10 woorde waarvan jy die oorsprong (waarskynlik) nie ken nie

Argieffoto

Weet jy hoekom ‘n sepie ‘n sepie is, hoekom jy so seerkry as iemand met jou sarkasties is, en hoekom oefenklere al hoe duurder raak, al bedek dit al hoe minder? Lees hier:

sepie (s.nw.) – drama, meestal met ’n (lang) reeks episodes, onder meer met sentimentele (gesins)probleme as tema; formeel: strooisage (definisie aangehaal uit HAT6).

Dit is ʼn vertaling van die Engelse/Amerikaanse term soapie, wat ʼn verkorting is van soap opera, so genoem omdat dit meestal geborg is deur seepmaatskappye. (Want die kykers van sepies is gewoonlik dieselfde persone wat die huishouding se wasgoed was.)

silhoeët (s.nw.) – ʼn afbeelding van ʼn ding of persoon wat van agter belig word; ook ʼn kunswerk, populêr in Frankryk in die vroeë 18de eeu, waar ʼn persoon se profiel nagetrek is en dan uit swart papier geknip en op ʼn ligte agtergrond gemonteer is.

Frankryk het ná die Sewejaaroorlog (1756-1763) ernstige finansiële probleme beleef, en die minister van finansies van daardie tyd, ene Etienne de Silhouette, het streng maatreëls ingestel om die ekonomie te probeer red. Belasting is onder andere gehef op luukshede, wat die geestelikes en rykes (wat gewoonlik van belasting vrygestel was) swaar getref het. Hy is hieroor gehoon en uit die kussings gelig, en sy naam het sinoniem geword met enigiets wat goedkoop was. Die kunsvorm was goedkoop en maklik om te maak, en het die gewraakte minister se naam gekry.

Kwaker (s.nw.) – lid van ʼn protestantse groep wat vanaf die 1600’s in Engeland en Amerika aktief was/is en hulle veral toegespits het op sosiale geregtigheid en die afskaffing van slawerny.

Die groep is gestig deur George Fox, as ʼn teenvoeter vir die onemosionele manier waarop daar in die Anglikaanse kerk aanbid is. Hy is van godslastering aangekla en voor die hof gedaag. In sy outobiografie het hy geskryf dat hy die hof aangeraai het “to tremble at the word of the Lord” en toe deur ‘n regter Bennett gesê is dat hy die enigste een is wat in die hof gaan “quake” (bewe). Daarvan is die Engelse naam Quaker geskep, wat in Nederlands (en Afrikaans) as Kwaker vertaal is.

boikot (s.nw. of ww.) – weiering om aan iets (veral ʼn handelstransaksie) deel te neem.

In 1880 het die Irish National Land League werkers op ʼn landgoed in Ierland, wat aan ene Lord Erne behoort het, aangemoedig om te staak vir beter lone en werksomstandighede. Lord Erne se plaasbestuurder, Charles Boycott, wat die staking probeer afweer het, is deur die plaaslike gemeenskap uitgestoot. Plaaslike winkeliers het geweier om hom en sy gesin te bedien, voorraad vir die plaas moes uit Engeland gelewer word, en die posman het selfs geweier om sy pos af te lewer. Hy moes uiteindelik die hulp van die Britse regering inroep, wat lede van die weermag gestuur het om die situasie te beredder. Daar word beraam dat dit destyds £10 000 gekos het om ʼn oes in te samel wat £500 werd was. Sy naam het daarna sinoniem geword met enige soort veldtog waarvan niedeelname ʼn kernelement is.

paleis (s.nw.) – vorstelike verblyf.

Ontleen uit Nederlands, wat dit via Oudfrans (palais) uit Latyn (Palatium) gekry het. Dié Latynse Palatium is in Afrikaans die Palatyn, een van die sewe heuwels van Rome, en spesifiek die een waarop die Romeinse keiser se woning gestaan het.

elektrisiteit (s.nw.) – vorm van energie wat lig, warmte, magnetisme en chemiese veranderinge kan teweegbring en opgewek kan word deur wrywing, induksie of chemiese veranderinge (definisie aangehaal uit die WAT).

Die woord kom van die Nieu-Latynse term electricus. Nieu-Latyn is ná die Middeleeue ontwikkel om veral wetenskaplike name te skep. Die term is vir die eerste keer deur die Engelse natuurkundige William Gilbert ingespan, en dit is afgelei van die Latynse woord ēlectrum, wat die naam was vir amber. Amber het naamlik die eienskap dat dit statiese elektrisiteit opwek as ʼn mens daaroor vryf.

alkohol (s.nw.) – ʼn chemiese produk van die gistings- en distillasieproses.

Afrikaans het die woord via Nederlands (alcohol) uit Latyn (ook alcohol) gekry, wat dit uit Arabies (al-kuhl) geleen het. Die More, wat van Marokko afkomstig was, was die eerste om die element antimoon te onttrek, en hulle het die fyn, swart poeier as geneesmiddel en oogomlyner (herken jy kohl?) gebruik. Die Europeërs het die stof in Andalusië leer ken en later met dieselfde woord na enige onstabiele stof begin verwys, ook na die bestanddeel in drank wat ʼn mens so onstabiel kan maak.

sarkasme (s.nw.) – bytende, minagtende gespot.

As jy dus voel asof iemand se sarkastiese opmerkings jou verskeur, is jy nie ver van die waarheid af nie. Die woord is oorspronklik afkomstig van die Griekse woord sarkázein wat letterlik beteken het ‘om vleis af te skeur’.

xteken vir ʼn soen.

Die Oxford English Dictionary se leksikograwe het bevind dat die eerste teks waarin ʼn x gebruik is om ʼn soen aan te dui, ʼn brief was van die Britse naturalis en geestelike Gilbert White, wat hy in 1763 geskryf het en afgesluit het met die frase “I am with many a xxxxxxx and many a Pater noster and Ave Maria”.

Dit is ʼn fraai storie, maar kennelik nie noodwendig korrek nie. Die gebruik kan moontlik ook toegeskryf word aan ʼn baie ouer tradisie, naamlik dat ʼn skrywer ʼn brief afgesluit het met ʼn x en dan die x gesoen het om sy/haar opregtheid oor die inhoud uit te druk.

Hoe dit ook al sy, dis ouer as rekenaars en selfone en Facebook en selfs opgevoude briefies wat jy pouse in jou baadjiesak ontdek het. Jou geliefde, hoe toegewyd ook al, het dit nie uitgedink nie.

gimnasium (s.nw.) – plek waar sommige mense oefen en ander hulle spiere afwys (of hulle eie spiere in die spieël bewonder).

Afkomstig van gymnasium, wat ʼn latinisering van die Grieks (gymnasion) was. In Grieks het die woord verwys na ʼn skool/opleidingsentrum waar jong mans oor 18 opgelei is in sport, filosofie, letterkunde en musiek. Die woord is afgelei van die Griekse byvoeglike naamwoord gymnos, wat ‘nakend’ beteken het, en die skole is so genoem omdat die atlete, as eerbewys aan die gode, nakend aan sportitems deelgeneem het. Destyds was Herakles, Hermes en Theseus die gode wat as beskermhere vir gimnasiums opgetree het. Deesdae, vermoed ek, is Narcissus ook ʼn ontvanger van al dié eerbetoon.

VivA-groete
Sophia

Bronne:
9 interesting word facts you didn’t know
Ten Unusual Etymologies
10 Words With Interesting Etymologies
14 of the Most Fascinating Word Origins in the English Language
A treasure trove of Arabic terms
Etimologiewoordeboek van Afrikaans
etymologybank.nl
etymonline.com
e-WAT
HAT6

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan Aucamp ·

Geagte Sophia
My lieflike vrou is Skots, en my meisie is Afrikaans. Ek het altwee baie lief.
Jy karring nie aan my vrou nie, en jy los my taal uit!
Laat ons nie skreeu: “Praat Afrikaans” nie, maar laat ons Afrikaans praat. Met apologie aan Hennie Aucamp. Of so dink ek.

Cornelia ·

U artikels is sonder uitsondering leersaam en interessant. ‘n Mens word nooit te oud om te leer nie. Wat ‘n openbaring. Ek is veral stomgeslaan oor die herkoms v.d. woorde “boikot” en “sarkasme.” Dankie vir die fyn humor wat u soms invleg. Geniet dit terdeë. U doen baie moeite om die skoonheid van ons taal in sy ryke skakerings met u vakkennis so aan te bied dat dit mens met respek en eerbied vul. Dankie daarvoor.

Haan ·

Puik artikel. Interessant: Boycott se van was aanvanklik Boycatt (van franse Hugenoot oorsprong) maar die familie het later self die van na Boycott verander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.