21 Taalwetmatighede en die toekoms van Afrikaans

afrikaanse-taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Afrikaans is een van net vier tale wat in die twintigste eeu kon moderniseer tot ’n volle funksionele taal. Die historikus Hermann Giliomee noem dit “die merkwaardigste kulturele verskynsel van Suid-Afrika in die twintigste eeu”. Daarby was Afrikaans die sterkste literêre taal in die land in die 1990’s, as produksie in Suid-Afrika as maatstaf gebruik is.

Maar Afrikaans se posisie het daarna vinnig begin verswak, en dis nodig dat Afrikaans leer uit die internasionale taalervaring en die navorsing van toptaalkundiges. Hierdie 21 “taalwetmatighede” is ’n opsomming van die belangrikste taallesse soos dit uit internasionale navorsing en gevallestudies blyk.

1. Taalverskuiwing na ’n wêreldtaal bedreig kleiner tale

Die grootste gevaar vir ’n betreklike klein taal is die geleidelike taalverskuiwing na ’n wêreldtaal soos Engels toe – gewoonlik ná ’n oorgangstydperk van tweetaligheid. Taalsosioloë soos Jean Laponce en prof. Jaap Steyn voer aan dat die grootste faktor wat taalverskuiwing veroorsaak die gebrek aan ’n taalgebied is waarin dit die moedertaal van die grootste meerderheid inwoners vorm.

2. Tweetalig word eentalig

Die Franssprekende taalsosioloog, Jean Laponce, waarsku dat ’n tweetalige skool of universiteit bloot die skyn van taalgelykheid skep. Tweetaligheid in ’n opvoedkundige instelling is in die praktyk ’n oorgangsproses na taalinlywing en uiteindelik na eentaligheid in die wêreldtaal.

3. Hoër taalfunksies is noodsaaklik vir taaloorlewing

Die handhawing van ’n taal se hoër funksies is bepalend vir die toekoms van enige taal. Dit behels die amptelike gebruik van ’n taal in die staatsdiens, geregshowe, universiteite, skole en die handel. Kom ’n taal nie in sy hoër of formele funksies tot sy reg nie, ondermyn dit gaandeweg ook die taal se laer of informele funksies, soos die algemene gebruik van die taal by die huis. Hierdie vraagstuk bied besondere uitdagings as die voorstanders van die kleiner taal uitgesluit is van politieke mag omdat die magshebbers die beheer oor die hoër funksies uitoefen. Die bekende opvatting dat Afrikaans sal oorleef solank dit net in ons harte is, gepraat word en ’n vriendelike taal is, verreken nie en onderskat die bestaansvoorwaardes vir taaloorlewing.

4. Taalproduksie bepaal taalverbruik

Die belangrikste teenstelling met die stand van Afrikaans is dat, hoewel taalverbruik skynbaar floreer, taalproduksie kwyn. Daar is die afgelope jare ’n groot oplewing in die informele funksies soos Afrikaanse musiek, kunstefeeste en ligte leesstof. Sonder produksie is verbruik egter nie volhoubaar nie. Met taalproduksie word verwys na universiteite en skole waar ’n nuwe geslag Afrikaanssprekendes opgelei word en waar Afrikaans as wetenskaps-, tegnologie-, literêre en vaktaal verder ontwikkel word.

5. Taalmedia is die belangrikste vermenigvuldiger

Die media is ’n noodsaaklike “vermenigvuldiger” van taal en taalinstellings. Die media bied aan mense ’n leefwêreld in hul eie taal en bind ’n taalgemeenskap saam. Die media kan hul gebruikers inlig, opvoed en vermaak. Dit is ’n vermenigvuldiger van Afrikaanse instellings se werk en kan byvoorbeeld Afrikaanse skole bevorder, Afrikaanse koopkrag mobiliseer, steun werf vir Afrikaanse projekte en ’n Afrikaanse lewe moontlik maak.

6. Onderwys en opleiding kweek die volgende geslag sprekers

Dit is ironies dat diegene wat tydens die Soweto-opstande van 1976 teen Afrikaans as die taal van die verdrukker in verset gekom het, nou geesdriftig die taal van die grootste koloniale moondheid in die onlangse geskiedenis ondersteun. Die politieke ideologie van nasiebou is vir die bewindhebbers belangriker as die gevolge van hierdie opvoedkundige taalmishandeling van miljoene swart kinders. Suid-Afrika is moontlik nou die enigste land ter wêreld waar dit van sy kinders verwag word om hul huistaal te laat vaar.

Moedertaalonderrig is nie net ’n taalbeginsel nie, maar veral ook ’n opvoedkundige beginsel. Daar is genoegsame bewyse dat jongmense ten beste kennis in hul eie taal opdoen, wat hulle dan terselfdertyd in staat stel om hierdie kennis ook doeltreffend in ’n ander taal toe te pas.

Dr. Rolf Stumpf het, toe hy president van die RGN was, met verwysing na die goeie uitslae van Afrikaanse moedertaalskole teenoor ander openbare skole gesê dat ons land eerder ’n taalprobleem as ’n onderwysprobleem het. Die Zimbabwiese geleerde, Tembo Dlodlo, het al in 1997 gewaarsku dat Afrika “wetenskaplik, ekonomies en tegnologies agterlik” sal bly, tensy skole kinders se moedertale as onderrigmedium begin gebruik.

Universiteite is egter net so belangrik. Prof. Lawrence Schlemmer het dit treffend saamgevat: “Die grootste gevaar vir Afrikaans is: As dit as universiteitstaal verswak of verdwyn, sou dit die ondergang van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang, en ook as letterkundige taal beteken. Baie tale het al op grondvlak oorleef, maar kon nie voluit leef in al hul taalfunksies nie. Daar is min twyfel dat Afrikaans in sportstadions, kafees, kroeë, en sit- en slaapkamers gaan oorleef. Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak oorleef nie? Soos die meeste ander inheemse Afrikatale sal Afrikaans in so ’n geval onthoof wees.”

Prof. Giliomee het ook gewaarsku dat die verengelsing van eertydse Afrikaanse universiteite vir Afrikaans rampspoedig kan wees. Hy meen dat sonder Afrikaanse universiteite, wat ’n Afrikaanse kultuurkarakter dra, daar nie veel kans is dat Afrikaans as taal met hoër funksies kan voortbestaan nie. Dit sal volgens hom ook lei tot die verengelsing van die Afrikaner-elite.

7. Ekonomiese waarde van ’n taal is noodsaaklik vir oorlewing

Dit is noodsaaklik dat ’n taal ook ’n ekonomiese waarde het wat beteken dat mense ook in hul moedertaal moet kan werk of ekonomies aktief moet kan wees. Dit sluit natuurlik die beheersing van ’n wêreldtaal soos Engels saam met hul moedertaal in. Dit is insiggewend dat die Indiese grondwet bepalings bevat wat taalkennis ’n voorvereiste maak vir indiensneming in bepaalde provinsies van die land. Daarteenoor maak die rassekwotas vir indiensneming in Suid-Afrika dit uiters moeilik om Afrikaans in die ekonomie te gebruik, en raak Engels daarom selfs die amptelike en saketaal in die Wes-Kaap.

8. Amptelike erkenning en gebruik bepaal taalstatus

Die Grondwet maak teoreties vir die amptelike status van 11 tale voorsiening, maar in die praktyk het Engels die landstaal en die prestigetaal geword. Dit het veral gebeur vanweë die status wat vanaf owerheidsweë aan die taal verleen word, terwyl die mag van Engels as wêreldtaal natuurlik ook grootliks daartoe bygedra het.

9. Taalaktivisme en taalbedinging is noodsaaklik

Prof. Nic Grové van die Universiteit van Pretoria het tereg gesê dat ’n mens nie mag weggee wat nie joune is om weg te gee nie. Dit is inderdaad belangrik dat Afrikaans die beeld van ’n vriendelike en versoenende taal moet hê en dat die taal se sprekers in hul ywer om hul taal te beskerm, nie mense van ander tale moet vervreem nie. Dít beteken hoegenaamd nie dat die prys van versoening die voortbestaan van die taal self mag wees nie – dan is die prys te hoog. Vriendelikheid moenie met slapheid verwar word nie – ’n laat-maar-loop-houding loop uit op taaldood of taalmoord. Dit is hoekom die bekende “wet van Laponce” lui: “Hoe vriendeliker mense teenoor mekaar is, hoe feller woed die geveg tussen tale.”

10. Volle taalfunksies is belangrik vir ’n vol taallewe

’n Lewende taal met ’n toekoms is ’n taal wat ’n volledige funksionele taal is en nie net vir sekere funksies gebruik word nie. Hoe meer funksies ’n taal verloor, hoe vinniger gaan die taal se gebruikswaarde agteruit, hoe kleiner krimp sy taalwêreld, en hoe makliker verskuif sy taalgemeenskap na ’n ander meer bruikbare taal.

Dit beteken hoegenaamd nie dat ’n taal homself moet probeer afsonder op ’n taaleiland nie – die beheersing van ’n wêreldtaal is steeds nodig.

11. Taalinstellings is noodsaaklike vermenigvuldigers

Taalinstellings is noodsaaklik vir die oorlewing van ’n taal, veral vir minderheidstale wat nie oor ’n eie grondgebied en owerheid beskik nie. Hierdie instellings se taalkrag bestaan daaruit dat ’n minderheidstaal in die instelling ’n meerderheidstaal is. Instellings soos skole, die media en gemeenskapsorganisasies kan ook as belangrike vermenigvuldigers van tale dien. Om die volle funksionaliteit van ’n taal te behou is dit belangrik dat daar vir elke gebied sterk taalinstellings bestaan. Die belegging in taalinstellings op alle belangrike gebiede is ’n onmisbare deel van ’n taalstrategie.

12. Taalpraktyk is belangriker as taalteorie

Afrikaans is een van ons land se 11 amptelike tale wat Suid-Afrika in teorie ’n veeltalige land maak. Die nasionale talewet, wat beslag hieraan moes gee, is eers ná ’n hofsaak in 2011 gefinaliseer en bied nie voldoende beskerming aan al die nie-Engelse tale nie. ’n Groeiende gaping tussen die grondwetlike teorie en die taalpraktyk het gevolglik vinnig ontstaan, en dit het geblyk dat die regering se verbintenis tot veeltaligheid oorwegend net lippediens was.

Wanneer die owerheid nie verantwoordelikheid vir ’n minderheidstaal aanvaar nie, is die enigste oplossing dat die taalgemeenskap dit self doen deur sterk selfdoentaalinstellings te stig.

13. Groepsregte is ’n voorwaarde vir taaloorlewing

Die beskerming van groepsregte mag in Suid-Afrika omstrede wees, maar dit word internasionaal wyd gesien as ’n voorwaarde vir die gelyke genieting van die individuele regte van ’n kleiner taalgemeenskap. Die rede daarvoor is dat die individuele regte van ’n meerderheid in die praktyk voorkeur geniet bó die individuele regte van lede van minderheidsgemeenskappe. Minderhede kan dit eenvoudig nie bekostig om in ’n getallewedloop met meerderhede betrokke te raak nie omdat dit ooglopend lei tot politieke ongelykheid. Gelykheid is tog nie net ’n formele begrip nie, maar moet ook wesenlike gelykheid verteenwoordig. ’n Taal het vir sy oorlewing die volledige spektrum van regte van taalgroepe nodig.

14. Taalgetalle en -verspreiding is toekomsbepalend

’n Taal groei as sy getal sprekers toeneem, en kwyn as die getalle daal. Die 2011-sensus toon dat 13,5% van Suid-Afrikaners se huistaal Afrikaans is – wat 6,58 miljoen mense verteenwoordig. Dit maak van Afrikaans die derde grootste huistaal in die land. Die meeste Afrikaanssprekendes woon in die Wes-Kaap (2,8 miljoen), gevolg deur Gauteng met meer as 1,5 miljoen. Die uitdaging vir hierdie taalgemengde gebiede is dat hulle terselfdertyd die migrasiebestemming van ’n groeiende aantal nie-Afrikaanssprekendes is, en dat regeringsbeleid, ekonomiese sentralisering en globalisering Engels bevoordeel.

Die verspreiding van ’n taal se sprekers is egter net so belangrik as sy getalle. ’n Groot uitdaging vir Afrikaans is dat die meeste sprekers in gebiede met ’n taalgemengde bevolking bly. Die konsentrasie Afrikaanssprekendes is die sterkste in die ylbevolkte Noord-Kaap. Die voordeel hiervan vir Afrikaans is dat hierdie gebied betreklik afgesonderd is met minder sprekers van ander tale en die gepaardgaande taalmededinging.

15. Taalwil en taalhandhawing is deurslaggewend

Die wíl van ’n taal se sprekers om die taal te handhaaf, is die belangrikste voorwaarde vir taalhandhawing. Hierdie taalwil blyk onder meer uit die mate van ’n taalgemeenskap se waardering vir hul taal, letterkunde en ander kulturele werk. Die bewustheid van taalbedreiging en die bereidheid om hul taal in die vorm van taalgetrouheid en doelbewuste toewyding aan taalbevordering te handhaaf, is net sulke bepalende voorwaardes.

16. Taal is bepalend vir voorspoed

Afrikalande het feitlik voor die voet die voormalige koloniale tale om politieke redes tot amptelike status verhef omdat hulle dit as die beste “nasiebou”-strategie gesien het. Terwyl dit ten beste gemengde welslae as politieke strategie gehad het, het dit ekonomies gesproke rampspoedige gevolge vir die breë bevolking gehad.

Die eerste slagoffer van hierdie strategie was gewoonlik die skoolstelsel, wat deur die invoer van vreemde tale geslagte kinders ontmagtig het. Ghandi het verklaar dat die invoer van Engels as skooltaal Indië ten minste ’n geslag teruggesit het.

17. Taal moet deel wees van identiteit

Die bekende taalkundige, prof. Jaap Steyn, meen dat waar taal ’n belangrike simbool van ’n volk of gemeenskap se identiteit is, dit sterker bestand is as in gemeenskappe waar die taal slegs beskou word as ’n kommunikasie-instrument wat, indien nodig, verruil kan word vir ’n nuttiger taal.

Ná die Anglo-Boereoorlog het taalnasionalisme ’n deurslaggewende rol gespeel om Afrikaans ná die nederlaag en gepaardgaande verlies aan taalfunksies en -status te red. Só het taalgetrouheid ’n bepalende toets vir Afrikanerskap geword en was dit die spilpunt waar rondom ’n taalstryd teen Engels gevoer is.

Breyten Breytenbach het tereg gesê dat Afrikaans nie net ’n gemakstaal of ’n voertaal kan wees nie, maar ’n uitdrukking van identiteit én vormgewing van ’n ideë- en gevoelswêreld is.

18. Afrikaans moet bybly in die tegnologiese wedloop

Die tegnologie- en inligtingsrewolusie is waarskynlik ’n groter bedreiging vir Afrikaans as regeringsbeleid en -praktyk. Daarom is dit noodsaaklik dat Afrikaans in hierdie tegnologiese taalwedloop bybly deur Afrikaanse tegnologie en veral Afrikaanse inligting en kennis wyd beskikbaar en toeganklik te maak. Skoolkinders se vrye toegang tot gehalte-inligting in Afrikaans moet die grootste prioriteit geniet.

19. Tale het beskerming nodig

Moderne taalminderhede weet dat hul klein getalle hul kwesbaarste punt is en dat hulle nie net op hul getalle kan staatmaak vir hul taalwelstand nie. Selfs ’n groot taalgemeenskap soos Frankryk beskerm hul taal aktief. Die land se minister van kultuursake dra die verantwoordelikheid om Frans se welstand te monitor en die taal van 60 miljoen Franse te beskerm.

20. Samewerking met taalvennote in Suid-Afrika en stamlande is nodig

Dit is belangrik om te besef dat Afrikaans aan al sy sprekers behoort en nie aan ’n bepaalde groep nie. Afrikaans is inderdaad een taal met vele kulture. Terselfdertyd behoort die taal se toekoms nie net aan die aantal sprekers nie, maar aan die sprekers wat taalbewus is, die taalbedreigings besef en bereid is om iets daaraan te doen.

21. Politieke mag is belangrik vir ’n taal se toekoms

Die geskiedenis van die opkoms en val van ryke en tale bewys dat politieke en militêre mag, gerugsteun deur ekonomiese welvaart, waarskynlik die enkele grootste rede agter die huidige stand, omvang en welstand van die wêreld se groot tale is.

Hoewel die koloniale era lankal verby is, verleen die voortgesette politieke, ekonomiese, kulturele en militêre mag van die Engelssprekende wêreld steeds ’n magtige stukrag aan Engels. Afrikaans het op sy beurt weer op ’n veel kleiner skaal gebaat by die politieke, ekonomiese en militêre mag wat Afrikanersprekers voor 1994 uitgeoefen het. So het Afrikaans vanweë sy politieke mag daarin geslaag om ’n veel groter invloed as sy getalle uit te oefen. Net soos die verlies aan politieke mag Russies in Suid-Asië en Sentraal- en Oos-Europa erg nadelig geraak het, het die nuwe orde met sy skielike magsverskuiwing Afrikaans uit die staanspoor verswak.

Dit is vanweë taal- en getallewerklikhede nie praktiese politiek om van Afrikaans weer ’n bepalende politieke mag te maak nie, maar dit is wel nodig dat Afrikaanssprekendes besin oor maniere om wel hul politieke bedingingsmag te verhoog – binne en buite die parlement. Hierdie bedingingsmag behoort dan aangewend te word om Afrikaans te beskerm.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nikolaas Pienaar ·

Ek dink n saak kan uitgemaak word vir n nommer 22: Godsdiensuitlewing in moedertaal.

Daar bestaan geen groter voorreg as om jou Skepper en Velosser in jou hartstaal aan te roep en te ken nie.

Baie wêreldtale is ook ‘gekodifiseer’ tesame met bybelvertaling, dink maar aan Luther se Duitse vertaling, die Nederlandse Statenvertaling, die Engelse KJV en 1933 se Afrikaans.

Hierdie vetalings het ook groot impak op gelettertheid, opvoedkunde en literêre ontwikkeling gehad.

Ampie ·

Flip, ek stem saam. Kunstefeeste, Afrikaanse musiek en die feit dat mense nog met mekaar Afrikaans praat is nie voldoende vir die behoud van Afrikaans nie. “Kunstenaars” se swak, “awesome” taalgebruik is in elk geval ‘n steen des aanstoots. Die taal in opvoeding (veral universiteite), howe en op owerheidsvlak is noodsaaklik. Die slegte nuus is dat baie Afrikaners maar te gretig is om swak Engels te praat. Ons lingua franca is mos al lankal swak Engels. Seker omtrent 95% ondernemings met Afrikaanse base (baie groot plekke tot piepklein) se kommunikasietaal, webwerf en korrespondensie of fakure is als in Engels. Jong mense (ook middeljariges!) se facebook inskrywings is 80% plus Engels. Oor Afrikaanse ouers wat kinders in Engelse skole sit het julle al voorheen gepraat. In kort, ons is terug na die Tweede Vryhiedsoorlog en die “skande” van Afrikaans wees en praat. Dis nogal ‘n teleurstelling van ons volksgenote. ‘n Groter teleurstelling is ons mede-Afrikaanses, die Kleurlinge. Engels is blykbaar die enigste taal wat verstedelike Kleurlinge kies om mee te kommunikeer. Kleurling kollegas van my sal met mekaar Afrikaans praat en oomblikke later Engels met my, hoewel ek in Afrikaans teruggesels. Met enkele uitsonderings (in Gauteng in elk geval) word kinders in Engelse skole gesit. In hierdie opsig is die swart taalsprekers, Afrikaanse Kleurlinge en baie Afrikaners in dieselfde hoek: hulle is so gebreinspoel deur Engels, Engels, alles Engels dat hulle nie meer waardering vir hul moedertaal het nie. Ek hoop Solidariteit het ‘n plan hierteen? Ek dink dis ons laaste kans om Afrikaans te red. As die owerheid sy sin kry gaan skole ook eersdaags almal swak Engels onderrig en dan is Afrikaans seker naby aan sy einde.

Johan 2 ·

Die verlamde geslag (of dalk eerder die verpletterde geslag) waarvan my werkgewer deel is stel gkadnie in Afrikaans belang nie…ek werk slegs in Engels en “baste”…Wens hul wil nou aftree (hul is in hul laat 50s) en aan ons oorgee sodat ons dit kan regstel.

Therese van Schalkwyk ·

Nog ‘n uitstekende artikel uit Flip Buys se pen, maar as die regte mense dit nie onder oë kry en ter harte neem nie, dan is dit maar net nog een vir die argiewe waar naslaanwerk eendag oor Afrikaans se verdwyning op universiteitsvlak gedoen gaan word.

Die mense wat dit moet lees, is die geagte rektors/vise-rektors van die vier histories Afrikaanse universiteite en ook al die mense van die Afrikaanse Taalraad en sy verskeie vertakkinge. Toe ek laas gelees het, was daar iets soos 43 affiliate! Genugtig, vir so ‘n klomp mense wat met taalsake besig is, is daar min positief te rapporteer na 20 jaar. Inteendeel, Afrikaans sien haar alie op die een gebied na die ander, met die Ruimtenavorsingsraad as ‘n onlangse voorbeeld.

Dalk moet punt no. 9 wat handel oor “taalaktivisme” veral onder die ATR se aandag gebring word, want “vriendelikheid” het beslis “slapheid” geraak by mense in gesagsposisies wat vir Afrikaans moet optree. Moedertaalliefhebbers en bekommerdes word “regse taalbulle” genoem wat “hunker na die verlede”. Ens.

Dis hartseer om toe te kyk hoe Afrikaans afgeskaal en uitgewerk word, terwyl die mense wat die meeste vir haar omgee, nie met mekaar gesels nie. Lees gerus Leon Lemmer se gereelde en insiggewende artikels oor Afrikaans op die Matie-kampus. Dis op die PRAAG-webblad te kry. (Mense hoef nie noodwendig beste maatjies te wees om vir dieselfde sake om te gee nie.)

Verder stem ek heelhartig saam met alles wat Ampie (hierbo) sê. Veral die gebruik van Engelse woorde wanneer daar 4 of 5 pragtige Afrikaanse woorde bestaan, het skrikwekkende afmetings aangeneem. Dat bruin Afrikaanssprekendes hul stemme moet laat hoor vir Afrikaans as akademiese taal is ook noodsaaklik.

Jacques Mare ·

Dagse Therese,

Jy skryf: “Genugtig, vir so ‘n klomp mense wat met taalsake besig is, is daar min positief te rapporteer na 20 jaar. “Inteendeel” Afrikaans sien haar alie op een gebied na die ander, met die Ruimtenavorsingsraad as onlangse voorbeeld.

Die woord “inteendeel” in bogenoemde teks behoort vervang te word met “trouens”, omdat jy die verklaring in die vorige sin wil bevestig, en nie wil weerspreek nie. Die woord “inteendeel”gebruik mens net wanneer jy die teenoorgestelde van die verklaring in die voorafgaande sin wil beskryf of aan die leser wil verduidelik. In bogenoemde konteks is die gebruik van “inteendeel” verwarrend.

Lekker dag verder :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.