Afrikaans 90: Afrikaans gee jou ’n voorsprong

afrikaans-90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie stuk is geskryf deur Jopie Breed (SAOU)

Een van die waardes waarmee ek grootgeword het en waaroor ek my ouers baie dankbaar is, is om respek vir ander mense en veral dan ook hul standpunte te hê. Dit is oor die jare heen oor en oor bewys as raadsaam en het baie gehelp om in staat te wees om my eie standpunte onbevange te stel. Ek begin doelbewus met hierdie aspek van ’n goeie waardestelsel, omdat ek reg van die begin af ook wil sê dat my siening nie ander mense se standpunte negeer of selfs ignoreer nie – ek respekteer dit. Niks wat ek dus hier gaan kwytraak, is bedoel om ten koste van enige ander taal te wees nie. Daaroor voel ek ook baie sterk: wat ek in belang van Afrikaans sê, bedoel ek ook vir elke ander taal in ons land.

Ek het egter ook geleer dat dit belangrik is om standpunt in te neem as dit nodig is en om nooit te skroom om te praat oor wat vir my belangrik is nie. Ek verwys ook doelbewus hierna, want dit is my oortuiging dat te veel van ons Afrikaanse mense om een of ander rede ongemaklik geraak het om hul sê te sê en dis deel van die rede waarom die vraag ontstaan: Waarom Afrikaans?

Ek is nou reeds meer as 40 jaar betrokke by onderwys en vir 35 jaar spesifiek by hoërskole – ses verskillende skole wat almal Afrikaans as taal van onderrig gehad het. Een, ’n tegniese skool, het na die nuwe bedeling in ons land die regte stap geneem om ook aan leerlinge wat die tegniese rigting in Engels wil neem, die geleentheid te bied – want daar was plek in die skool. Ek noem hierdie ook as konteks, aangesien ek baie ernstig voel oor dit wat volg.

Deel van die onsekerheid waarna ek reeds verwys het, het na die oppervlak gekom in die nuwe tendens wat sedert die draai van die eeu al duideliker geblyk het. Ouers het begin voel hulle kinders wie se moedertaal Afrikaans is, moet eerder nou na ’n Engelse skool gaan om daar Engels te leer, want dit is dan nou ’n wêreldtaal en dis ook die taal wat blyk die meerderheid mense in ons land gebruik. Beide hierdie sienswyses berus op aannames wat nie gebaseer is op die volle waarheid nie!

Dat Engels ’n wêreldtaal is, word waarskynlik afgelei van die feit dat mens in die meeste lande in die wêreld ’n redelike goeie kans het om geholpe te raak as jy dit sou kon gebruik. Die realiteit is egter dat die Latynssprekende lande en in ’n land soos China byna glad nie Engels gepraat word nie en dat jy baie gelukkig is as iemand jou daar sal verstaan en sal help as jy Engels praat. Die belangrike punt wat ek in aansluiting hierby wil maak, is dat alle persone wat oor die geskiedenis heen om een of ander rede bekendheid verwerf het, het dit in hul moedertaal gedoen. Groot mediese deurbrake en belangrike uitvindings is deur mense oor die spektrum van tale heen gemaak – in hul moedertaal. Dis vandag nog so! Dis algemeen bekend dat lande soos Duitsland, Swede, Finland, Frankryk, Japan en deesdae selfs China en Rusland groot wetenskaplikes oplewer. Almal van hulle doen dit onbeskroomd in hul moedertaal, trouens die meerderheid van genoemde lande wil van veral Engels niks weet nie.

In ons eie land is Engels nie die oorheersende taal nie, maar word slegs deur die vierde meeste mense as moedertaal aangedui, naas isiZulu, isiXhosa en AFRIKAANS!

Dis ook belangrik om te onthou dat enige leer wat gaan plaasvind in jou lewe, uiteindelik meer effektief is as jy behoorlik in jou moedertaal geleer het. Jy leer vaardighede soos lees, skryf, om te onderskei en te argumenteer eers behoorlik in jou moedertaal aan en dan kan jy wyer gaan – soos die genoemde wetenskaplikes wêreldwyd ook doen. Jou taalvaardighede is baie nou verweefd met jou persoonsontwikkeling. Die vermoë om te verstaan, jou geheue, jou vermoë om aandag te kan gee, jou vermoë om jou begrip toe te pas en jou denke om ’n probleem se oplossing te vind, is alles gebaseer op jou taalvermoë en is dit maklik om af te lei hoeveel beter dit is as dit in jou moedertaal is.

Met verwysing na die plan om na ’n Engelse skool te gaan om Engels te leer, noem ek graag die volgende uit my ervaring:

  • Die kinders wat Engels in ’n Afrikaanse skool geleer het, hoef nog nooit terug te gestaan het vir dié wat dit in ’n Engelse skool geleer het nie.
  • Die aanleer van ’n tweede taal lei nie tot tweetaligheid nie, dit lei uiteindelik tot verlies van die eerste taal.
  • Die aanleer van ’n tweede taal lei in baie gevalle ook tot vervreemding van die res van jou familie en ’n verlies aan identiteit.

In die lig van bogenoemde wil ek steeds alle leerlinge wie se moedertaal Afrikaans is, aanmoedig om hul studies op skool, maar veral na skool, voort te sit in Afrikaans. Dis nie alleen makliker nie, maar belangrik vir die voortbestaan van hierdie mooie taal van ons.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae