Afrikaans 90: Afrikaans is ’n taal van hoop

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Danie Langner (FAK)

Professor Kwasi Prah van Ghana het tydens die 2010 “De Rondetafel Conferentie voor Afrikaans” in Amsterdam die ontwikkeling van Afrikaans as een van die drie taalwonderwerke in die wêreld beskryf (die ander is moderne Hebreeus en Bahasa in Indonesië). In vyftig jaar het Afrikaans van ’n huis-, tuin- en kombuistaal tot ’n kansel-, universiteits- en ekonomiese taal ontwikkel wat met enige ander wêreldtaal kon meeding. Prah het ook verwys na die feit dat Afrikaans ’n Afrikataal is en derhalwe ’n belangrike ontwikkelingsinstrument in die aanspreek van die knellende Suid-Afrikaanse armoedevraagstuk.

Taaldebatte word dikwels deur akademiese- en kulturele retoriek of eindeloos vervelige debatte oor Afrikaans in die apartheidstelsel gekenmerk, terwyl die sosiaal-maatskaplike noodsaaklikheid dat Afrikaans moet voortbestaan heeltemal te min bespreek word. Afrikaans se ontwikkeling en voortbestaan as wetenskaplike en ekonomiese taal loop hand aan hand met die verbetering van die ekonomiese en sosiale omstandighede van al sy sprekers.

Om die belangrike rol van Afrikaans in die uiteindelike oplossings vir die Suid-Afrikaanse armoedevraagstuk te verstaan, moet die rol van taal in gemeenskapsontwikkelingsteorieë bekyk word.

Moderne gemeenskapsontwikkeling se historiese verloop word hoofsaaklik in die volgende fases ingedeel:
• Die moderniseringskool met die hoogbloei gedurende die 1950’s en vroeë 1960’s
• Die afhanklikheidskool gedurende die laat 1960’s en vroeë 1970’s
• Die gemeenskapsgeoriënteerde ontwikkelingsteorieë sedert die 1980’s

Die moderniseringsteorie
Die moderniseringskool wat sy wortels in die koloniale tydvak het, het Westerse ekonomiese praktyke en waardes as die enigste volhoubare resep beskou om arm gemeenskappe en lande op te hef. Westerse kultuur, politieke en arbeidspraktyke en ekonomiese doelwitte het as maatstaf vir die ontwikkeling van arm lande gedien. Europese tale soos Spaans, Frans, Duits en Engels is deur die ontwikkelingsteorie bevorder, terwyl die waarde van inheemse tale en kulture ontken is. In Suid-Afrika moes Afrikaans van meet af ’n opdraande stryd teen Engels voer wat as die taal van hoë beskawing beskou was.

Afrikaanssprekendes het die stand van sake nie gelate aanvaar nie. Afrikaans was vir hulle ’n lewenskragtige taal met ’n besondere skeppingsvermoë. Hulle het in hierdie taal woord vir woord, paragraaf vir paragraaf ’n toekoms vir Afrikaans in Afrika geskep.
• Met dryfkrag om in Afrikaans te mag lees, praat en sing, het ’n Afrikaanse Bybel, ’n Afrikaanse radiostasie, Afrikaanse koerante, ’n Afrikaanse liedereskat in ’n FAK-Sangbundel, asook ’n magdom van Afrikaanse tydskrifte, gedigte en boeke gevloei. In die woorde van wyle Elize Botha “tot heil van miljoene”.
• Met ekonomiese vryheid as dryfkrag is Afrikaanse besighede soos Volkskas, Sanlam, Santam, die Rembrandt-groep, Federale Volksbeleggings, SASOL, YSKOR, NASPERS en vele ander nywerhede gestig en het dit ontwikkel tot internasionale reuse.
• Met vryheid as dryfkrag vir selfhelp, het Afrikaners met die Helpmekaarfonds, Reddingsdaadbond en vele ander maatskaplike instellings die greep van armoede twee keer in een eeu gebreek.
• Met denkvryheid as dryfkrag het Afrikaners in vyf dekades wêreldgehalte Afrikaanse skole, universiteite en tersiêre kolleges gestig, en Afrikaans tot ’n volwaardige wêreldgehalte- akademiese taal uitgebou.
• Kort na die vernietigende Anglo-Boereoorlog verskyn Eugène Marais se gedig, “Winternag” in 1905. Dit was een van die belangrikste gebeurtenisse tydens die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Die gedig wat onder die skuilnaam “Klaas Vakie” verskyn het, het reeds al die kenmerke van moderne Afrikaans bevat. Die gedig het Afrikaanssprekendes oortuig van die skeppende vermoë en skoonheid van Afrikaans. Gustav Preller het voorspel dat indien slegs ’n paar versreëls van Afrikaans na ’n eeu sou oorleef, hierdie gedig een van hulle sal wees.
• Eugène Marais openbaar homself as wêreldleier in die bestudering van dieregedrag, iets wat later tot die studieveld etologie sal ontwikkel. Sy artikelreeks Die siel van die mier sou later deur die Belgiese Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck geplagieer word.
• Teen 1908 het die Afrikaanse taalstryd op vele terreine vlamgevat. DF Malan het as voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging op 13 Augustus 1908 ’n leidinggewende toespraak gehou met die tema: “Dit is ons erns!” Hierdie toespraak was ’n antwoord op Onze Jan Hofmeyr se vraag: “Is het ons ernst?” en Gustav Preller se artikelreeks: “Laat’t ons toch ernst wezen!” Malan antwoord: “iedre lewende, kagtige taal word gebore op die bodem van die volkshart … Geen taalgeleerde kan ’n lewende taal maak nie, ewemin as wat ’n skeikundige lewe in sy laboratorium kan skep.” Hy moedig jong Afrikaners wat hul taal liefhet aan om hul talente te gebruik om Afrikaans as skryf- en kultuurtaal te ontwikkel.
• Afrikaners het begin om Afrikaanse liedere, prosa en poësie te skryf. Afrikaanse Debatsverenigings is gestig. Koerante soos Vriend des Volk (Vrystaat) en De Volkstem (Transvaal) het Afrikaans ontwikkel tot ’n joernalistieke taal.
• Kultuurvereniginge soos die Transvaalse Afrikaanse Taal Genootskap (1905) en die Vrystaatse Afrikaanse Taal Vereniging (1906) het die weg berei vir lewenskragtige Afrikaanse dramas en verhoogproduksies.
• Nadat die vroeëre publikasie van die GRA, Ons Klyntji, gestaak is, het die eerste Afrikaanse tydskrifte die lig gesien. Die Brandwag het in 1910 in Pretoria en Ons Moedertaal in 1914 op Stellenbosch verskyn.
• In 1909 is die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst deur Afrikaners soos MT Steyn, JBM Hertzog, DF Malan en EG Jansen gestig. Die doel van die Akademie was die bevordering van Afrikaans as hoëfunksietaal.
• In 1912 het die eerste Afrikaanse Kinderbybel verskyn.
• Die Akademie het in 1914 die Hertzogprys ingestel, wat vandag nog die prestige- letterkundige prys is. Die prys het ontstaan ná ’n taalstryd-hofsaak in die Vrystaat. Generaal Hertzog het met sy onderwyswette gelyke behandeling vir Hollands en Engels op skool verseker. As teken van ondersteuning het Afrikaners geld ingesamel om die boete en onkostes te betaal. Die fondse wat oor was, het Hertzog aan die Akademie geskenk om ’n prys in te stel vir die bevordering van die Afrikaanse letterkunde. Die eerste Hertzogprys is in 1916 vir Totius se digbundel Trekkersweë toegeken. Die Akademie ken steeds jaarliks die Hertzogprys toe.
• Op aandrang van CJ Langenhoven het die Kaapse Provinsiale Raad in 1914 Afrikaans as ’n laerskooltaal erken. Die Vrystaat en Transvaal het later in 1914 dieselfde besluit.
• Afrikaans het ná die Langenhoven-ordonnansie van 1914 spoedig ’n onderrigtaal geword. Uitnemende Afrikaanse skole het in al die provinsies tot stand gekom – Jan van Riebeeck in Kaapstad, Helpmekaar in Johannesburg, die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. In Bloemfontein is die Oranje Hoër Meisieskool en die Sentrale Hoërskool gestig.
• Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het besef dit is noodsaaklik om Afrikaans behoorlik te standaardiseer. Die Akademie het op sy jaarvergadering in Julie 1914 in Bloemfontein ’n voorstel van Langenhoven aangeneem om ’n spellingkommissie in te stel. Dié moes spelreëls aanbeveel sodat daar ’n eenvormige spelling kon kom. Eenvormige spelreëls sou veral vir die skrywers van skoolboeke van groot waarde wees. In 1915 het die Spelreëls verskyn en in 1917 die eerste uitgawe van die Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls wat ’n wesenlike bydrae gelewer het om Afrikaans as skryftaal te standaardiseer.
• Die toenemende behoefte om in Afrikaans te lees en te skryf, het tot die totstandkoming van die Nasionale Pers gelei, asook die verskyning van Die Burger op 26 Julie 1915 onder die redakteurskap van ’n voormalige predikant van die NG Kerk, DF Malan.
• In 1916 het Die Huisgenoot as gesinstydskrif verskyn. Dit was eers ’n maandblad en het in 1923 ’n weekblad geword.
• Die eerste Afrikaanse rolprent was ’n vollengte speelfilm DE VOORTREKKERS in 1916.
• In 1917 het Nasionale Pers Die Volksblad in Bloemfontein oorgeneem. Na die Rebellie is Ons Vaderland as ’n noordelike koerant gestig. Dit is uitgegee deur die Noordelike Drukpers Maatskappy Beperk wat in September 1915 gestig is. Daaruit het die Afrikaanse Pers Beperk ontstaan wat ontwikkel het tot die persgroep, Perskor.
• In 1918 dien ’n voorstel voor die Volksraad dat Afrikaans onder Hollands in Artikel 137 van die Unie Grondwet inbegrepe is. Die hele staatsdiens en al sy vertakkinge word vir Afrikaans oopgestel. Dubbelslagtige benadering word in 1925 beëindig toe daar op voorstel van DF Malan ’n einde aan Nederlands gemaak is, en Afrikaans die amptelike landstaal geword het.
• Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Afrikaans oor die Geallieerdes se radio uitgesaai.
• In 1919 het die eerste Afrikanervroueblad, Die Boerevrou, met Mabel Malherbe as redaktrise verskyn.
• Die eerste Afrikaanse proefskrif – Die Sosiale Prediking van Jesus Christus – verskyn in 1921. NJ van der Merwe promoveer hiermee by die Vrije Universiteit Amsterdam.
• In opdrag van die FAK se stigtingskongres in 1929, sien ’n velerlei Engels-Afrikaanse woordelyste die lug, wat Afrikaanse terminologie in bepaalde vakgebiede en nisareas daarstel.
• In 1926 word begin met die onderneming om ’n Afrikaanse woordeboek saam te stel.
• In 1930 verskyn die eerste Afrikaans/Engels tweetalige woordeboek.
• Kultuurorganisasies het ’n belangrike bydrae gelewer op die volgende terreine: die publisering van Afrikaanse musiek soos die FAK Sangbundel (1937); die vestiging van ’n Afrikaanse radiodiens (1937); die reël van kultuurfeeste soos die simboliese ossewatrek (1938) en die Van Riebeeckfees (1952); en die insameling van fondse vir die bou van die Voortrekkermonument en ander erfenisterreine.
• Afrikaans is al van vroeg in die twintigste eeu op grammofoonplate gehoor. In 1931 het die maatskappy, Colombia, bekend gemaak dat byna 55 000 van Chris Blignaut se plate binne die eerste drie maande uitverkoop is. Van sy treffers op die plaat was “Ou Ry-perd” en “O, die donkie”.
• In 1931 het Afrikaans ook sy eerste klankrolprent gekry. Dit was: Moedertjie, ’n 32-minuut lange verwerking van JFW Grosskopf se eenbedryf In die wagkamer.
• Afrikaners soos JD Kestell, BB Keet en Totius was verantwoordelik vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die invloed van die Afrikaanse Bybel op die ontwikkeling kan nooit oorskat word nie.
• Op 27 Oktober 1932 is die eerste uitspraak in Afrikaans in die appèlhof in Bloemfontein gelewer. Regter Toon van den Heever se regsuitsprake kan as letterkundige meesterwerke beskryf word, met sy helderheid van uitdrukking en vloeiendheid van styl.
• Miemie Rothmann, of ook bekend as MER, staan bekend as een van die uitnemendste Afrikaanse prosaïste, ’n vurige stryder vir die bemagtiging van vroue en pleitbesorger vir die armes. As vroueredaktrise van Die Burger het sy nuwe Afrikaanse woorde soos toebroodjie, katjiepiering en bloureën geskep wat vandag nog gebruik word. Sy was die enigste vrou op die Carnegie-kommissie en ook ’n wenner van die Akademie se Hertzogprys.
• Die strewe van NP van Wyk Louw en die ander tydgenote was om Afrikaanse letterkunde en poësie tot dieselfde peil as dié van ander Westerse kultuurvolke te bring. In 1948 het die Universiteit van Utrecht ’n eredoktorsgraad aan Louw toegeken as blyk van die Nederlandse wetenskap se groot waardering vir die ontwikkeling in die Afrikaanse letterkunde.
• Vandag se bekende Ster Kinekor het ontstaan uit die verspreiding van Afrikaanse films. In 1957 is Inrybelange gestig vir die verspreiding van Afrikaanse rolprente met behulp van Sanlam. Later was die maatskappy bekend as STER films. In 1969 het Sanlam al Twentieth Century FOX se rolprentbelange in Suid-Afrika oorgeneem en die rolprentbelange saamgevoeg in ’n nuwe maatskappy, KINEKOR.
• Teen 1959 was Afrikaans gevestig as wetenskapstaal by vier Afrikaanse universiteite. Afrikaans was in die staatsdiens, geregshowe, letterkunde, rolprente en die uitsaaibedryf gevestig.
• Die FAK het in 1959 die Wonder van Afrikaans-feeste gereël waarmee die halfeeufees van die Akademie vir Wetenskap en Kuns herdenk is. Die taalfeeste is van 6 April tot 30 Mei 1959 gevier. Engelsmedium-, bruin en swart skole het ook aan die feesprogramme deelgeneem.
• Die grootste première wat nog in Suid-Afrika aangebied is, was die rolprent Doodkry is min in die Amfiteater van die Voortrekkermonument.
• Die Taalmonument is in 1975, 100 jaar na die stigting van die GRA ingewy. Aanvanklik was baie mense skepties oor die idee van ’n monument vir ’n lewende taal, maar daar was tog soveel steun daarvoor dat die Afrikaanse Taalmonumentkomitee van die Paarl in 1964, in samewerking met die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond, ’n beperkte prysvraag uitgeskryf het vir ’n ontwerp vir so ’n monument. Twaalf argitekte is genooi om ontwerpe voor te lê. Die komitee het die ontwerp van Jan van Wijk van Pretoria aanvaar. Hy het ’n definisie van Afrikaans probeer kry deur gedagtes van Langenhoven en Louw te verbind. Langenhoven het die groeipotensiaal van Afrikaans vergelyk met ’n snel stygende boog, of, in meetkundige taal, ’n hiperboliese kromme. Louw het Afrikaans beskryf as die taal wat die helder Weste en die magiese Afrika met mekaar verbind. Die monument versinnebeeld kragtige groei en spreek van lewe en die voortbestaan van ons taal wat inhoud aan jou lewe gee. Bronsletters op die monument lui: “Dit is ons erns”.
• Afrikaners soos PJ Meyer het ’n ongelooflike rol gespeel om die SAUK, ’n Afrikaanse televisiediens en die Afrikaanse radiodiens regoor Suider-Afrika te vestig. Daarby het hy ’n leidende rol gespeel om ’n Afrikaanse universiteit in Johannesburg te stig.
• In 1966 het die SAUK met Afrikaanse lesse oor die radio begin. Dit is uitgesaai in Engels in Engeland, Wallis, Skotland, Ierland en die VSA; in Frans in Frankryk, België, Luxumburg en Switserland; in Portugees in die Portugese gebiede in Afrika en Portugal; en in Duits in Wes-Duitsland, Oostenryk en Switserland.

Die hoëfunksieprestasies het nie net Afrikaans as taal op feitlik elke lewensterrein gevestig nie, maar Suid-Afrika is in en deur Afrikaans gemoderniseer. Hiermee is die ontwikkelingsteorie dat slegs Engels modernisering en ontwikkeling kan bring ’n finale nekslag toegedien. Vandag het Afrikaans volgens Willem Botha, hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) nagenoeg 1 miljoen woorde. Inskrywings in die woordeboeke is aanduidend minder, aangesien nie alle vorme en samestellings aangeteken word nie. Die WAT staan tans by volume 1 (uit 3) van die letter S. Tot op hede is daar (vanaf A tot die eerste derde van S) ongeveer 220 000 woordeboekinskrywings. Die volledige Oxford English dictionary het 400 000 woorde, sou mens ’n vergelyking wil tref. NP van Wyk Louw beskryf die prestasie treffend: “Maar wat ons nooit moet vergeet nie is dat hierdie verandering van land en landskap as’t ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee, gebrei het; nuwe woorde; nuwe voorstellings en nuwe beelde laat ontstaan het , ou woorde en voorstellings laat verdwyn het, … oor elke riffel en vou van die nuwe wêreldbeeld kon sluit. En so het Afrikaans in staat geword om hierdie nuwe land uit te sê soos geen ander Europese taal nie.”

Die afhanklikheidsteorie
Dié skool het weerstand teen Westerse invloede as basis vir ontwikkeling gebied. Na die Tweede Wêreldoorlog is Afrikalande aangemoedig om bande met Westerse kapitalistiese lande te breek en onafhanklikheid na te streef. Kritici het met reg aangetoon dat voorstanders van die skool met hul politieke dryfvere min bygedra het tot die ontwikkeling van moedertaal en inheemse kulture. Die nuutgevonde staatkundige onafhanklikheid het eerder daartoe gelei dat arm gemeenskappe afhanklik van staatshulp geword het.

Afrikaans het in die fase ook ongelukkig ’n politieke speelbal geword. Dikwels word Afrikaans ongenuanseerd as sondebok uitgesnuffel vir die tragiese gebeure op 16 Junie 1976. Die algemene persepsie is steeds dat die gebeure ’n opstand teen Afrikaans was as gevolg van die Nasionale Party-regering se afdwing van Afrikaans as onderrigtaal in swart skole. Advokaat Louis Pienaar bevind in ’n nugter verslag dat ’n onbuigsame, hofvaardige en stompsinnige burokrasie se toepassing van die taalbeleid beslis ’n aanleidende oorsaak tot die onluste was. ’n Toegeefliker benadering kon die tragedie beslis vermy het. Die huidige regering kan egter kwalik hieroor vinger wys en beskuldigings rondslinger. Die rol van kommunistiese politieke agitators se intimidasie kan ook nie ontken word nie. Pienaar bevind dat die agitators geweet het dat ’n gewelddadige botsing met die polisie op hande was indien hulle met die onwettige optog sou voortgaan. Hulle was “koelbloedig genoeg om weerlose skoliere in die spervuur te lei”, terwyl hulle self in die agtergrond geskuil het. Die tragiese dood van 15 skoliere het ’n nuwe fase van binnelandse onrus en geweld ingelei. Die gebeure het Afrikaans geëtiketteer as ’n apartheidstaal en nuwe momentum gegee aan bevrydingsbewegings se verengelsingsbeleid.

Gemeenskapsgeoriënteerde teorie
Die ontwikkelingsskool wat gedurende die laat 1980’s en vroeë 1990’s ontstaan het, het die fokus op ses belangrike gemeenskapsboublokke geplaas, naamlik:
• gemeenskapsdeelname;
• kapasiteitsbou;
• bemagtiging;
• selfonderhoudendheid;
• volhoubaarheid; en
• sosiale sisteme.

Hierdie konteksspesifieke benadering beklemtoon die waarde van moedertaal, kulturele praktyke en inheemse kennissisteme as ’n metode om gemeenskappe se eiewaarde te herstel. Die gemeenskapsgeoriënteerde benadering herstel die gemeenskap se vermoë om self oplossings te vind. ’n Gemeenskapsgeoriënteerde kultuursensitiewe ontwikkelingsmodel bied ’n sleutel waarmee die uniekheid van elke gemeenskap se stukkie van die armoedelegkaart en unieke uitdagings erken kan word. Op die wyse kan gemeenskappe hul kulturele kapitaal ontsluit en tot voordeel van almal toepas. Kulturele waardes wat klem lê op selfstandigheid, verantwoordelikheid en opleiding in Afrikaans was immers van die kulturele waardes wat onderliggend aan die suksesvolle aanspreek van armoedevraagstukke in die vorige eeu was.

Die feit dat Afrikaans deur die toepassing van staats- en universiteitsbeleid in die engtes beland is nie net kortsigtig nie, maar ’n onreg teenoor elke arm Afrikaanssprekende. Die gevolge is katastrofies vir die miljoene swart, bruin en wit Afrikaansprekendes. Vir arm Afrikaanssprekendes op die Kaapse vlakte, wit plakkerskampe en swart woonbuurtes is Afrikaans soos asemhaal. Om Afrikaans dood te smoor, is om die opleidingsgeleenthede wat hulle tot ’n beter toekoms het doelbewus te ontneem. Taal is immers nie net ’n instrument vir die oordra van inligting nie, maar is die fondament in die ontwikkeling van mense se potensiaal, byvoorbeeld:
• Die mens se kognitiewe ontwikkeling
• Die bevordering van selfverwesenliking
• Die opbou en bestuur van kennis
• Die integrasie van nuwe kennis.

Taal is ook ’n basiese vertrekpunt vir effektiewe dienslewering van die regering op alle vlakke. Deur ’n eendimensionele taalbenadering word die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie net sosio-maatskaplik nie, maar ook kultureel verder verarm. Suid-Afrika sal ’n duur prys hiervoor betaal.

Daar is vir Afrikaanssprekendes ’n toekoms in hul eie taal wanneer die Afrikaanse gemeenskappe vanuit ’n gemeenskapsgerigte tradisie voluit verantwoordelikheid neem om nuwe ruimtes vir Afrikaans in eie instellings te skep. Instellings skep ’n ekonomiese waarde vir Afrikaans en die ruimte vir nuwe hoëfunksieprestasie in Afrikaans. Inisiatiewe om sosio-maatskaplike kwessies aan te spreek, gaan nie slaag as dit nie ’n sterk moedertaalonderbou het nie. Deur Afrikaans kan armoede bestry word, welvaart geskep word en akademiese vooruitgang bevorder word.

NP van Wyk Louw het gesê Afrikaans is ’n broodsaak. Dit is ’n samevoeging van broodnodig en noodsaaklik. Met Afrikaanse geleenthede vir opleiding sal Afrikaanse kinders uit arm gemeenskappe nie net vir hulleself en ander brood kan voorsien nie, maar sal Afrikaans as taal weer asemhaal. Afrikaans is immers ’n taal van hoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon Roos ·

Hierdie is so waar as wat kan kom. Afrikaans is ‘n taal van wonder. Nie net is dit ‘n taal wat in rekord tyd tot rekord hoogtes en kompleksiteit ontwikkel het nie. Dit is nie net die jongste taal in die wêreld nie, maar dit is ook die taal wat homself so diep in die harte van sy sprekers gewurm het, dat dit ongskeidbaar is. Wie ons is is nie net wat ons doen of waar ons bly nie. En Afrikaans is nie net ‘n bykomendheid by wie ons is nie. AFRIKAANS IS WIE ONS IS. Afrikaans is nie net die taal van ons hart nie, dit IS ons hart. Afrikaans is wie ons is as mense. Dit is wie ons is as gemeenskap. Dit is die een ding wat die groot verkeidenheid mense in hierdie land bind, meer as ons stryd teen Apartheid.

Afrikaans is Suid-Afrika. Indien jy Afrikaans vermoor, vermoor jy nie net een groep mense nie, maar vermoor jy die hele land. Om Suid-Afrikaans te wees, is om Afrikaans te wees. Dit is tyd dat ons ons skuld gevoelens oor die verlede afskud. Dit is tyd dat ons vir die wêreld wys dat die politiseering van Afrikaans nie langer gaan deug nie. Dat ons hier en nou sê Afrikaans is my taal, ek is Afrikaans. Dit is ons trou en ons liefde.

Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergte,
Waar die kranse antwoord gee.
Deur ons vêr verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa.
Ruis die stem van ons geliefde,
en hy praat Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.