Afrikaans 90: Afrikaans aan universiteit? ’n Kort apologie

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Danie Goosen (voorsitter van FAK-direksie; dosent aan Unisa)

Oor die vraag of jy jou universiteitsklasse in Afrikaans moet bywoon, heers daar vandag twyfel. Twee sterk uiteenlopende standpunte kan daaroor onderskei word. Ons verwys kortliks na elkeen. In die proses kies ons ten gunste van die tweede standpunt.

Alvorens ons egter die twee standpunte ter sprake bring, moet daarop gewys word dat hulle ’n belangrike uitgangspunt met mekaar deel. Beide aanvaar dat Engels vandag die lingua franca van die globale wêreld is. Enigeen wat hierdie feit ontken, sê beide standpunte, is gewoon onrealisties.

Maar dit is waar die ooreenkoms eindig. Ten diepste verskil hulle oor die vraag “hoe” ons op hierdie feit moet antwoord. Beteken Engels as lingua franca dat daar nie plek vir die ander tale van die mensdom is nie?

Anders geformuleer, beteken dit dat ons vandag tussen óf Engels óf ons moedertale moet kies? Sluit Engels en ons moedertale mekaar uit? Is daar nie vandag plek vir beide nie, ook aan die hedendaagse universiteite nie?

Hieronder word by elkeen van die twee standpunte stilgestaan. Ter wille van die argument kan hulle die “sentralistiese” en die “gedifferensieerde” benaderinge genoem word.

Die sentralistiese benadering
Hierdie benadering gaan uit van die standpunt dat die veelheid van moedertale by Engels, die taal van die sogenaamde “globale sentrum”, moet inval. Indien die moedertale dit nie doen nie, loop hulle die gevaar om hulself te isoleer, of hulself in enklaves toe te sluit.

Volgens sentraliste beteken dit nie dat die veelheid van moedertale nie vandag ’n eie bestaansreg het nie. Inteendeel, sommige sentraliste sal self aanvoer dat die veelheid van tale belangrik is. Maar, word vinnig bygevoeg, die moedertale kan die beste in die private wêreld (die “kombuis”) tot hulle reg kom. Anders as in die verlede hoort hulle nie meer in die openbare wêreld van die universiteitswese nie. Dáár moet die sentrum se voorkeur vir Engels die deurslag gee.

So sterk het die sentralistiese beeld op die universiteitswese geword dat sommige akademici aan die voormalige Afrikaanse universiteite vandag selfs met ’n aggressiewe beleid van Engelse eentaligheid op veral nagraadse vlak besig is. Enigeen wat vir universitêre Afrikaans voorspraak maak, word van isolasiedenke beskuldig.

Moet die sentralistiese standpunt aanvaar word? Dit word ten minste deur die volgende probleme gekenmerk:

a) Die sentralistiese standpunt word deur ’n ou koloniale mentaliteit gekenmerk. In ooreenstemming met die koloniale tradisie word die globale sentrum beter geag as die veeltalige buitekant. Ten grondslag hiervan lê nie net ’n sindroom van afhanklikheid vanuit die buitekant jeens die sentrum nie, maar onvermydelik ook ’n gevoel van die minderwaardigheid daarteenoor.

Een te midde van ander voorbeelde van die koloniale houding is die formules wat vandag die toekenning van fondse vir navorsing reguleer. Navorsing wat in (die Engelse) publikasies van die globale sentrum gepubliseer word, word as meerderwaardig ten opsigte van publikasies in die veelheid van lokale tale beskou. Daarom word hulle ook telkens deur die universiteitsadministrasies aangemoedig en met veel groter fondse ondersteun as publikasies in die eie tale.

Dieselfde logika onderlê ook die navorsingsbeleid binne ’n territoriale staat soos Suid-Afrika, omdat laasgenoemde getrou die voorskrifte van die globale sentrum navolg. In plaas daarvan dat navorsing in die veelheid van tale simbolies ondersteun word, word die eentaligheidsbeleid van die sentrum ten diepste as normatief aan almal voorgehou. So word die koloniale beleid, dikwels in naam van “anti-kolonialisme” en “bevryding”, in stand gehou.

b) Alhoewel die apologete van die sentrum (en hul medewerkers op die periferie) hulself onder die vaandel van “multikultureel” dikwels op ’n begrip soos “openheid” beroep (en ook telkens weer waarsku teen “isolasie” in die eie taal of kultuur), is dit misleidend. Van openheid vir die veelheid van tale en kulture is daar by hulle in werklikheid weinig sprake.

Sentrumsoekers se gebruik van die begrip “multikultureel” is misleidend. In die praktyk tree dit meesal op as ’n retoriese wapen waarmee ’n strakke eenvormigheid op alles en almal afgedwing word. In plaas daarvan dat dit tot die erkenning van die veelheid van kulture en tale lei, gee multikulturalisme eerder tot die bevordering van eentaligheid aanleiding.

c) Apologete van die sentrum toon weinig begrip vir die feit dat die “algemene” en die “partikuliere”, die “globale eenheid” en die “veelheid van tale”, ensovoorts, in samehang met mekaar gesien kan word.

In die mate waarin hierdie samehang egter nie raakgesien en gekultiveer word nie, word die voorwaarde vir ernstige probleme neergelê: Enersyds word die sentrum sonder sy samehang met en erkenning van die veelheid ’n verstikkend eenvormige sentrum. Andersyds loop die veelheid so die risiko om in hulself opgesluit te raak, en met wrewel op ’n sentrum te reageer wat hulle misken.

d) Alhoewel apologete van ’n eentalige sentrum hulself dikwels voorhou as vyande van die globale (korporatiewe) wêreld, lei hulle voorspraak vir Engels aan universiteite juis tot ’n ondersteuning van hierdie kragte.

En hoe anders? Geen krag word meer deur eentaligheid gedien as juis die globale korporatiewe wêreld nie. Eentaligheid lei immers daartoe dat vraag en aanbod met steeds groter intensiteit aangewakker en “produkte” ongehinderd (met steeds groter spoed) oor landsgrense kan beweeg.

Die gedifferensieerde benadering
Hierdie benadering gaan uit van die standpunt dat die globale wêreld nie noodwendig in spanning met die veelheid van tale en kulture staan nie. Inteendeel, hoe sterker die globale wêreld beslag kry, des te belangriker word die veelheid van tale en kulture.

Volgens die gedifferensieerde benadering hoef die verhouding tussen die globale en die veelheid van tale dus nie in uitsluitende “óf … óf” terme verstaan te word nie. Inteendeel, die insluitende “sowel … as” is veel sinvoller. Daarvolgens is daar vir beide plek, dit wil sê vir sowel die algemene as die partikuliere.

Maar is die gedifferensieerde benadering prakties moontlik? word dikwels gevra. Maak dit sin om, te midde van die dominansie van Engels, tegelyk jou klasse in Afrikaans by te woon, jou nagraadse werk in Afrikaans te doen, jou navorsing in Afrikaanse tydskrifte te publiseer, en jou boeke in Afrikaans te skryf?

Nog meer spesifiek geformuleer, word jou stem as akademikus gehoor as jy jou meesters- of doktorsgraad in Afrikaans skryf? Of jou tydskrifartikel en boek?

My antwoord hierop is ’n duidelike “ja”. Afrikaanse akademici kan vandag, indien hulle hul werk in Afrikaans publiseer, steeds “gehoor” en “gelees” word. Ter motivering kan ten minste die volgende punte genoem word:

a) Afrikaanse akademici wat deur die sentrum “gehoor” en “gelees” wil word, vergeet dikwels watter diskriminerende kragte in die sentrum aan die werk is. En dit is kragte wat bepaal wie en wat regtig gehoor en gelees word.

Om werklik deur die sentrum gehoor en gelees te word, moet akademici vanuit die nie-Engelstalige wêreld bykans deur die figuurlike vuurhoepel spring. Alhoewel dit nie onmoontlik is nie, is dit heel onwaarskynlik. Daarvoor sorg genoemde kragte.

Zygmunt Bauman en Leonidas Donskis, wêreldbekende sosioloë, skryf in hul essay, “Consuming university: The new sense of meaninglessness and the loss of criteria”, dat nie-Engelstalige akademici (vanuit onder meer Oos-Europa, om nie eens te praat vanuit Afrika nie), bykans geen kans staan om akademiese poste aan enige van die groot Amerikaanse of Britse universiteite te kry nie.

Dit laat ons met die eenvoudige vraag: Is hierdie akademici buite die sentrum inderdaad “gehoor”? Is hulle skryfwerk werklik “gelees”? En het dit goeie gevolge vir hulleself in die akademiese wêreld gehad? Nee, lui die antwoord, omdat die periferie steeds – en soos hierbo aangevoer – as minderwaardig ten opsigte van die sogenaamde sentrum ervaar word.

b) Laasgenoemde punt moet in samehang met ’n ander verskynsel op die globale “mark” van akademiese publikasies gesien word, naamlik die verskynsel van akademiese oorversadiging.

Vandag is daar nie net ’n ooraanbod van akademiese personeel in die “sentrum” nie (dikwels met tragiese gevolge vir akademici wat nie vaste betrekkinge kan kry nie), maar ook ’n ooraanbod van akademiese publikasies (onder meer in ’n magdom van Engelse akademiese tydskrifte).

Die gevolg van die ooraanbod is dat by verre die meeste akademiese artikels nie gelees word nie. In die agtergrond is ’n kontradiksie aan die werk (wat dwarsoor die globale wêreld sigbaar is): In weerwil van die feit dat akademici graag in die globale wêreld gehoor en gelees wil word, word hulle vanweë die ooraanbod juis nie gehoor en gelees nie. Hulle werk verdwyn tussen die magdom van ander publikasies.

Een van die implikasies hiervan is dat akademici wat in hul eie moedertale skryf, dikwels ’n groter kans staan om hoegenaamd gehoor en gelees te word as diegene wat in Engels skryf! Om hierdie punt ten volle te ontgin, sal akademici deur die “koloniale mentaliteit” moet breek. So sal hulle die voordele van lokaliteit en partikulariteit kan raaksien.

c) Vanweë die tegniese middele wat vandag beskikbaar kom (soos onder meer die vordering met vertalingsdienste), is daar toenemend ook meer ondersteuning vir die gedifferensieerde benadering.

Vanweë hierdie middele bestaan daar toenemend minder redes vir skrywers wat in Engels gelees wil word, om slegs in Engels te skryf. En die mees vanselfsprekende voorbeeld hiervan is wat buite die akademiese wêreld in die letterkunde gebeur. Afrikaanse skrywers soos Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden hoef nie op te hou om in Afrikaans te skryf bloot om in die Engelstalige wêreld gehoor te word nie. Trouens, in en deur die vertalingsdienste wat vandag beskikbaar is, word Van Niekerk en Van Heerden selfs ver buite die grense van net die Engelstalige wêreld gehoor en gelees.

Hoekom is dieselfde waarheid nie ook op die akademiese wêreld van toepassing nie?

Kortom, eentaligheid in die universitêre lewe is glad nie die enigste uitweg nie. Inteendeel, ’n gedifferensieerde benadering dui ’n praktiese uitweg anderkant die verstikkende aard van ’n eentalige wêreld aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes Comestor ·

‘n Uitstekende skrywe met uitmuntende argumente. Polities linkse akademici sal egter ongesteurd voortgaan met hulle propagering van die wereldtaal Engels en die bestaansreg en sinvolheid van ‘n Afrikaanse vaktaal ontken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.