AfriForum koop “moedertaal” as verjaarsdaggeskenk vir Afrikaans

afrikaans-90Die burgerregte-organisasie AfriForum het onlangs die woorde “amptelike taal” en “moedertaal” eksklusief aangekoop as deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se fondswerwingsprojek, “Borg ʼn Woord”. Hierdie spesifieke woorde is gekies om die 90ste herdenking van die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika te vier.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, is dit ʼn voorreg om Afrikaans se prestasie as hoëfunksietaal asook die bydrae van die WAT – die kroonjuweel van Afrikaanse woordeboeke – op hierdie wyse te herdenk.

“Die bevordering en verskansing van Afrikaanse taalregte is ʼn prioriteit vir AfriForum. Dit geld ook vir die uitbreiding en beskerming van moedertaalonderrig,” het Bailey gesê. “Die afgelope jaar het ons daarom onder meer die regsaak van taalaktivis Cerneels Lourens teen die staat oor die publikasie van landswette in al elf amptelike landstale finansieel ondersteun en ook die SLIM-veldtog geloods om jongmense aan te moedig om in hulle moedertaal te studeer,” aldus Bailey. SLIM staan vir ‘Studeer en Leer In jou Moedertaal’.

AfriForum is bekommerd oor die druk wat van owerheidsweë op Afrikaans as amptelike taal en veral onderrigtaal uitgeoefen word. “In die onlangse verlede het die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande, onder meer verklaar dat hy ʼn Afrikaanse tersiêre onderwysinstelling ‘sal toemaak’ – ʼn blatante miskenning van die feit dat só ʼn instelling iets is waarop Afrikaanssprekendes geregtig is. Die koop van woorde is ʼn prettige manier waarop die WAT finansieel ondersteun kan word, maar daar lê ook ʼn dieper boodskap daaragter, naamlik dat ons ons moedertaal moet koester en ons taal se regte as amptelike taal moet opeis,” het Bailey bygevoeg.

Bailey moedig die publiek aan om ook by te dra tot die viering van die 90ste herdenkingsjaar van Afrikaans en terselfdertyd die WAT te ondersteun.

  • Die WAT dokumenteer die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang en is die grootste projek ooit rondom Afrikaans. Dit benodig fondse om hierdie groot taak voort te sit en enigeen kan ʼn woord eksklusief vir R5 000, of indien nie eksklusief nie, vir so min as R100 borg. Sien wat.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.