Afrikaans 90: Afrikaans as geskenk van die Here

afrikaans-90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie stuk is geskryf deur Pieter Bischoff (Aros)

Hoekom is daar onder die Afrikaner voortdurend ’n geveg vir Afrikaans? Soos byvoorbeeld die skoolseun wat in 1931 in Affies was en geweier het om ’n medalje wat hy by ’n atletiekbyeenkoms gewen het te ontvang, omdat die medalje slegs in Engels gegraveer was. Daar kan ’n klomp redes wees waarom die seun ’n Afrikaanse medalje bo ’n Engelse medalje verkies het, en waarom dit meer voordelig is om jou eie taal te bevorder deur byvoorbeeld eerder in Afrikaans te gaan studeer. In hierdie artikel gaan ons kyk na die wesensgronde waarom jy trots mag wees op jou taal, Afrikaans.

“Shut up en praat Afrikaans”, is talle mense se beskouing van Afrikaans. Dit is egter nie wat die Here ons leer vanuit die Bybel oor hoe ons taal moet beskou nie. Vanuit die Bybel leer die Here ons dat taal ’n geskenk is wat Hy vir ons gee. Ons kan die geskenk vergelyk met ’n kind wat die Here vir jou gee. Ek kon nie my kinders kies nie, hulle is geskenke van die Here aan my en ek moet ook my kinders oppas en grootmaak tot eer van die Here. So ook met my taal. Die taal wat ek praat, is ’n geskenk van die Here, ek is gebore met hierdie taal, Afrikaans, ek het dit nie gekies nie, die Here het dit vir my gegee. Net soos met my kinders moet ek my taal oppas en grootmaak tot eer van die Here.

In die Ou Testament is tong die Hebreeuse woord wat ons vertaal met taal. Dus wanneer jy van taal in die Ou Testament lees, moet jy dit ook verstaan as jou tong. Wanneer ons dan oor Afrikaans praat en die belangrikheid daarvan, moet ons ook praat oor die belangrikheid van ons tong. As iemand vir jou sê dat dit beter is om in Engels te leer as in Afrikaans, is dit so goed die persoon gee vir jou ’n mes en sê jy moet jou tong afsny. Deur nie in jou eie taal te studeer nie, is so goed jy sny jou tong af, dit maak jou stom en dom.

Ons word vandag gebombardeer met die gedagte dat een taal in die wêreld beter is. Dit is nie wat die Here vir ons leer nie. Dit is die Here se wil dat daar verskillende tale moet wees. In Handelinge 2:6–11 is dit duidelik waarom die Here ’n verskeidenheid van tale gee: “… ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek”.

Hier lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees en hoe mense in hul taal waarin hulle gebore is, hoor van die kragtige dade van die Here. Op dieselfde wyse moet elkeen in sy moedertaal van die kragtige dade van die Here hoor.

Die oorsprong van taal moet ook in verband gebring word met die einde van taal. In Openbaring 7:9 leer ons dat daar in die hemel verskillende tale voor die troon van die Here is: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande.”

Gaan ons die Here in Afrikaans in die hemel aanbid? Hoe beïnvloed dit die manier wat ons praat en dink oor Afrikaans? As jy weet dat jy eendag die Here in Afrikaans in die hemel gaan aanbid, loof en prys, saam met ander tale en kulture, dan sal jy jou taal oppas asof dit jou eie kind is. Jy sal nie swak Afrikaans praat deur te vloek of te skel nie, maar jy sal jou taal oppas en uitbou. Jongmens, wees trots op Afrikaans, omdat die Here dit vir jou as geskenk gegee het!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.