers sal spreek.

Kanada het ʼn kiesafdelingstelsel en weens die verdeeldheid van linkse en liberale partye, het die Konserwatiewe Party wat grootliks regse en konserwatiewe kiesers verenig, ʼn ingeboude voordeel.

Kanada se burgery is egter heelwat meer liberaal as byvoorbeeld dié van die VSA. In peilings blyk dit dat die Liberale en Konserwatiewe partye in mekaar se nekke blaas met elk net meer as 30% van die steun. Die linkse Nuwe Demokratiese Party het die afgelope twee jaar heelwat steun verloor, maar die Groenparty is tans besig om heelwat veld te wen en kan kiesers by die Liberale Party wegrokkel.

Kanada se ekonomie doen tans goed met gesonde groei en lae werkloosheid. Dit het egter baie te make met die sukses van die Amerikaanse ekonomie. Baie Kanadese voel dat lewenskoste skerp styg, behuising onbekostigbaar is en hulle nie in die ekonomiese sukses deel nie. Verder het buitelandse beleggings in die Kanadese ekonomie die afgelope vyf jaar met 80% afgeneem en is daar duidelike tekens van krake in die huidige ekonomiese groei.

Die keuse wat Kanadese op 21 Oktober sal moet uitoefen, is tussen die liberale globalisme van Trudeau en die meer federale en konserwatiewe politiek van die Konserwatiewe Party. Wat die resultaat gaan wees, is onvoorspelbaar. Maar dat dit Kanada se rol as een van die voorste Westerse lande in globale politiek gaan help rig, is nie te betwyfel nie.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Sal beslis die flou verkiesing dophou. Hoop die ernstige denker trek die wa deur die drif.
Lae werkloosheid in Kanada is verblydend, want duisende ‘demokratiese’ Amerikaners, baie uit Hollywood, wat met Trump se verkiesing uitgewyk het na Kanada het toe darem seker geholpe geraak met ‘n ou werkie.

Judge Dredd ·

Dankie Jaco – ek sien darem is jy nie gesensor as gevolg van jou beskrywing van die liberale se Globale agenda.
As ek dit se dan word ek gesensor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.