Afrikaans 90: Afrikaans gee jou iets ekstra

afrikaans 90

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Jaap Steyn (skrywer en taalhistorikus)

Afrikaans is die taal waarin jy die beste kan presteer. Veral die moeilike vakke leer ’n mens die doeltreffendste en die maklikste deur middel van jou eie taal. Die talle onderskeidings wat die matrieks elke jaar aan die Afrikaanse skole kry, is ’n goeie bewys van die waarde van onderwys in Afrikaans. Elke jaar toon ondersoeke dat leerlinge die beste in vakke soos wiskunde en fisiese wetenskappe vaar wanneer hulle hul opleiding in hul eerste taal ontvang.

Daar is ook ’n paar ander redes waarom leerders hul vakke deur Afrikaans moet leer ken. Engels ís nodig vir goeie loopbane, en die goeie Afrikaanse skole sorg dat hulle hul kinders goed daarin onderrig. As jy op hoë vlak goed in Afrikaans oor ’n ingewikkelde saak kan praat of skryf, is dit kinderspeletjies om dit ook in Engels te doen.

Maar Afrikaans kan vir jou daardie iets ekstra gee wat jou kan help om van jou loopbaan ’n groter sukses te maak. Dit is veral so vir mense wat entrepreneurs wil word of een van die beroepe kies waarin hulle met mense gaan werk. Jy kan die beste diens lewer en vertroue wen as jy die taal van jou kliënte of pasiënte of ander lede van die publiek fouteloos kan praat en verstaan.

Moenie dink daardie Afrikaanse publiek is maar ’n klein klompie mense nie. Kyk ’n mens na Statistiek Suid-Afrika se gegewens, sal jy sien dat Afrikaans getalsgewys die derde taal van Suid-Afrika is ná isiZulu en isiXhosa. Engels is vierde in die ry. Afrikaans is die grootste huistaal van die Wes-Kaap en die Noord-Kaap en die tweede taal van Gauteng, die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap. Dis ’n taal van die groot stede: meer as 1,3 miljoen Afrikaanssprekendes woon in die Kaapse metropool, gevolg deur Tshwane (536 590), Ekurhuleni (375 611), Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap (333 442) en die Johannesburgse metropool (318 063).

Jy sal met Afrikaanssprekendes moet kan kommunikeer in baie soorte werk: dokters, tandartse, verpleegsters, aptekers – eintlik almal in die gesondheidsberoepe; boere, veeartse, landboukundiges; onderwysers en dosente; predikante en pastore; advokate, prokureurs en verwante beroepe; loodgieters, elektrisiëns, werktuigkundiges en verskillende soorte ambagsmense. Daar is makelaars, handelaars en versekeraars.

As ek ’n groot bedrag moet bestee aan ’n nuwe of selfs ’n tweedehandse motor, of as ’n ou ’n versekeringspolis aan my wil verkoop, is ek baie skepties en selfs ergerlik as hy of sy dit nie in Afrikaans kan doen nie. Sulke mense kom onprofessioneel oor. Jy sê maklik vir hulle: “Dankie, maar nee dankie.”

Die veeltaligheid van Suid-Afrika bied ook die geleentheid vir beroepe soos vertalers, taalversorgers en tolke. As die Wet op die Gebruik van die Amptelike Tale eendag toegepas word, kan dit kennis van al die amptelike tale bevorder, veral dié wat nou afgeskeep word, soos Afrikaans. Vreemd genoeg is daar in ons geregshowe ’n behoefte aan mense wat kan tolk tussen Afrikaans en Engels.

Moet ook nie die waarde van Afrikaans vir die kommunikasiebedryf en vermaaklikheidswêreld onderskat nie. Behalwe die vier dagblaaie (plus één in Namibië) en twee Sondagkoerante en ’n groot verskeidenheid tydskrifte, is daar verskeie plaaslike koerante en radiostasies. Kyk maar hoeveel name op die TV-skerm verbyrol aan die einde van ’n plaaslike program. Die digitale era skep geleenthede wat jy dalk kan benut.

In die wêreld van kuns en vermaak het jy – as jy ’n bietjie moeite wil doen – toegang tot Nederlands, die taal van twintig miljoen mense in Nederland, België en Suriname. Die TV-kanaal BVN (Het Beste van Vlaanderen en Nederland – is deesdae in Suid-Afrika te sien: musiek en sang, sepies, dokumentêre, nuusprogramme en veel meer. Hoe beter jou Afrikaans is, hoe makliker begryp jy Nederlands. Vir die vindingryke en oplettende kulturele entrepreneurs (sangers, skrywers van liedjies, verhale, toneelstukke en TV-draaiboeke) is daar op BVN nuwe idees, nuwe planne, vars inspirasie.

Daarmee is ons ook by nog ’n goeie rede vir Afrikaans. Afrikaans het inligting, kuns en vermaak van ’n groot verskeidenheid, en dit het veral betrekking op Suid-Afrika en sy mense. Jy kan Deon Meyer of Dalene Matthee en André P Brink miskien in ’n vertaling lees, maar baie skrywers en digters se werk is nie vertaal nie – en van die beste poësie is onvertaalbaar. Goeie gedigte kry ’n deel van hul trefkrag uit die klank, die taalmusiek, sê sommige, en die ritme. Daarom misluk vertalings dikwels. As jy belangstel in Suid-Afrika se verlede, is jy maar ’n oppervlakkige soeker as jy nie die storie wil hoor soos dit ook in Afrikaanse werke vertel word nie. Daarom dat soveel historici, ook dié uit ander lande, die moeite doen om Afrikaans aan te leer vir ’n volledige beeld van die verlede.

Baie Afrikaanssprekendes het ’n besondere verbintenis met Afrikaans. Ná die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 is die Afrikaners deur taaluitwissing bedreig. Hulle het gevoel hulle het hul vryheid verloor, maar die taal is al kosbare ding wat hulle oor het – dít mag niemand van hulle wegvat nie. Hulle het vir die taal gebaklei, en hul weerstand en die opbou van Afrikaans tot ’n moderne taal is ’n saak van trots. Daarom voel so baie Afrikaners verleë en probeer hulleself skaamkwaad regverdig wanneer hulle hul taal prysgee en verruil vir Engels.

’n Groot digter, NP van Wyk Louw, skryf: “Afrikaans is die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ón-helder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.”

Jy kan help met die ontdekking van daardie grootsheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae