ToekomsVenster: God se genade, geduld, liefde en trou

strand-klippies-sonsopkoms

(Foto: Christian Holzinger/Unsplash)

So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. – Psalms 103:12 (NLV)

Ons vat kortpad sonde toe as ʼn verduideliking vir en van alles wat met ons gebeur en in hierdie wêreld verkeerd loop. Die lewe, ja, ons verhouding met die Here, is egter nie so eenvoudig en so eenduidig nie.

As ek of iemand na aan my siek word vra ek: “Wat het ek verkeerd gedoen? Straf die Here my. Watter sonde of oortreding is begaan en hoe kan ek dit regmaak?”

As ʼn ramp die land tref soos Covid-19 is die vraag: “Straf die Here ons, wat het ons verkeerd gedoen?”

Die gedagtes van ʼn mens is vindingryk en dit is nie lank nie of jy het ʼn hele arsenaal van oortredings opgesom wat ʼn klinkklare aanduiding is van waarom die ongelukkigheid jou of ander tref.

Nog erger, jy besluit summier dat die persoon vir wie die ongelukkigheid tref hierdie of daardie sonde gepleeg het. Jy huiwer ook nie om hul verstaan van die situasie met die reeds getraumatiseerde persoon te deel nie.

Hulle moet hulle net van hierdie of daardie sonde bekeer en alles sal reg wees.

Dat sonde inderdaad verwydering bring tussen God en mense, is uiteraard so.

Dat God se genade, geduld, liefde, trou, sorg, lankmoedigheid en deernis ligjare groter is as ons sonde, is egter ook so.

Wie erns maak met sy sonde kan op God se vergiffenis, volkome vergiffenis reken.

 “As ons ons sonde bely, Hy is getrou en regverdig om ons ons sonde te vergewe en van alle ongeregtigheid te reinig”. – 1 Joh. 1:9

Daar is twee bewegings in my verhouding en verstaan van God.

Die eerste is toe ek deur die Heilige Gees bewus en oortuig geword het van my afhanklikheid van Hom.

Ek het bewus geword van die afstand en vervreemding wat my eie halstarrigheid en rebelsheid veroorsaak. Ek het en kon my sonde voor Hom bely en vergiffenis ontvang. Ek weet dat ek nou  ʼn seun van die lewende God is en dat Hy my met sy Gees vul en lei. Nou leef ek in ʼn herstelde verhouding met Hom.

Dan is daar die lewe saam met God, die tweede, derde en duisendste tree as ʼn kind van die Vader.

Soms is ek opgewonde. Alles werk goed uit, ek is bewus van die Here se oorvloedige seën, genade, liefde en sorg. Ek leef dankbaar, vervuld, opgewonde en energiek in sy teenwoordigheid.

Dan gebeur die lewe. Siekte, uitdagings van allerlei aard, die dood van ʼn geliefde en ontberings gebeur. Dit is deel van die gevalle werklikheid.

Ek kan tog nie nou terug na waar my verhouding met God begin het nie.

Nou ondersoek ek deur die Heilige Gees my hart en lewe. As die Gees my oortuig bely ek my skuld en kom aan die anderkant daarvan. Ek kasty myself nie, gaan nie op ʼn boete-doen reis nie, straf myself nie, ek verdra die feit dat ek op pad is.

Ek is weliswaar nie waar ek moet wees nie maar ek is ook nie waar ek was nie. Ons, ek en God en Hy en ek, is op pad. Ons noem dit “heiligmaking”.

Indien die Gees my nie van iets oortuig wat verkeerd is nie reken ek met die genadige bystand, ondersteuning en sorg van God, ook in slegte tye.

Ek vertrou Hom volkome en leef uit en in sy teenwoordigheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here dankie dat ek U volkome kan vertrou vir my lewenspad….dat U vergewe al verdien ek niks…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.