Afrikaans 90: Afrikaans is ’n sappige taal

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Diek Grobler (Beeldende kunstenaar en animasiefilmmaker)

“Ik vind het zo een zappige taaltje” sê ’n vrou eenmaal in België, toe sy hoor dat ek van Suid-Afrika kom. En dit was nie die eerste Belg wat ’n waardering vir Afrikaans teenoor my uitgespreek het tydens my verblyf daar nie. Ek was in Gent, Vlaandere, op ’n drie maande kunstenaarsresidensie, en ek was dikwels jaloers op die feit dat Vlaams orals gepraat word, geskryf word, geleer word. Hoe heerlik dat hulle in hul eie taal elke dag kan funksioneer, kan leer, kan onderrig word, sonder om te wonder of almal verstaan, en noodgedwonge na Engels oor te slaan. En daar is hulle opgewonde oor my taal, omdat dit so sappig is.

En sappig is Afrikaans beslis. En buigbaar en plooibaar. Dit is visueel en beskrywend. Dit gooi die jukke af van beperkende taalreëls, dit hol kaalvoet, dit vat kortpad. Afrikaans is in sy beginjare uitgeskel as kombuistaal. En dit is natuurlik waar – Afrikaans kom uit die kombuis, waar dit gekrui en gespesery is met woorde en uitdrukkings en grammatikastrukture van oraloor. Maar is die kombuis dan nie die hart van die huis nie? Daar word al die sappighede geskep wat vir die mond bedoel is.

My entoesiasme vir Afrikaans is emosioneel, en esteties gemotiveerd. Ek is ’n kunstenaar, nie ’n akademikus nie. Ek hou daarvan om in Afrikaans te dink, te skryf, en selfs te skilder, omdat dit vir my mooi is. Ek verkneukel my in die eksentrisiteite van die taal. Wys my ’n ander taal waarin jy jou kan verkneukel.

Ons leef in ’n land, en inderdaad ’n wêreld waar Engels seëvier, so dit maak seker sin dat akademie in Engels gepleeg word. Ek vind dit egter interessant dat die Duitsers, Nederlanders, Franse, Spanjaarde, Italianers, Russe, Chinese, Koreane en vele meer hulle min daaraan steur. Akademici uit die lande werk in hul moedertaal, en wanneer nodig, word geskrifte dan na Engels vertaal. Miskien kos dit dan meer geld, en is meer werk, maar niks wat die moeite werd is, kom sonder ’n bietjie inspanning nie. En miskien is ons bloot te veel gefokus op die Engelstalige wêreld, te gretig om daar te kompeteer en geag te word (still trying to please the mighty British Empire to prove that we are not backwards out here in the provinces?). Asof daar nie in ander tale reuse opstaan in die filosofie, letterkunde, film, musiek en beeldende kunste nie.

Afrikaans is uniek. Dit is ’n moderne taal, deur tyd en isolasie gestroop van die beslommernis van naamvalle en ingewikkelde tydsaanduidings en manlike en vroulike byvoeglike naamwoorde. Ons “het” en ons “ge-” alles vir die verlede tyd, en ons “sal” of “gaan” in die toekoms, en dit maak die praat makliker. In hierdie verwarde eeu van globalisering waar alles meer generies raak, meer monochroom, is dit ’n heerlike voorreg om uniek te kan wees, dan nie?

Alhoewel ek nie ’n taalpuris is, of die besig van Algemeen Beskaafde Afrikaans bepleit nie, meen ek tog dat ’n mens die taal ordentlik moet praat. As jy reken dat Afrikaans nie die woordeskat het om jouself ordentlik in uit te druk nie, beteken dit bloot dat jy jou taal nie goed genoeg ken nie. Kry ’n woordeboek en vind uit wat ’n lunsriem en ’n skobbejak en karmenaadjie is. Want as iets hierdie mooi taal bedreig, is dit praters wat uit luiheid uitgewasde Engels uitspoeg. Soos fabulous en effort en exposure en absolutely en embarrassing. Afrikanagalô.

Afrikaans is so ’n sappige taal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Dewald Alberts ·

Diè is nogals soos sterk koffie, daardie koppie koffie wat mens laat regop sit en kennis neem…

Adriaan ·

Dis beslis een van die verkwikkendste artikels in ‘n lang tyd. Afrikaans is warm boerbrood en appelkooskonfyt saam die vorige koppie koffie. Ek het ander klippies in my galblaas wat my meer pla: daardie lui gebruikers soos Sunè dit so mooi uitlig, en dan mense wat dink dat Afrikaans net moet klink soos hulle dit praat en nog nooit ander vorme op hulle tong en kieste rondgerol het nie. Dankie tog vir Afrikaans in die kombuis en die eetkamer en die banketsaal en sommer ook die kafee op die hoek!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.