ToekomsVenster: Die bediening wat vryspreek

vryheid-perde

(Foto: Bhakti2/Pixabay)

Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom, maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid. Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. – 2 Kor. 3: 9-10

Ek wil glo dat hierdie hele gedeelte jou in jou diepste wese aanspreek. Dit is veral Paulus se woorde, “die bediening waardeur mense vrygespreek word”, wat my opval.

Daar is soveel mense wat met gister en eergister se oortredinge, foute, mislukkings, negatiewe ervarings, problematiek en uitdagings worstel. Hulle vind dit uiters moeilik om hulself te vergewe vir die goed wat verkeerd geloop het, veral as hulle voel dat hulle die oorsaak daarvan was.

Die bekende liedjie, “dit is so swaar om jou laste te dra”, kom by my op. Dit is hoegenaamd nie nodig of selfs geregverdig dat jy “swaar dra” aan jou laste nie, nie as jy in die volmaakte versoeningswerk van Christus glo nie.

Wat is dan die vrug van die kruis van Golgotha as jy steeds swaar dra?

Ja, somtyds herinner die Gees van die Here ʼn mens aan iets waaroor jy in die besonder moet nadink, iets wat jy by wyse van spreke met die Here moet deurpraat.

Dit is deel van die proses van heiligmaking. Die Heilige Gees werk stadig, maar doelgerig, deur die dinge in jou lewe wat jou geestelike groei inhibeer.

Dit is asof die Here sê “my kind, ons moet nou hieroor praat”. Wanneer dit gebeur beroep jy jou op die genade van God, die volmaakte offer wat Jesus gebring het, die voltooide werk aan Golgotha se heuwel. Jy slaan nie tent op daarby nie, jy neem nie eers ʼn goeie en oorvloedige dosis selfverwyt nie. Jy doen wat die Bybel, sê jy moet doen. Jy bely wat bely moet word en gaan aan met jou lewe. Dit is ʼn kortstondige stilhouplekke langs die pad. Moenie jou huis daar bou nie.

Die Gees van die Here verwyt nie. Hy druk nie sy vinger in jou oog en vertel jou hoe sleg jy is nie. Dit is die aanklaer wat so werk.

Die Gees oortuig met deernis en uitnodigend. “Kom nou” sê Hy, “laat ons die saak met mekaar uitmaak. Al was, al was jou sonde so rooi soos purper”, die bedoeling daarmee is dat jy nie dink dat jy vergiffenis kan ontvang nie, die goeie nuus, “dit sal wit word soos sneeu”.

Hoe lank kuier jy saam met verwyte in jou lewe? Maak nou daarmee klaar. Aanvaar die versoening wat God in Christus vir en namens jou bewerk het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.