Sakke gevul met liefde vir mammas, babas

Doeksakke word sorgvuldig gepak met alles wat ‘n nuwe mamma en haar baba mag benodig. (Foto: ‘n Skermgreep uit “Bless a baby”-projek se BackaBuddy-video.)

Deur Maretha Botes

Die koms van ʼn baba is veronderstel om ʼn vreugdevolle tyd te wees. Vir duisende mammas regoor Suid-Afrika is die koms van ʼn nuwe baba egter ʼn gebeurtenis gevul met onsekerheid en angs. Dié mammas, met min of geen inkomste en dikwels sonder die ondersteuning van familie of vriende, is uitgelewer aan die goedheid van ander.

Die vrywilligers by Bless a Baby se onwrikbare toewyding het gemaak dat duisende sulke mammas die afgelope twintig jaar die nodige het wanneer hulle terugkeer huis toe met hul nuwe baba. Bless a Baby is ʼn onafhanklike en nie-winsgewende organisasie met hul hoofkantoor in Durbanville, Kaapstad. Hulle doel is om deur hul projek, Bag of Love, nuwe ma’s van handgemaakte sakke, gevul met babaklere, toiletware vir ma en baba vir die eerste dae na geboorte, ʼn kombers en ander items, te voorsien. Só voel die nuwe mamma geliefd en gewaardeer ten spyte van haar persoonlike omstandighede.

Linda Hodgkinson, stigter van Bless a Baby, sê: “Só ʼn mamma skenk dikwels geboorte sonder om te weet waar babaklere, doeke, komberse en selfs haar eie sanitêre ware vandaan gaan kom. ʼn Gebeurtenis wat vol vreugde moet wees, is vir hierdie mammas gevul met onsekerheid en angs. Ons het al gesien dat ʼn mamma haar kind in ʼn plastieksak toedraai omdat sy geen klere of kombersies vir hom gehad het nie.”

Bless a Baby is in Oktober 2002 gestig toe ʼn paar vroue bewus geraak het van die spesifieke behoefte by hospitaalkraameenhede en klinieke in plaaslike gemeenskappe. “As gevolg van ons ekonomiese toestand kan baie mammas glad nie voorberei op hul baba se aankoms nie. Hulle sit sonder klere, toiletware en het nie eens ʼn toedraaikombersie vir die kleintjie nie. Ons spreek hierdie behoefte aan, maar sorg ook vir die vroue se menswaardigheid en dat hulle geliefd voel,” sê Linda.

Die inhoud van elke handgemaakte doeksak. (Foto: ‘n Skermgreep uit “Bless a baby”-projek se BackaBuddy-video.)

Hulle doel is om maandeliks die inhoud van 400 handgemaakte sakke te befonds en hul diens op die langtermyn uit te brei. Op dié stadium kan hulle slegs 250 sakke uitstuur. Hulle het reeds ʼn susterstak in Bloemfontein gestig. “Ons vrywilligers maak hul eie doeksakke uit geskenkte lap, waarna dit gevul word met toiletware vir baba en mamma, babaklere, toedraaikomberse, gebreide items en selfs ʼn sagte speelding en kinderboek om die mamma te laat voel sy en haar baba is waardig, ongeag hulle omstandighede. Die geboorte van ʼn baba moet ʼn gelukkige ervaring wees en ons wil graag help om dit só te maak vir elke mamma op ons pad. Na die sakke gevul is, word dit deur ons netwerk van vrywilligers versprei na die tien mediese fasiliteite wat deur ons ondersteun word.”

Bless a Baby versprei hul sakke by tien plaaslike hospitale in onder meer Eersterivier, Bishop Lavis, Kraaifontein en Tygerberg asook sekere plekke van nood in Botswana, Kenia, Malawi en selfs Rusland. Sedert hul stigting is daar reeds 21 729 sakke versprei. “Ons het geen beheer oor wie (watter mamma en baba) ʼn sak ontvang nie. Dit is heeltemal vir die diskresie van die verpleegsters wat by die kraameenhede werk. Ons het baie hegte en waardevolle verhoudings met ons kontakte,” sê Linda. Bo en behalwe die donasies wat Bless a Baby ontvang, benodig hulle R120 vir elke sak wat na ʼn mamma en baba toe uitgaan. Om maandeliks 250 sakke te voorsien, benodig hulle R30 000 ʼn maand.

Bykomend tot die Bag of Love-projek het hulle ook kleiner sakke, genaamd Bag of Hope en ʼn noodgevalsak, Bag of Dignity. Dié sakke bevat die nodige items vir ma en baba, maar dien ʼn ander doel. Die items verseker dat die baba warm genoeg sal wees om per bus of taxi huis toe te kan reis saam met die mamma, en dat die ma die nodige persoonlike higiëne items het om gemaklik te wees. Die items word in pragtige handgemaakte toetreksakkies (drawstring) verpak.

“Een ma en baba op ʼn slag. Só kan ons ʼn vorm van verligting gee vir ʼn onregverdige begin in die lewe,” sê Linda.

Hoe jy kan help:

  • Word ʼn vrywilliger. Besoek die webtuiste Blessababy.org vir meer inligting hieroor.
  • Brei of stik vir ons. Jy kan ʼn e-pos stuur na [email protected] vir nog inligting.
  • Dien as ʼn afhaalpunt vir donasies en versprei die goedere vir ons.
  • Maak maandeliks ʼn donasie via ons PayFast-skakel. Elke R100 is goud werd.
  • Skenk van die broodnodige items. Daar is ʼn lys op die webwerf by Blessababy.org.
  • Maak ʼn skenking via ons BackaBuddy-blad.
  • Wees ʼn ambassadeur vir Bless a Baby en vertel almal van ons.
  • Skenk goeie gehalte gebruikte babaklere en vra ander ma’s om ook so te maak.
  • Vra die maatskappy vir wie jy werk om ons as begunstigde vir hul korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsplan te oorweeg.
  • Voeg Bless a Baby as begunstigde by op jou Woolworths MySchool MyVillage MyPlanet-kaart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wondermaarnet ·

Goeie gebaar en ja ek sal skenk, maar ek dink daar moet eerder op voorbehoeding konsentreer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.