ToekomsVenster: Ons kinders

(Foto: Drew Hays/Unsplash.)

“Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” – Markus 10:14 (AFR83)

Ek is diep besorg oor ons kinders en ek vertrou jy deel ook daarin. Luidens berigte het 21 jongmense, een selfs so jonk as 13, in ʼn taverne in Oos-Londen gesterf. So bitter hartseer, onnodig en ontstellend.

Dat kinders, sonder ouer-toesig in die vroeë oggendure te midde van drank en waarskynlik dwelms partytjie hou, is onverskoonbaar.

Het ons kinders dan so onregeerbaar geword dat hulle doen net wat hulle wil en ouers moet daarmee verlief neem?

Of het ouers so traak-my-nie-agtig geword dat kinders toenadering soek op verkeerde plekke?

Het klub- en taverne-eienaars so geldgierig geword dat hulle willens en wetens mense se lewens in gevaar stel?

Gee die gemeenskap so min om dat hulle nie meer die kinders in die omgewing se belange op die hart dra nie?

Het plaaslike owerhede so lamsakkig geword dat daar nie meer sinvolle en veilige ontspanningsplekke vir kinders ingerig word nie?

En plaaslike gemeentes, het die Evangelie sy krag verloor dat ons kinders koersloos deur die lewe gaan?

Daar behoort ʼn dag van rou uitgeroep te word, sodat Suid-Afrika kan treur oor sy kinders wat dood is.

Vlae behoort halfmas te hang en gesprekke behoort gevoer word oor hoe sulke insidente in die toekoms verhoed kan word.

Terwyl daar nog gewonder word oor wat presies gebeur het, word daar berig dat die taverne tot oorlopens toe vol was.

Jy sê dit is nie ons kinders nie?

Nou wie se kinders is dit dan?

Koos du Plessis (1945-1984) skryf ʼn gebed vir ons kinders waarvan die refrein as volg klink:

“Swerwers sonder rigting:

Soekers wat nooit vind…

En eindelik was almal maar

kinders van die wind”.

Mag dit nie waar wees van ons kinders nie. Dit was boonop pas Jeugmaand gewees. As ons nie ons kinders op pas nie, wie gaan dit doen?

Ons is verbondsouers. Ons het ʼn verantwoordelikheid. Ons toekoms is op die spel.

Hoe gaan dit by jou huis?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.