ToekomsVenster: God boer met genade

grassade

Foto: Anton Darius | @theSollers/Unsplash.com

“Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, en julle vra: “Waarom dan nie?” Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is…”Maleagi 2:13-14

Mense trou en die dominee sê: “julle sal een wees”. Die res van die getroude lewe word dan ʼn stryd om te besluit watter een julle dan word. Dit gee aanleiding tot ʼn toutrekkery van ʼn ander aard. Die stryd is onverkwiklik en word somtyds skaamteloos voor ander mense gevoer.

Kinders skarrel om van die konflik weg te kom en word selfs gedwing om kant te kies. Dit gee uiteraard aanleiding tot baie spanning, iets waarvoor jong kinders nie gereed is nie. Dit is nie gaaf om so iets aan jou gesin te doen nie.

Agter en onder die toutrekkery lê trots en hoogmoed. Dit gaan oor beheer. Iemand moet wen en daardie iemand moet natuurlik jy wees. Die waarheid is dat daar in die huwelik net sprake kan wees van twee wenners of twee verloorders. As een verloor, verloor albei. Jou gewaande oorwinning is oëverblindery. Moenie daaraan toegee nie.

Dit is ʼn hartseer feit dat te veel van ons, selfs Christene, nie toegerus is om die lewe en sy eise na behore te hanteer nie. Nie alles in die lewe kan in kategorieë van reg en verkeerd verdeel word nie.

Daar is grys gebiede en as ons nie bereid is om dit te hanteer nie gaan ons die lewe baie onplesierig maak vir onsself en vir ander.

Iemand het gesê God boer met genade. Niks minder word van sy kinders verwag nie.

Genade, lankmoedigheid, verdraagsaamheid en vergifnis is bedmaats. Jy kan die een nie noem sonder dat die ander ter sprake kom nie.

Konflikhantering is ʼn kuns wat min mense bemeester.

Boeliegedrag hoort nie in ʼn volwasse Christelike verhouding nie. Het ons dan die troubeloftes wat ons afgelê het so gou vergeet?

Ek sê dikwels wanneer ek paartjies trou dat die woorde, soos in die formulier is, my kort asem maak.

“AB, as man moet jy jou vrou liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het. CD, as vrou moet jy weet dat dit God is wat jou aan jou man verbind het, net soos die gemeente aan Christus verbind is”.

Dit is inderdaad ʼn hoë roeping en nie iets wat ʼn mens in jou eie krag kan vermag nie. Nee, die Heilige Gees moet ons toerus om so te leef.

Die Bybel sê ook verdra en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het.

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” – Kollosense 3:13

Kan ons nie maar die dinge van ʼn kind agter ons plaas en die karakter van Jesus al hoe meer in ons lewens openbaar nie? Hy wil ons daarmee help.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Na hierdie boodskap behoort elkeen elke dag te luister. Anderdag het ek gehoor: Dit is dalk beter dat die prokureur die huwelik bevestig, en die predikant later die skeiwerk doen.

Frank ·

Jip, dis nie 50/50 nie, dis 100/100 persent wat elkeen moet gee

Derek ·

God boer met genade is so waar, dit wat die skrywer deel is so waar. Ek dink aan die vraag oor die huwelik aan Christus deur die wets geleerdes, waarom Moses dan toelaat dat mense skei. Sy antwoord baie eenvoudig, omdat sommige nie harte van vlees het nie, maar harte van klip. Dit gaan nie oor die doop of besnydenis nie, maar die besnydenis van jou hart. Dáárdie dag toe Jesus Christus jou vrygemaak het van die livitiese wette, Galasiërs 3, toe jy Hom aangeneem het as Verlosser, Saligmaker en Geneesheer, daardie dag toe 1Korintiers 13 op jou hart tafel geskryf is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.