Afrikaans 90: Afrikaans is ’n moderne taal

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Augusta Jordaan (onderwyseres)

Na ’n besoek aan Namibië het ek geweet: Afrikaans sal in Suid-Afrika oorleef as daar net na hierdie buurland gekyk word. Namibië is al lankal onafhanklik met Engels as hooftaal, maar die mense is so trots op Afrikaans, almal respekteer dit en oral hoor jy mense van alle kleure wat Afrikaans met mekaar praat. In winkels word die kliënt in Afrikaans aangespreek!

Waarom moet kinders by Afrikaanse skole en studente by Afrikaanse universiteite studeer? Afrikaanse skole lewer deurgaans uitnemende akademiese prestasies. Die Afrikaanstalige skole in Gauteng het byvoorbeeld die afgelope jare topprestasies tydens die matriekeindeksamen behaal en van die skole se personeel kry toptoekennings. Van hierdie leerders word toppresteerders aan universiteite.

Ongelukkig is dit so dat baie van hierdie studente feitlik verplig word om in sekere vakrigtings deur medium van Engels onderrig te word by tradisionele Afrikaanse universiteite. Die rede is glo ekonomies van aard. Studente betaal egter genoeg klasgeld om aan te dring om onderrig in die tradisionele taal van die universiteit te ontvang. In gevalle waar daar Afrikaanse klasse in ’n vak is, moet Afrikaanssprekendes dit bywoon, sodat universiteitsowerhede kan sien dat daar ’n behoefte vir Afrikaans is. In gevalle waar van buitelandse dosente gebruik gemaak word wat dikwels ’n moeilik verstaanbare Engels praat, moet aangedring word op tolke. Dit is gewoonlik hoogs bekwame mense. Studente moet hulle vir die waarde van Afrikaans beywer en op hul regte aandring. Afrikaans is jou moedertaal en jy kan soveel makliker gesprekke oor akademiese onderwerpe in jou moedertaal verstaan en daaraan deelneem.

Afrikaans is naas Engels die akademiese tale in Suid-Afrika. Die argument dat dit makliker is om alles in Engels te doen, omdat handboeke in Engels is, is gedeeltelik geldig, maar talle Afrikaanssprekendes het al “ten spyte van” onderrig in Afrikaans topposisies in Suid-Afrika beklee.

Dink net hoeveel makliker is dit om in Afrikaans te skryf as in Engels. Ons het nie “concord” in Afrikaans nie en slegs drie tye in plaas van nege! Ek hoor so dikwels Engelssprekendes wat tydens gesprekke foute maak in dié verband.

Goeie koerante en tydskrifte presteer in Suid-Afrika en die Afrikaanse tydskrifmark brei uit. Musiek en flieks in Afrikaans blom. Nuwe boeke verskyn gereeld en nie net in Standaardafrikaans nie. Afrikaans het die rykheid van verskillende tonge waarin gepraat word met interessante uitdrukkings. Dit maak Afrikaans ’n besondere taal. Afrikaanse TV-kanale en radiostasies is selfs by Engelssprekendes gewild, omdat die gehalte so goed is.

Hoekom moet jy in Afrikaans studeer? Afrikaans is tog die taal van jou hart, die taal van jou drome, die taal van lekker gesels. Jongmense wil mos modern wees en Afrikaans is ’n moderne taal. Wees deel van die mense wat hul deel doen om Afrikaans te laat voortleef. Hou aan om Afrikaans te lees, te skryf en te praat!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Juffrou Augusta, jy is ‘n nooi so na my hart.
GEEN wet of wat ookal sal en gaan ons moedertaal onderkry.

Hansie ·

Is dit nie ongelooflik om tussen alles deur nog so ‘n positiewe berig te lees nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.