Aan’t huis by moeder van Afrikaans

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe. (Foto: Verskaf)

Waarskuwingsligte flikker al ʼn geruime tyd vir Afrikaanse tydskrifte, koerante en ander gedrukte media. ʼn Mens sien ook die gevaartekens wanneer jy by jou naaste supermark instap en ʼn byna leë tydskrifrak teëkom.

Digitale publikasies se pad deur dié bedreigde landskap is ook nie sonder kronkels en uitdagings nie. Daarby beland Afrikaans gedurig in ʼn spervuur en dit skets maar ʼn droewige toekomsbeeld.

Dan is daar ook die nistydskrifmark, publikasies wat meer om die lyf het en wat ʼn baie spesifieke leser bedien – weldra nie iets waarin Jan Alleman hom in elk geval sal begewe of verlustig nie. Een voorbeeld is akademiese vaktydskrifte en aanlyn joernale wat aan die vereistes van wetenskaplike navorsing binne ʼn bepaalde veld moet voldoen. Dink byvoorbeeld aan LitNet-Akademies, Tydskrif vir Letterkunde, Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie en Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW).

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe, redakteur van TGW, is vanjaar met die Jan H Marais-prys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal vereer. In ʼn onderhoud met Maroela Media gesels sy oor haar loopbaan en dié tydskrif se sukses.

Aan’t huis

In Hartbeespoort, waar Gräbe en haar man Johan woon, kry sy die geleentheid om asem te skep, die natuurlewe te bewonder en so dan en wan familie en vriende te onthaal.

“Ek is ʼn diereliefhebber en was bevoorreg om vir bykans 16½ jaar die geselskap van ʼn spesiale klein hondjie te kon geniet,” vertel Gräbe. Sedert haar hond verlede jaar dood is, gee Gräbe die voëltjies op die agterdek van hul huis kos.

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe en haar man Johan. (Foto: Verskaf)

“Dit is ʼn belewenis om die voëllewe in die papierbasdoringboom dop te hou, of steeds verras te word deur die pragtige sonsondergange oor die Hartbeespoortdam.”

Gräbe geniet dit nie juis om te kook nie en is dankbaar dat haar man met graagte dié taak oorneem.

“Ek hou nie eintlik van elke dag kosmaak nie – gelukkig is my man ʼn bedrewe en gewillige kok, wat my trouens in staat stel om die TGW-werk te kan doen.” Die egpaar reis graag, deesdae binnelands en binne die toegelate beperkinge van die koronavirus, en hulle geniet dit albei om na klassieke musiek te luister. En as Gräbe die kans kry om iets anders as TGW-artikels in verskillende stadia van wording te lees, sit sy steeds met haar neus in ʼn boek.

“Ek was van kleins af ʼn boekwurm en moes gereeld planne bedink om tog net in vrede te kan sit en lees, en nie geroep te word om allerlei huishoudelike take te verrig nie,” vertel sy.

Dit was nie noodwendig een van Gräbe se kleintyddrome om ʼn akademiese loopbaan te volg nie, maar sy het omtrent in graad nege geweet haar hoofvakke op universiteit sou Afrikaans en Duits wees.

Gräbe het aan die destydse PU vir CHO, tans die NWU, gepromoveer en het ná haar universiteitsopleiding eers ʼn paar jaar skoolgehou. “Onderwys is in ons gene,” voeg sy by.

Tussendeur het Gräbe deeltyds verder studeer of klavierles geneem, maar dit is eers nadat sy teruggekeer het van doktorale studie in Nederland dat sy voltyds aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (UPE) aangestel is as lektor in algemene literatuurwetenskap. Van daar af het die res vanself gevolg.

Sy was van 1984 tot met haar aftrede in 2005 verbonde aan Unisa, eers aan die Departement Algemene Literatuurwetenskap en later Afrikaans. Gräbe is bekend vir haar werk as teoretikus en ook as dryfkrag agter TGW, wat as die belangrikste Afrikaanse akademiese tydskrif met internasionale aansien bestempel word.

Oor die Jan H Marais-prys

Die Jan H Marais-prys is een van die gesogste pryse wat werk in Afrikaans vereer. Gräbe het dié prys vanjaar saam met prof. Hennie van Coller ontvang.

“Jy klink nou soos ʼn susterskind wat aan al wat leef en beef ‘verkondig’ dat sý tannie die Nobelprys vir Afrikaans gewen het. Of soos my wederhelf, wat hierdie uitspraak graag binne ons vriendekring herhaal,” skerts Gräbe.

Prof. Ina Wolfaardt-Gräbe aan woord by die ontvangs van die Jan H Marais-prys. (Foto: Jaco Marais)

Sy dink dit is beslis iets waarop haar ouers, om haar onthalwe, trots sou gewees het. Trouens, te oordeel na die reaksie van familie, vriende en kollegas in die algemeen, is daar wel rede om trots te wees op so ʼn gesogte toekenning, meen sy.

Gräbe heg ʼn besondere waarde aan dié eer wat haar te beurt geval het. “Vir my persoonlik beteken dit baie dat ek die Jan H Marais-prys in hierdie stadium van my lewe kan ontvang én dat daar andere is wat saam met my die vreugde daarvan kan beleef.”

Sy verduidelik verder: “Om ʼn prys te kan ontvang vir ʼn ‘lewensbydrae’ is verblydend, want dit beteken dat navorsing wat ʼn mens tot op hede gedoen het, terugwerkend deur andere beoordeel word as ‘goed’ of ‘goed genoeg’.”

Dat so ʼn terugwerkende beoordeling geïnisieer is deur medenavorsers vir wie se werk sy baie respek het, is uiteraard ʼn bykomende rede waarom sy dié toekenning as iets heel besonders kan koester.

Volgens Gräbe is pryse wat navorsing, en spesifiek lewensbydraes, in Afrikaans erken en beloon van sleutelbelang.

“Dwarsdeur ʼn mens se loopbaan is daar opgeleide mense wie se taak dit is om vas te stel of jy behoorlik gevorder het, of jy bepaalde toetse kon slaag en of sekere kwalifikasies aan jou toegeken kan word.

“Pryse waardeur navorsing beoordeel en beloon word, is maar een van die instrumente in wat vandag in opvoedkundige kringe bekend staan as ‘deurlopende assessering’,” sê Gräbe.

Volgens haar is so ʼn prys wat gereserveer word vir navorsing oor en in Afrikaans, as ʼn bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal, iets wat tegelyk uitsluitend en rigtinggewend is. Gräbe sê dit geld nie vir alle navorsing nie, maar dien spesifiek as aansporing om navorsingsresultate in Afrikaans bekend te stel.

In die redakteurstoel

Gräbe het haar in 2001 by die TGW-redaksie aangesluit. Sedertdien het die tydskrif onder haar leiding van ʼn nasionaal geakkrediteerde tydskrif tot ʼn internasionaal geïndekseerde publikasie gegroei.

Dit is in 2017 erken as een van die tien mees aangehaalde publikasies wat op die SA SciELO-platform gehuisves word – die enigste uitsluitlik Afrikaanse tydskrif wat so aangehaal word. Kan ʼn mens dit as ʼn merker van sukses beskou?

“Ja, ek dink ʼn mens sou die opname deur SciELO (dit was vir die tydperk 2007 tot 2017) weldeeglik as ʼn ‘merker van sukses’ kon beskou. Om die toptienlys te kon haal, is ʼn enorme prestasie – dit is uit ongeveer 400 wetenskaplike tydskrifte wat deur die departement van onderwys geakkrediteer is,” sê Gräbe trots.

Vir die voortbestaan van Afrikaans as wetenskapstaal is álle joernale wat navorsing in en oor Afrikaans publiseer natuurlik belangrik, meen sy. “Naas LitnetAkademies is die TGW na my wete egter die enigste interdissiplinêre joernaal in die geesteswetenskappe wat uitsluitlik in Afrikaans publiseer. Dit alles word natuurlik moontlik gemaak deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se ondersteuning van die tydskrif.”

Gräbe ontvang groot lof vir haar toewyding tot dié publikasie – amper soos ʼn ma wat met deernis en sorg werk. Sy gesels passievol oor haar betrokkenheid by die tydskrif en die samestelling van ʼn uitgawe.

“In teenstelling met my eie navorsing word ek hier blootgestel aan die innoverende denke en navorsing van kollegas uit ʼn hele spektrum van geesteswetenskaplike dissiplines. Uiteraard verruim dit ʼn mens se horison,” sê sy.

Die aard van haar huidige verpligtinge, akademies én administratief, bring mee dat sy voortdurend moet kommunikeer met, onder andere, voornemende skrywers, spesialiskeurders, administratiewe personeel by die Akademie en Medpharm, ʼn toegewyde drukker en, les bes, ʼn kundige en innoverende taalraadgewer.

Dit is egter die eindproduk wat die grootste bevrediging verskaf.

“Die finalisering van die eindproduk, telkens wanneer ʼn volgende uitgawe in druk verskyn, die gevoel dat ʼn hele proses suksesvol afgehandel kon word, bly steeds vir my ʼn ‘moeite-werd’-ervaring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stof ·

Afrikaans is hier om te bly.
Ek eer elkeen wat soveel moeite doen om ons erfenistaal te bevorder.

FM ·

Afrikaans is my moedertaal.

Trots om dit suiwer te praat en só my kinders en kleinkinders geleer.

Indien mens ‘n ander taal gebruik, praat dit ook suiwer.

Dit is my dank aan al die kampvegters vir Afrikaans .

pokkel ·

Is sy nie effe jonk on “die moeder van Afrikaans” te wees? :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.