ToekomsVenster: As julle glo

dink-denke-denker-man-sit-rots

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash)

Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.” – Matt. 21:21-22

Dit is ʼn uitdagende teks hierdie wat verkeerd verstaan en interpreteer kan word en dan aanleiding kan gee daartoe dat God bevraagteken, selfs verwyt word dat sy Woord nie waar en betroubaar is nie.

Wanneer ons met die Woord van God te doen het, die Bybel in omgangstaal, moet ons onthou dat dit ʼn besondere genre verteenwoordig en ʼn besondere Boodskap dra.

Die Bybel is nie ʼn wetenskaplike of geskiedkundige verhandeling nie. Dit bevat besonderhede wat op daardie en baie ander terreine lê maar die ontstaansgeskiedenis en konteks van die teksgedeeltes moet in gedagte gehou word.

Die Here het deur sy Gees gewone mense met hul voete stewig op die aarde en by hul volle bewussyn, gebruik om binne hulle konteks te verduidelik en te getuig hoe God relevant beleef word.

Die wêreldbeeld van mense, die agtergrond, verstaanshorisonne en geskiedkundige agtergrond waarteen die gebeure afspeel, is uiteraard belangrik. Die groot Boodskap van die Bybel is tog dat God in alle tye en omstandighede volkome betroubaar is, dat sy Woord prakties uitgeleef kan word en dat Hy daarvan die Waarmaker is.

In hierdie teks is geloof ter sprake. Ons praat van geloof wat berge versit. Vir watter rede sou God aan ʼn  mens die vermoë gee om fisiese berge te skuif en waarnatoe? Dit verteenwoordig tog deel van sy unieke en volmaakte skeppingshandelinge.

Berge hier word as metafoor gebruik vir dit wat bedreigend, onweerstaanbaar en gevaarlik lyk. Dit kan baie dinge vir baie mense beteken en soos die lewe nou maar is, kom dit telkens weer en weer op ʼn  mens se lewenspad, net in ander gestaltes.

Om die berg weg te wens sal nie werk nie.

Om die berg te ontken is selfmisleiding.

Om die berg te minimaliseer is eweneens nie die aangewese nie. Dit is dinge wat ʼn mens in eie krag probeer doen en wat nie werk nie.

Daar is ʼn berg en daardie berg verteenwoordig ʼn uitdaging. God gee aan ons gesag om die berge van die geloofslewe aan te durf en daarmee te handel. In hierdie geval gee die Here gesag dat die berg aangesê kan word om pad te gee sodat die wil van God kan geskied. In ander gevalle gee God die genade en toerusting dat jy die berg kan oor. Nog ander kere wys God ʼn ander pad hoe die berg vermy kan word.

Staan jy voor ʼn berg? Onderskei biddend wat die Here wil hê jy moet doen en vertrou Hom volkome. Hy sal jou nie teleurstel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.