Noord-Kaap-droogte: Boere op hul knieë om kinders in skole te hou

Die droogtekrisis in die Noord-Kaap het so toegeneem dat verskeie boere dit nie meer kan bekostig om hul kinders op skool te hou nie. Dit is veral vervoer-, skool- en koshuisgelde wat ouers nie meer kan bybring nie.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS), het hulle reeds meer as R2,1 miljoen rand se aansoeke vir agterstallige koshuis- en skoolgelde ontvang waarvan die meeste aansoeke uit Namakwaland, Kakamas, Prieska en Williston spruit.

Helpende Hand het daarom die Droogtehulp Studiefonds gestig om seker te maak dat hierdie kinders op skool en veral koshuis kan bly tot die droogtekrisis verby is.

“Om ’n boer te sien wat bakhand staan omdat hy nie sy kind se skool- en koshuisgeld kan betaal nie, is hartverskeurend en daarom wil ons graag ’n beroep op die korporatiewe bedryf asook elke lid van die publiek doen om hierdie boere en hul kinders in ’n baie donker tyd by te staan,” sê Pieterse.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, voeg by dit is nie in die hand van die mens om oor die droogte te beskik nie, maar die gevolge van die droogte kan deur die mense bestuur word. “Ons kan nie besluit wanneer dit reën nie, maar ons kan sorg dat die kinders aanhou studeer totdat dit weer reën,” sê Noëth.

Skenkings vir die Droogtehulp Studiefonds is teen 30 November nodig om te kan bepaal hoeveel leerders gehelp kan word.

Klik hier om tot die fonds by te dra: https://helpendehand.co.za/donasie/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.