Gedagte vir die dag:  In sy hande

Stiltetyd hande-02-pexels

Foto: Pexels.com

Lees Psalm 31:1-4, 15-16

Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand. Red my uit die hande van my vyande en vervolgers! (Psalm 31:15-16)

God is die Een by wie ek skuil, na wie ek vlug. Dit is by Hom waar ek vastigheid vind. Hy is die Ontvanger van my bagasie, die Ruspunt van my hart.

Hy is ook die Een met die groot, sterk, sagte hande. So groot dat my hele lewe in hulle pas. So sterk dat ek nooit daaruit val nie. So sag dat ek altyd weet hoe dit my koester.

Dít is hierdie psalm se tema, en min of meer só lui menige gelowige se geloofsbelydenis. In verskillende stadiums van hul lewe sal hulle iets (of alles) van bogenoemde kan sê, omdat hulle dit heelhartig glo.

Daarom is die bekende sestiende vers van hierdie psalm – “My tye is in u hand” – meer as ’n aanduiding dat “my streep getrek” is. Dit is tog oneindig meer as dat God, bo alles, boonop ’n streeptrekker is. Dié wat dit glo, reken dat Hy lank gelede ’n laaste versperring opgerig het waaroor ek, al maak ek ook wát, nie sal kom nie. Dat as dit nie ’n pyl is wat my tref nie, dit ’n wilde dier sal wees wat my verskeur. Maar verby dáárdie Goddelike streep sal ek nie kom nie … Ai. Dan word hierdie geloofsbelydenis mos ’n noodlot-voorspelling. Dan span God sy hande ook in om my te wurg. Dan is ek my lewe, wat in daardie hande is, nooit meer seker nie. Dan moet ek maar liewer so gou moontlik uit sy moorddadige kloue ontsnap.

Dit is tog nie waar nie. Só is die Vader van Jesus Christus nié. Hy is dan die Een in wie se hande Jesus uiteindelik sy gees oorgee (vgl. Luk 23:46). Daardie groot, sterk, sagte hande.

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carel Johannes ·

Hy is ‘n genadige God vir die een wat Hom lief het: Kyk gerus na – Ps. 39:6, Ps 144:4, Job 10:5
Klaagliedere 4:18, Heb. 2:6 en Rom 9:5. Ons mens dae is voorwaar getel, Die laaste dag wat ons nie weet wanneer dit sal aanbreek nie, net die Vader weet. In dankbaarheid moet ons leef en werk teenoor Hom die Skepper van ons mens wees en bewaarder van ons siel. 2 Tim. 3:1-5 beskryf die tyd waarin ons lewe en waarin die Vader ‘n weersin het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.