Afrikaans 90: Afrikaans is jou reg

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Waldy Kastoor (skoolhoof, Parkview Primêr, Atlantis)

My eerste woorde wat ek kon uiter, was in Afrikaans. My eerste gesprek was in Afrikaans. Ek leef my godsdiens uit in Afrikaans en vir 35 jaar lank lei ek duisende leerders daagliks op om die grote wêreld daarbuite te trotseer, natuurlik ook in Afrikaans. Afrikaans is ’n universele taal wat groei en ontwikkeling en sukses kan verseker. Die vraag: Hoekom Afrikaans? laat gemengde gevoelens by my ontstaan, onder meer geweldige bekommernis oor hoekom baie mense juis hul huistaal Afrikaans vir ’n ander taal verruil.

Volgens Michael le Cordeur, definieer UNESCO moedertaalonderrig as “education which uses as its medium of instruction a person’s mother tongue, that is, the language which a person has acquired in early years and normally has become his natural instrument of thought and communication”. Hy noem ook dat dit in die moedertaal is waar kinders sekere konsepte en begrippe aanleer wat hulle by die aanleer van ander tale kan toepas.

In die gemeenskap waar ek werk, is daar ’n toenemende tendens om kinders in Engels te laat skoolgaan terwyl hulle in ’n Afrikaanse gemeenskap en ook huishouding grootword. Dit is veral prominent onder die jonger geslag ouers wat uit onkunde die uitdagings wat deur die media aangeblaas word, slaafs navolg. Die wanindruk onder baie ouers is dat tersiêre instellings met rasse skrede verengels en dat hul kinders gemarginaliseer gaan word. Hierdie wanopvatting word deur totale onkunde geskep. Die gevolg is dat baie kinders nou na Engelsmediumskole gestuur word om in Engels te gaan leer. Aangesien dit nie die kinders se moedertaal is nie en hulle slegs by die skool aan Engels blootgestel word, ontwikkel hul kommunikasievaardighede nie na wense nie. By die huis word die leerder nie blootgestel aan Engels nie, want die huistaal is Afrikaans. Dit veroorsaak geweldige verwarring by die kind wat sy of haar kommunikasievermoë erg benadeel, juis in ’n omgewing waar dit veronderstel is om te ontwikkel.

Sedert 1976 is Afrikaans as politieke speelbal gebruik as gevolg van die leerders van Soweto wat in opstand gekom het oor hulle gedwing was om in Afrikaans onderrig te word. Afrikaans is deur hulle beskou as die taal van die onderdrukkers en dit was ook gekoppel aan die apartheidsideologie. Ons is reeds 20 jaar in ’n demokrasie en steeds word daardie foutiewe boodskap verkondig. Die idee van Afrikaans as “die taal van die onderdrukker” is lank reeds verkeerd bewys, maar die verpolitisering van Afrikaans gaan voort. Afrikaans was die taal van die slawe wat vir die Hollanders gewerk het. Die bruin mense van destyds het dus ’n belangrike bydrae gelewer tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal.

Na 1994 is 11 tale tot amptelike tale verklaar om kulturele diversiteit binne die nuwe Suid-Afrika te bevorder. Daar is egter nie geslaag in hierdie doelwit nie; eintlik het dit tot baie konflik in die onderwys en in staatsinstellings gelei. Engels is as voorkeurtaal gebruik en mense wat beperkte of geen kennis van Engels het nie, is daardeur gemarginaliseer. Let in hierdie verband op na die gebruik van Engels by polisiestasies in oorheersend Afrikaanse gemeenskappe, omdat daar nie voorsiening gemaak word vir tolke nie.

Die regering van die dag het nie die politieke wil om moedertaalonderrig verpligtend te maak nie. Dit bring mee dat Afrikaans ’n moeilike stryd het om onder die ANC-regering te oorleef. Die intervensie van die Afrikaanse Taalraad om Afrikaans as inheemse taal te laat erken, het verreikende gevolge vir die voortbestaan van Afrikaans.

Om in Afrikaans te studeer, is ’n reg wat deur die Grondwet onderskryf word. Binne Afrikaanse gemeenskappe is dit die taal van godsdiens, onderwys, die regte, die mediese praktyk, sport, kultuur, welsyn, munisipaliteite en so meer. Deur voortgesette blootstelling aan Afrikaans leer kinders verskeie begrippe, konsepte en sekere kulturele “sêgoed” aan wat noodsaaklik is om die taal vir die nageslagte te bewaar. Om jou kinders in Afrikaans groot te maak, is geen onreg nie, aangesien dit jou moedertaal is waarin jy jouself ten beste kan uitdruk en ten volle kan leef. Dit is hoekom Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Rehana Mohamed ·

Absoluut fantasties gestel, mnr Waldy Kastoor! Hier in di Ooskaap waar ek onderwys vd afgelope 27 jr ervaar ek presies dieselde tendens aan ons skole! Dit is ‘ n geveg wat ons in ons gemeenskappe sal moet veg!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.