51 nuwe Bybelvertalings in 2014-rekordjaar

Argieffoto (Foto: weinstock, Pixabay)

Argieffoto (Foto: weinstock, Pixabay)

Bybelgenootskappe dwarsoor die wêreld was in 2014 betrokke by die voltooiing van vertalings in 51 tale, ‘n rekordaantal vir Bybelvertaling ongeag soms moeilike omstandighede soos ’n bomaanval op die vertalers se kantoor in Nigerië.

Volgens ‘n verslag wat onlangs deur die Wêreldbond van Bybelgenootskappe gepubliseer is, het 18 tale in 2014 vir die eerste keer ‘n volledige Bybel ontvang, 10 tale ‘n Nuwe Testament en in twee tale is daar vir die eerste keer ‘n volledige Bybelboek gepubliseer. Hierdie 30 vertalings het die potensiaal om die Bybel vir bykans 10 miljoen mense toeganklik te maak.

Die volledige Bybel is nou in 542 tale beskikbaar, die Nuwe Testament in 1 324 en ‘n verdere 1 020 tale beskik oor ten minste een Bybelboek. Daar is egter nog sowat 4 015 tale wat deur 460 miljoen mense gepraat word, waar mense nog niks van die Bybel in hulle moedertaal het nie.

‘n Verdere 21 tale het nuwe of hersiene vertalings ontvang, waarvan 14 volledige Bybels was.

Van die Bybels wat verskyn het, is bekendgestel in lande met groot uitdagings. In Nigerië waar Boko Haram, die militante Islamitiese groep meer aanvalle as ooit tevore uitgevoer het, kon die Bybelgenootskap vier nuwe Bybelvertalings publiseer en het sowat 2,1 miljoen Nigeriërs vir die eerste keer toegang tot die volledige Bybel in hulle moedertaal. Selfs ‘n bomaanval op die kantoor van die vertalers van die Bura Bybel, kon nie die bekendstelling van hierdie Bybel vertraag nie.

In Liberië wat verlede jaar deur Ebola geteister is, het die sprekers van twee tale, Kpelle en Suid-Kisi, vir die eerste keer die Bybel in hulle taal ontvang, juis op ‘n tydstip wat mense die Woord van God in hulle taal broodnodig gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.