Afrikaans 90: Afrikaans in ’n Engelstalige werksomgewing

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Jan-Jan Joubert (Sunday Times)

Ek werk tans as parlementêre burohoof van die Sunday Times by ’n Engelstalige publikasie binne ’n meertalige werklikheid, sowel in die werksomgewing as in die breër samelewing. Een van die redaksie en die koerant se sterkste bates in sy soeke om die breër Suid-Afrikaanse samelewing te weerspieël, is na my mening juis te vinde in sy koestering van die diversiteit van sy redaksie. Dit, so meen ek, help juis dat die koerant die grein van die land, in sy uiteenlopendheid, kan weergee. In die kantooropset vind ek dat meertaligheid en verskeidenheid van belewing na waarde geskat word in die geloof dat ’n diversiteit van belewing en standpunt, wat uiteraard uiteindelik ondervang moet word deur professionele solidariteit en die ondersteunende uitvoering van beleidsbesluite deur die bestuur. Die inset van Afrikaanse redaksielede soos ek is deel van hierdie verrekening. Ek vind dus dat daar groot waardering is vir insette vanuit ’n Afrikaanse taal- en belewingsperspektief, en dat dit as bate gereken word. Kortom: dat ek Afrikaans is en in Afrikaans opgelei is, word deur my werkgewer as ’n bate beskou – nie as ’n las nie.

Wat opleiding in Afrikaans betref, is ek diep dankbaar dat ek my onderrig deur Afrikaans aan die Gelofte Skool in Pinetown, die Vrystaatse Universiteit en die Universiteit Stellenbosch kon ontvang. Ek is baie seker dat kundiges baie beter as ek deur middel van hierdie publikasie sal kan aandui dat kognitiewe ontwikkeling (padlangs: om kennis te verstaan en volkome te bemeester sodat dit werklik deel van jouself word eerder as een of ander kunsmatige aanwendsel) beter in die moedertaal geskied. Hierin word Afrikaanse mense sterk bygestaan deur die feit dat Afrikaans, deur die voortgesette geloofstaak van ’n verskeidenheid Afrikaanse mense, maar ook – so moet mens beken – soms ietwat bedenklik deur owerheidsweë die kans gegun is om tot wetenskaptaal, skryftaal en perstaal te ontwikkel. Soos erfgeld is dit ’n bate waarop mens nooit geregtig was nie omdat dit nie deur eie arbeid verwerf is nie, maar waarvoor mens net diep dankbaar kan wees. Wat jy daarmee maak, is eweneens jou saak. Sommiges sal hul erfgeld verkwis, ander sal dit belê. Vir party is erfgeld mos maar bloot swerfgeld. Vir my was Afrikaans nog altyd ’n bate wat ek onverdiend van my voorvaders ontvang en aan moedersknie geleer het, en iets waartoe ek positief en in dankbaarheid ’n bydrae wil lewer.

Een van die voordele waarmee ek meen onderrig in Afrikaans mens toerus bo ’n eentalige en (in die hedendaagse Suid-Afrikaanse praktyk gesproke) Engelse opleiding, is juis taalsoepelheid. Dat Engels in by verre die meeste dele van Suid-Afrika en die wêreld, meer as enige ander taal, die mees effektiewe kommunikasiemedium in die handel en wandel geword het, kan nie betwyfel word nie. Vlotheid in Engels is dus noodsaaklik. Juis hierdie eenselwigheid maak egter van ’n vlotheid in Engels nie juis ’n unieke verkoopspunt op die markplein van beroepsvaardighede nie. Jy gaan in elk geval Engels aanleer, en in ons land gaan jy dit goed aanleer. Om in Afrikaans as moedertaal te kan dink, redeneer en kommunikeer, stel jou in die praktyk boonop in staat om die wêreld se ander groot handelstale, soos Frans, Duits en Spaans makliker onder die knie te kry. Dit was oudpresident Nelson Mandela wat gesê het as jy slegs met iemand se verstand wil kontak maak, kan jy met hom in sy tweede taal kommunikeer, maar as jy sowel sy hart as sy verstand wil oortuig, moet jy in sy moedertaal kan kommunikeer. Tot hierdie tipe meertaligheid as leefwyse bied Afrikaans ’n wonderlike geleentheid.

Ek meen ook Afrikaans, wat in naam en in aard so verbonde is aan ons geliefde land, verskaf ’n geworteldheid wat wyd buite ons taalgemeenskap gewaardeer word deur ander taalgemeenskappe in ons land. Afrikaanse mense se taal en die invloed daarvan op hul werklikheidsbelewing bind ons aan die land, en bind die land en al sy mense aan ons, waar ons ook op aarde mag kom. ’n Vaal verengelsing deur die afsegging van hierdie bate in opleiding en opvoeding sou myns insiens ’n hartseer verarmingsproses beteken.

Maar die belangrikste rede, benewens die bostaande tasbare en beroepsredes, waarom ek dankbaar is vir my opvoeding en opleiding in Afrikaans, is die lekkerte van die taal. Ek ondervind ’n sensoriese plesier as iemand die taal puik gebruik, as ek die prosa van Karel Schoeman of Deon Meyer lees, die gedigte van NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Antjie Krog of ’n veelheid ander, of in spesifiek die Boland na ons mense se straattaal luister. Afrikaans is een van die groot plesiere van my lewe. Dit vind ook uiting in die huidige oplewing in ons uitvoerende kunste, en vir my spesifiek in die verhoogkuns – by name in die eksperimentele en verruimende toneelkuns deur jong dramaturge en akteurs, wat grense versit ter verryking van ons land en ons samelewing. Dat hulle hierdie werk van wêreldgehalte doen deur medium van ons geliefde taal, Afrikaans, vervul my met verwondering en dankbaarheid, en dis ’n dinamika wat ek graag ondersteun. As hulle Afrikaans kies as werktuig, doen ek dit ook graag.

Laastens wil ek byvoeg wat ek meen Afrikaans moet wees, deur ook te noem wat dit nie moet wees nie. Waar Afrikaans gebruik word om af te sluit en uit te sluit, het ek geen krag vir of simpatie met die sentiment van diegene wat soms om die verkeerde redes hoog opgee oor die behoud en uitbou van Afrikaans nie. Waar Afrikaans, soos in die verlede aantoonbaar dikwels gebeur het, gebruik word om sy eie sprekers ten koste van ander te bevoordeel, vra ek dat dit nooit in my naam gedoen word nie. My oupa het altyd gesê ’n bate verloor sy waarde as dit aangewend word as ’n wapen. Daarteen moet mens altyd waak. Voorts het ek begrip vir die denke van diegene wat meen hul kinders se belange word beter bedien deur hulle in Engels groot te maak. Dit is hul vrye keuse en ek beskou dit nie as taalverraad nie. Ek verskil egter met hul standpunt en hul voorkeur vir Engels. Self het ek nog nooit gevind dat vaardigheid in Afrikaans op enige manier vaardigheid in Engels uitsluit nie. Daarom is ek dankbaar dat my vorming in Afrikaans plaasgevind het, en dat dit die taal van my hart en denke is. Ek hoop dat ouers hul kinders hierdie voortgesette voorreg sal gun sodat hulle net soveel plesier as ek sal kan put uit ons geliefde moedertaal, Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae